Die Suid-Amerikaanse maatskappy besit verskeie plase in Suid-Afrika.

Altesame 120 werkers van San Miguel Fruits Suid-Afrika (SMFSA) en die Sunnybank-pakhuis het 30% van die aandele in die nuut gestigde Thudana-sitrusmaatskappy ontvang. Dit vorm deel van San Miguel se swarteienaarskapskema.

“San Miguel glo in die bemagtiging van gemeenskappe. Dit is hoekom ons in die werknemers in die Sondagsriviervallei belê, die aandele geskenk het en die nuwe aandeelhouers bemagtig met opleiding en ontwikkeling sodat hulle kan verstaan watter verantwoordelikheid dit verg om ’n trustee en direksielid te wees,” sê die maatskappy luidens ’n verklaring.

Mnr. Andries du Preez, bestuurder van SMFSA, sê die inisiatief behels nie net die oorhandiging van grond aan werknemers nie. Die Thudana-sitrusmaatskappy vorm ’n volledige sitruseenheid en die doel is om die gemeenskap op lang termyn op te voed, op te lei en om mense die geleentheid te bied om deel te vorm van ’n volledig funksionerende sitrusmaatskappy.

SMFSA het verlede jaar reeds verskeie beleggings in die sitrusbedryf in Kirkwood gemaak met die doel om swart ekonomiese bemagtiging binne die maatskappy toe te pas. Dít sluit onder meer in ’n 40%-aandeel in die Sun Orange-sitrusplaas, Thudana Fruit, wat vrugte plaaslik bemark.

San Miguel het drie onafhanklike trustees in die Thudana-sitrustrust aangestel om te help met besluitneming en vergaderings en om die begunstigdes by te staan. San Miguel het ook ’n opleidingsprogram en ontwikkelingswerksessies vir die trustees saamgestel om die werkers by te staan in die groot sprong van plaaswerker na direksielid.

Standard Bank is die finansier van die Thudana-sitrusmaatskappy. Hy het ’n aansienlike deel van die koopsom van die pakhuis en plase wat deel van die Thudana-sitrusmaatskappy is, gefinansier.

“Standard Bank is verheug om betrokke te wees by die ontstaan van die Thudana-sitrusmaatskappy,” sê mnr. Nico Groenewald, hoof van agribesigheid by Standard Bank. “Vennootskappe soos hierdie vorm volhoubare en suksesvolle transformasie-inisiatiewe wat tot voordeel is van plaaslike gemeenskappe en die wyer Suid-Afrika.”

Die totale bates van Thudana Sitrus is R200 miljoen.        

 
Thudana Sitrustrust,
Begunstigdes van die Thudana-sitrustrust ontvang hulle aandelepakkette van mnre. Sfizo Buthelezi, Adjunkminister van Landbou, en Andries du Preez, bestuurder van San Miguel Suid-Afrika. Foto: Verskaf

       

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.