In ’n vennootskap met een van die voorste avokado-maatskappye ter wêreld, Mission Produce Incorporated (Mission), verkry ZZ2 nou toegang tot ’n gevestigde avokado-verspreidingsnetwerk wêreldwyd – ook in onder meer Amerika, die wêreld se voorste avokadoverbruiker is.

Mission Produce Incorporated is ’n Amerikaanse maatskappy wat sedert 1983 in die produksie, verpakking, verspreiding en bemarking van Hass-avokado’s spesialiseer en markte in die Ooste, Europa en Noord-Amerika ontwikkel het. Sedert 1993 is maatskappy die wêreldleier in rypmaak-tegnologie. Hy het sy produksiekapasiteit uitgebrei na verskeie plase in Amerika, Peru, Nieu-Seeland, Mexiko en nou ook Suid-Afrika. Volgens mnr. Steve Barnard, uitvoerende hoof van Mission Produce Incorporated, is Suid-Afrika die ideale vennoot vanweë die goeie gehalte van die land se vrugte, die produksietyd en die toegang wat Suid-Afrika het tot markte in Europa en Asië.

Boord tot Bord

“ZZ2 en Mission Produce, albei invloedryke maatskappye, gaan nou saamwerk in Suid-Afrika om die doeltreffendheid van ’n gesofistikeerde waardeketting van die boord tot die bord verder te verstrek,” sê hy.

Die maatskappy bring sy bemarkingskundigheid, omvattende verspreidingsnetwerk en welbekende handelsmerk na die vennootskap, terwyl Core Fruit die logistieke aspekte van uitvoer vanuit Suid-Afrika sal behartig. ZZ2 sal die produksie- en verpakkingskundigheid na die vennootskap bring, terwyl Criterion Africa Partners (CAP) toegang tot landbougrond tot die vennootskap byvoeg. Die vermoë om ’n ekostelsel van deelnemers te vestig is verdere waardetoevoeging wat ZZ2 saam met me. Lindie Stroebel aan die vennootskap sal verskaf.

Stroebel, voormalige hoofbestuurder van die vereniging vir varsprodukte-bemarking (PMA) in Suider-Afrika, is as die hoofbestuurder van hierdie vennootskap in Suider-Afrika aangestel.