Dit is nie vreemd om piesangboerderye in tropiese gebiede aan te tref nie – beslis nie in ’n woestynagtige land nie – maar in die meer gematigde gebiede in Israel word van 4 000 ha tot 5 000 ha piesangs verbou, alles onder net.

“Ons boer al byna honderd jaar met piesangs in Israel, maar twee dinge het ’n groot verskil gemaak om die piesangbedryf ’n tree of wat nader te bring aan die trope, waar dit eintlik hoort,” vertel mnr. Ziv Charitt, landboukundige by Netafim wat spesialiseer in boomgewasse en wingerd.

Drupbesproeiing het sowat 30 jaar gelede in Israel ontstaan, en meer onlangs het netstrukture nuwe lewe in die bedryf geblaas. Hoewel dié twee praktyke boere oneindig baie gehelp het en daar boonop die voordeel is dat die gebied betreklik siektevry is, is dit steeds nie maklik om met piesangs te boer in Israel nie.

Ryp bly ’n bedreiging, boere lewer aan ’n geslote mark, en grond- en watergehalte is ’n voortdurende stryd.

Die plante word in matte (twee tot drie plante per mat) geplant.

Boonop dra plante eers ná 10-14 maande vrugte, terwyl dit in meer tropiese gebiede net 8-10 maande duur, volgens Ziv.

OPLOSSINGS GESOEK

Benewens die intensiewe en vernuwende produksiestelsels wat Israel se landbou kenmerk, wat veral voortspruit uit die land se beperkte hulpbronne (spesifiek water en bewerkbare grond), is nog ’n belangrike kenmerk die noue samewerking met navorsingsinstellings.

Daar is een in byna elke streek om vir dié streek se unieke probleme oplossings te vind. Hierdie samewerking help boere om probleme die hoof te bied.

“Die Zemach-proefplaas is verantwoordelik vir gewasse in hierdie gebied (om die See van Galilea). Boere betaal die heffings, want hulle weet die volgende deurbrake gaan nie sonder groot moeite kom nie.”

Een so ’n proef wat tans by Zemach uitgevoer word, is om ’n klein ontsoutingsaanleg op die plaas te gebruik om die besproeiingswater uit die meer te ontsout.

“Piesangs hou van goeie water, en ons reken ons kan ons besproeiingsvlak met 20% verlaag as ons water van ’n swakker gehalte kan ontsout voor ons besproei. Dis egter duur en dus nie sommer ’n praktyk wat boere op die plaas gaan toepas nie, maar dit kan ons help besluit of ons in die toekoms in ’n ontsoutingsaanleg en opgaardam vir die gebied wil belê.”

’n Ander proefneming is om piesangplante in potte te vestig. Israel se bure Jordanië en Libanon kweek ook piesangs en het las van Phytophthora, wat beteken dit kan na Israel versprei. Die Israeliese piesangbedryf geniet een groot voordeel, naamlik dat dié gewas in die droë toestande nie las het van ernstige siektes, soos Phytophthora, Panamasiekte en blaarsiektes, nie.

Wanneer Ziv gesels oor die gehalte van die grond waarin hulle piesangs verbou, gebruik hy ’n kragwoord om te beskryf presies hoe sleg dit is.

“Dis baie jong grond met geen organiese materiaal nie.” As voorkomende maatreël probeer hulle nou om plante in vulkaniese as uit die Golan- hoogland en perliet te laat groei.

“Ons het reeds swak grond. As ons boonop hierdie siektes moet kry . . .” Tans ondersoek hulle of ’n vlak of ’n dieper stelsel die meeste sukses gaan hê. Voorlopige resultate dui op die dunner en dieper stelsel, want hoewel piesangplante ’n vlak wortelstelsel het, is die dreinering beter as in die wye, vlak stelsel.

Twee tot drie drupperlyne, met druppers wat 300 mm tot 500 mm uit mekaar is, lewer 1,6 liter water per uur. Hulle dien sowat 10 mm per dag toe. Dié hoë koers help om soute uit die grond te was.

WATERDOELFTREFFEND

Piesangproduksie vind hoofsaaklik in die meer gematigde klimaatstreke langs die Mediterreense kus en in die gebied langs die See van Galilea plaas, waar dit ietwat koeler is. Die temperatuur kan tot 32 °C in die somer styg en in die winter kan dit so koud as 1-2 °C raak (en in ryptoestande tot -3 °C tot -4°C).

Die humiditeit is 10-15% meer as in die res van die land. Piesangs begin swaar kry as dit koeler as 6 °C is. Voorheen het die vallei se boere op vloedbesproeiing staatgemaak. Dié om die See van Galilea kry sowat 200 mm reën, maar boere het water uit die meer gebruik om mee te besproei.

Die vloedbesproeiingspraktyke het van 10 000 mm tot 15 000 mm per ha per jaar vereis. Danksy drupbesproeiing het dit afgekom tot 3 000 mm per ha per jaar. Die water uit die See van Galilea kan “soet, drinkbare water” wees, maar dit bevat 250 tot 320 dele chloried per miljoen dele.

Die afgelope paar jaar loop die gebied ook onder droogte deur, wat die meer se water laat verbrak het.

’Ná baie proewe het dit geblyk die beste plan vir piesangboere is om meer te besproei as die evapotrans pirasiekoers — ons werk op ’n gewasfaktor van 1,3 tot 1,5 om die soute uit te loog.’

“Die water se soutinhoud het sodanig gestyg dat die piesangplante nie meer geweet het wat om daarmee te doen nie! Ná baie proewe het dit geblyk die beste plan vir piesangboere is om meer te besproei as die evapotranspirasiekoers. Ons werk op ’n gewasfaktor van 1,3 tot 1,5 om die soute uit te loog.”

Die netstrukture help darem om evapo- transpirasie ’n bietjie te beperk. Volgens Ziv word daar die afgelope tyd ook proewe gedoen om te kyk of die logingspraktyk verminder kan word, want dit plaas ’n groot las op boere in ’n land waar water skaars en duur is.

“Piesangplante is geneig om te ‘loop’, daarom maak oorhoofse of sprinkelbesproeiing baie meer sin, maar ons het nie water nie en die soutwater sal boonop die blare beskadig.” Die antwoord was om twee laterale druplyne langs die bome te plaas wat oor jare saam met die bome verskuif kan word.

’n Klein ontsoutingsaanleg op die proefplaas. Die oogmerk is om te kyk of water van ’n beter gehalte ie besproeiingskoers kan verlaag.

’n Derde laterale lyn word soms in die middel geplaas. Die druppers, 300 mm tot 500 mm uit mekaar gespasieer, lewer 1,6 liter water per uur. Misstof word saam met die water toegedien. “Ons volg ’n hoë besproeiingskoers, sowat 10 mm per dag, elke dag.”

Hoewel 70% van Israel se landbouprodukte met behandelde water (herwonne water) besproei word en 95% daarvan deur die regering se waternetwerk verskaf word, sien jy bykans nêrens pompe in Israel nie. Dit is omdat die water onder hoë druk (600-800 kPa) verskaf word.

“In Israel kos dit baie geld vir water en druk. Vars water kos sowat $0,50/m³ en ontsoute water sal waarskynlik dubbel soveel kos.”

’n Proef om piesangs in potte met vulkaniese as en perliet te verbou. Tans lyk dit of die nouer, dieper potte meer suksesvol gaan wees. Hoewel piesangplante se wortels vlak is, is goeie dreinering belangrik. Tans het die bedryf nie probleme met grondgedraagde siektes nie, maar aangesien dit in buurlande voorkom, is dit waarskynlik ’n kwessie van tyd voor dit ook in Israel posvat.

ALLES ONDER NET

Waterdoelftreffendheid het selfs verder verbeter sedert netstrukture hul verskyning gemaak het. Deesdae is ooplandverbouing iets van die verlede. Die netstrukture bied nie net beskerming teen wind nie, maar verlaag ook die temperatuur en verhoog die humiditeit in die piesanghuise.

Dit skep ’n baie meer ideale mikroklimaat. “Dit het ’n merkbare verskil aan die vrugte se gehalte gemaak en waterverbruik laat afneem tot 1 500 mm per ha per jaar.” Die nethuise, hoofsaaklik die wit kristalkleur wat 20-25% skadu bied, word voor aanplanting opgerig.

Op die vraag of die nette beskerming teen ryp bied, het Ziv gesê nette met ’n skadufaktor van 11-20% help nie, maar groentenette wat aluminium bevat, help wel om die straling te beperk.

“Die resultate is uitstekend, maar dis ’n duur oplossing. Ons doen nou proewe met nette met ’n hoër skadufaktor. Nette met ’n skadufaktor van 25% werk goed om die straling te blokkeer wat die dag ná ryp kom. Die oes kry dus net ’n ligte bloukol pleks van ’n taai klap. Die resultate lyk belowend, en aangesien die boere reeds nette gebruik, kan hulle netsowel die regte soort gebruik.”

Die nethuis dien sommer ook as opleistelsel (die piesangblom en -tros kan maklik 20 kg weeg, daarom word dit aan die netkabels vasgebind). Israel se piesangboere glo aan wye spasiëring (sowat 4 m tussen rye), maar hulle plant drie plante op ’n mat, wat ’n hoë plantestand beteken.

Die landboukundige mnr. Ziv Charitt spesialiseer in boomgewasse en wingerd.

BEMARKING

Israelse boere se gemiddelde produksie beloop 60-70 t/ha (teen minder as 50 t/ha raak dit onekonomies om met piesangs te boer in Israel). “Reg oor die wêreld is piesangboere tevrede met ’n opbrengs van 30-40 t/ha, maar ons speel gelyk met 50 t/ha.”

Dit laat die vraag ontstaan of dit die moeite werd is om met piesangs te boer.

“Tans lyk avokado’s na een van die beste besighede ter wêreld, en hier is ook poten- siaal daarvoor, veral as dit op die regte terrein verbou en teen ryp beskerm word. Mango’s en lietsjies maak ook goeie geld. Solank jy egter bereid is om die situasie te bestuur, kan jy ’n belegging in die piesangbedryf aanpak, maar gaan met oop oë daarin,” maan Ziv.

Weens die ongunstige klimaat-, water- en grondtoestande is Israeliese piesangs heelwat kleiner as dié van mededingers in lande soos Indië, die Filippyne, Brasilië en selfs Suid-Afrika.

“Die piesangmark in Israel is geslote, wat beteken piesangs mag nie ingevoer word nie. Dit gee aan die boere ’n buffer, want niemand kan hul mark steel nie. Die inkomste van ’n piesangboer word egter deur opbrengs en gehalte bepaal,” sê Ziv.

Volgens Fresh Plaza is die gemiddelde piesangverbruik in Israel teen sowat 15 kg per jaar ietwat hoër as in die res van die wêreld (in die Europese Unie wissel dit van 1 kg tot 10 kg), wat beteken die mark is taamlik aantreklik.

“Ons het nie mededinging in die piesangbedryf nie, daarom het ons nie probleme soos Mosambiek wat Suid-Afrika se piesangbedryf doodgemaak het nie.”

Die nethuise se kabelstelsel dien sommer ook as opleistelsel vir die piesangplante.

Piesangboere het egter ander vrese. Fresh Plaza berig die uitvoer van organiese piesangs het sedert 2008 toegeneem, maar Ziv vertel uitvoerboere geniet nie aldag ’n goeie reputasie in Israel nie. Hulle word as die vyand gesien, want daar bestaan ’n gevoel dat hulle “ons water, waarvan ons nie eens genoeg vir onsself het nie, uitvoer.”

In so ’n geslote bedryf beteken ’n goeie produksiejaar noodwendig swakker pryse vir boere. “Die goeie jare vir boere is dus eintlik die jare waarin ons ryp kry, want hulle verseker hul oes daarteen,” sê Ziv.

Die afgelope sewe jaar het ryp egter al hoe meer gereeld voorgekom, wat veroorsaak het dat boere se premies hand uitgeruk het en versekeraars onwillig raak om oesversekering te verskaf.

“Die rypsituasie is ’n groot bron van kommer vir piesangboere. As dit so aanhou, wie gaan hul inkomste verseker?” Maar soos verskeie Israeli’s gesê het: In dié land bestaan daar nie probleme nie, net geleenthede. En ook daarvoor sal hulle ’n oplossing vind.

Ons was daar!

Lucille Botha van Landbouweekblad het onlangs Israel besoek saam met die besproeiingsmaatskappy Netafim. Hulle het besoek gebring aan verskeie plase, navorsingstasies en die Agritech-skou in Tel Aviv

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.