Die Covid-19-pandemie het kom wys hoe weerloos sommige waardekettings is. Daarom doen ZZ2 sy bes om sy werkmag te beskerm en gesond en veilig te hou sodat die boerdery kan aanhou om kos aan Suid-Afrikaners te voorsien.

“Sonder mense sou die plante waarskynlik heel gelukkig groei, maar jy het mense nodig om die oes in te samel, te verpak en by markte te bring. Sonder werknemers sal die sleutelfunksies, soos produksie, verpakking en verspreiding, nie kan plaasvind nie,” sê mnr. Wiam Haddad, ekoloog en koördineerder van ZZ2 se Covid-19-taakspan.

Toe die boerdery besef die pandemie gaan Suid-Afrika ook tref, het hy onmiddellik begin aanpas om te verseker sy kernbesigheid bly doeltreffend. “Ons grootste doelwit was om produksie, verpakking en die verspreiding na markte lewensvatbaar te hou,” het Haddad tydens ’n aanlyn gesprek, gereël deur die varsproduktebemarkingsvereniging PMA, gesê.

Die onderneming neem sowat 10 000 mense in diens. Tydens die grendeltyd het hy werk aan 6 500 mense verskaf. Die res het verkies om by hul huise ingeperk te wees.

’n Werker by ZZ2 staan gereed met ’n infrarooi-koorspen om werknemers se koors te meet.

KLEIN SPANNE, MIN KONTAK

Haddad het gesê hulle het die onderneming soos ’n boom met verskeie takke begin sien. As een “tak” blootgestel word aan die virus, kan dit maklik “afgesaag” word sonder om die boom af te kap. “Ons eerste stap was om die produksiegebiede in kompartemente op te deel. Elke plaas of pakhuis word as ’n kompartement beskou. Dit laat ons toe om die interaksie tussen mense te beperk en beheer. Ons kan die kans dat die siekte oorgedra word, verminder.”

Hulle het selfs subkompartemente in groot pakhuise geskep. Mense is in kleiner spanne van tien tot vyftien mense opgedeel. Elke span word só bestuur dat die lede nie kontak met ander spanne het nie, selfs al werk hulle in dieselfde ruimte. “Die beginsel is dat iemand wat positief toets vir die virus, minstens twee weke in kwarantyn moet deurbring. Almal met wie hy of sy kontak gehad het, moet ook in selfafsondering gaan sodat die simptome kan ontwikkel of toetsuitslae kan wys die persoon is gesond.

"As iemand in ’n pakhuis dus positief toets, moet die hele pakhuis vir twee weke gesluit word. Daarom het ons op kompartementalisering besluit. In die geval dat iemand positief toets, verloor jy net tien tot vyftien mense op ’n slag wat in afsondering moet gaan. Dit is nie nodig om die hele pakhuis toe te maak nie.”

Daarmee saam het hulle streng reinigingsmaatreëls vir gesamentlike geriewe, soos kombuise en badkamers, neergelê om die risiko dat die hele pakhuis sy deure moet sluit, te verlaag.

ZZ2 se vragmotorbestuurders woon ’n inligtingsessie by om persoonlike gesondheid sowel as die veilige verspreiding van die plaas se vars­ produkte te verseker.

MEESTERPLAN PASGEMAAK

Haddad meen die sistematiese en wetenskaplike roete wat hulle ingeslaan het, het hulle baie gehelp om “Covid-gereed” te raak. “Deur wetenskaplik te dink, het dit ons in staat gestel om die probleme te rasionaliseer en met werkbare oplossings vorendag te kom.”

Die resultaat was die ontwikkeling van tien protokolle wat elkeen ’n nuwe idee of konsep – soos die reiniging van hande, ruimtes en gereedskap, of selfafsondering – bekend stel wat op die boerdery van toepassing is. “Ons kon dit sistematies bekend stel en toe in ’n bedryfsplan verweef wat almal in die boerdery kan gebruik.

"Ons het besef die spesifieke risiko’s van elke afdeling, of dit nou die kwekery, pakhuis of ’n werkwinkel is, verskil. Deur ons bedryfsplan kon elke afdeling sy eie reaksieplan volgens die protokolle ontwikkel. Elke bestuurder het die nodige inligting en kennis gehad om sy eie plan te skryf. Ons het net die beginsels daargestel, maar elkeen kon dit op sy spesifieke werksomgewing toepas.”

Danksy groot beleggings in digitale ontwikkelings die afgelope jare, kon die maatskappy maklik oorskakel na webgebaseerde vergaderings.

SIF DIE INLIGTING

Die boerdery het ook mense die taak opgelê om plaaslike en oorsese inligting oor die pandemie in te win en te bepaal wat tersaaklik is vir die boerdery. “ ’n Mens onderskat die hoeveelheid inligting wat oor die pandemie beskikbaar is. Danksy die taakspan is ons nie oorval met inligting nie, maar het ons ’n seleksie gekry wat ons in die onderneming kan toepas en gebruik,” het Haddad gesê.

Deur konteks-spesifieke inligting aan werknemers beskikbaar te maak, kan hulle mense se onsekerheid en vrese weens die wêreldwye pandemie hokslaan. “Die inligting help dat almal kalm bly en op hul take konsentreer.”

Afstand word op die onderneming se vars­produktemarkte gehandhaaf. Die ruimte word gereeld skoongemaak, mense word aangemoedig om hande te was, ontsmettingsmiddels te gebruik en maskers te dra. Dit is ’n paar van die maatreëls wat ZZ2 reg oor sy boerdery ingestel het.  

HOU WERKERS VEILIG

Kort nadat Covid-19 in Suid-Afrika uitgebreek het, was dit bykans onmoontlik om handreinigers en gesigmaskers in die hande te kry. Die verskaffers kon eenvoudig nie voorbly met die vraag daarna nie.

“Ons moes die nodige hulpbronne in die hande kry sodat mense hulself kon veilig hou en die nodige maatreëls toepas, maar dit was ’n interessante oefening omdat die beskikbaarheid van maskers en handreiniger nogal beperk was. Die befaamde Suid-Afrikaanse vernuftigheid en entrepreneuriese aard het egter gou na vore gekom,” het Haddad vertel.

ZZ2 het ’n klompie vroue in die Mooketsi-gemeenskap gevra om lapmaskers – in die opvallende rooi en geel van die boerdery – te maak. “Ons het ook ’n paar slim mense in ons span gehad wat ’n geleentheid raakgesien het om uit die afvaltamaties 70%-etanol te stook wat as reiniger gebruik kon word. Dit was vindingryke maniere om die struikelblokke met verskaffing te oorkom.”

Daar is ook ’n aantal selfafsonderingsgeriewe op ZZ2-plase ingerig sodat werknemers wat Covid-19-simptome toon, van ander werknemers afgesonder kan word.

Die maat­skappy reik uit na mense in nood deur die verspreiding van kospakkies.

MAAK STAAT OP TEGNOLOGIE

Kommunikasietegnologie het ZZ2 baie gehelp om gladweg aan te pas by die “nuwe normaal”. “As die pandemie ons vyf tot tien jaar vroeër getref het, sou dit baie moeiliker gewees het weens ’n gebrek aan digitale hulpbronne,” aldus Haddad.

ZZ2 het die afgelope paar jaar groot beleggings gemaak in goeie internet- en selfoonnetwerke op sy plase. Die maatskappy het ook seker gemaak sy werknemers snap hoe digitale tegnologie werk. “Al ons bedrywighede het taamlik maklik na digitale formaat oorgeskakel. Dit het baie gehelp.”

Volgens Haddad het al dié stappe, veral goeie kommunikasie en inligtingoordrag, bygedra om ’n sin van gesamentlike verantwoordelikheid te skep. “Ons moet onsself en ons kollegas veilig hou, terwyl ons die doelwit najaag om met produksie voort te gaan.

“Ons oogmerk is om die verskaffingsketting aan die gang te hou ter wille van voedselsekerheid en sodat mense wat nie so gelukkig was soos ons wat kon aanhou werk nie, ten minste kan aanhou eet. Dit is wonderlik om te sien hoe die werknemers verantwoordelikheid aanvaar om hulself en hul kollegas te beskerm.”