“Inmaakprodusente sal in die komende jaar moet balanseer, herrangskik en planne maak,” het hy op die vereniging se jaarvergadering op Worcester gesê. In die kontrak, wat nog gefinaliseer moet word, is daar “redelike sekerheid” dat die situasie ten opsigte van appelkose en pere soortgelyk aan die ou langtermynkontrak gaan wees.

In die geval van perskes gaan die Langeberg en Ashton Vrugte-groep van verwerkers die tonnemate wat hulle gaan inneem, verminder. “Dit kan beteken dat 10 000 ton tot 15 000 ton perskes nie by die kontrak ingesluit is nie. Gradering ten opsigte van vruggrootte sal baie strenger toegepas word. Ons weet ook nog nie hoe die betaling sal wees nie, maar ons gaan vermoedelik R400 tot R900 per ton minder vir perskes kry.”

20 jaar-kontrak

Victor sê die langtermynkontrak was ’n hernubare (rolling) kontrak oor 20 jaar, wat bepaal het dat enige van die partye uit die kontrak kon tree op voorwaarde dat hulle drie jaar voor die tyd kennis gee. “Die verwerkers het gesê hulle wil ’n nuwe kontrak hê. Ons het vir twee jaar onderhandel, maar kon nie tot ’n vergelyk kom nie. Hulle sê hulle het nie ’n mandaat van hul hoofkantoor om ’n nuwe langtermynkontrak te sluit nie.”

Die IPV gaan voort om oor ’n langtermynkontrak te onderhandel omdat hul produk ’n langtermynproduk is wat nie net aan- en afgeskakel kan word nie, sê Victor.

In sy voorsittersrede het mnr. Anthony Dicey gesê die vereniging se rol word dikwels geringgeskat omdat mense dikwels nie weet wat dit doen nie. “Ek dink ons sou slegter daaraan toe wees sonder die IPV. Ons het jare se ondervinding en begrip vir die bedryf en is op plase om te bly. In die fabrieke wissel die werk baie en word net ’n suiwer besigheidsbenadering gevolg.”

Dicey sê die vereniging het die beste kundigheid om graderingsregulasies of minimum residuvlakke van landbouchemiese middels in vrugte te bestuur.

Volgens hom veroorsaak die opskorting van die langtermynleweringskontrak groot rimpelings.

Dicey het gewaarsku dat die bedryf dit nie kan bekostig dat ontledings één oorskryding van minimumresiduvlakke aan die lig bring nie. “Dit help nie jy spog met jou spuitprogram by jou buurman om die braaivleisvuur nie. As hulle daardie blik in Japan oopmaak en iets kry wat hulle nie wil sien nie, maak jy ons hele bedryf toe. Ons kan nie bekostig om dit te doen nie. Maak seker julle volg die spuitstofaanbevelings tot in die kleinste besonderhede.”

Verwerkers maak verlies

Dit gaan nie juis beter met vrugteverwerkers nie. Volgens die Johannesburgse Effektebeurs se nuusdiens (SENS), toon Tiger Brands, wat Langeberg en Ashton Foods (LAF) besit, se syfers vir die halfjaar tot 31 Maart dat dié afdelings die maatskappy se syfers kwaai beïnvloed het.

Weens ’n gedempte vraag na ingemaakte vrugte en druk van mededingende pryse, het die LAF se inkomste met 23% gedaal tot R639 miljoen. Die uitgerekte droogte in die Wes-Kaap het boonop die gehalte en beskikbaarheid van vrugte benadeel. Al die faktore het daartoe bygedra dat die LAF in die tydperk ’n bedryfsverlies van R72 miljoen behaal het.