Onder sy leiding het die plaas opnuut sy klem op Chardonnay laat val en lonende nuwe markte ontwikkel.

Vandat mnr. Johann De Wet (35) sy verstand gekry het, het hy geweet hy gaan eendag op De Wetshof boer, soos sy pa en oupa voor hom. “Ek het nooit daaraan gedink om iets anders te doen nie,” vertel Johann.

Dié wynboer van Robertson is onlangs as Agri Wes-Kaap se Jongboer van die Jaar aangewys. In 2006, ná sy studies en ’n paar werksgeleent- hede in die buiteland, is sy droom toe bewaarheid.

Maar ondanks die feit dat hy reeds van jongs af deur sy bekende ouers, Danie en Lesca, aan die wynbedryf en die familiebesigheid blootgestel was, moes Johann die binnewerkinge van De Wetshof eers deeglik leer verstaan om hom voor te berei vir sy huidige rol as uitvoerende hoof van die onderneming.

Hulle boer met sowat 200 ha wingerd in die Robertsonvallei, waarvan Chardonnay ’n belangrike deel uitmaak.

“Ek het elke twee jaar in ’n ander afdeling van die besigheid gewerk om ’n gevoel vir die plaas en handelsmerk te kry,” vertel Johann. Danie en Lesca het ’n internasionaal bekende wynonderneming gevestig wat sinoniem is met Chardonnay, en onder hul bestuur het De Wetshof verskeie bekroonde wyne opgelewer.

Die plaas beslaan vandag sowat 200 ha wingerde en hulle pars ongeveer 2 000 ton druiwe. Die egpaar se bydrae tot die plaaslike en internasionale wyntoneel is ook al wyd geboekstaaf. Hoewel Johann groot skoene het om vol te staan, het hy ’n nuwe uitkyk na dié gevestigde handelsmerk gebring, sonder om aan die hart en konteks van die onderneming te karring.

Chardonnay kraai steeds (of nou veral) koning. Hy deel sy pa se liefde vir Chardonnay en is vasbeslote om dié kultivar tot selfs hoër hoogtes te neem.

Mnr. Johann de Wet (links) saam met sy pa, Danie, en broer, Peter.

“Tans is Chardonnay die Suid-Afrikaanse witwynkultivar wat die beste pryse ter wêreld behaal en die hoogste lofbetuigings deur kritici ontvang. Ek dink Chardonnay se toekoms is blink en dit gaan nog die fokuskultivar (wit) vir Suid-Afrika word.”

Hy skenk baie aandag aan hul reeks van vyf Chardonnays en het onder meer baie moeite gedoen om die verpakking op peil te bring. Hy het ook hard gewerk om die Amerikaanse en Russiese mark vir De Wetshof te ontsluit.

Dit is tans die plaas se snelgroeiendste markte. Die oplewing van Chardonnay op eie bodem sowel as oorsee maak hom baie opgewonde. “Die gehalte van Suid-Afrika se Chardonnays was nog nooit beter as nou nie. Gehalte help om ons beeld te bou, daarom kan die hele wynbedryf baat vind by die goeie reputasie van ons Chardonnay.”

FAMILIEBOERDERY WAT WERK

Johann meen ’n familieboerdery is van die beste en sterkste ondernemingsvorms wat bestaan – ás dit werk. Wat in ’n familieboerdery se guns tel, is dat besluitneming vinnig geskied en dat elke familielid ’n natuurlike aanvoeling vir die onderneming het omdat hy of sy elke faset daarvan verstaan.

“Maar dis nie altyd maklik nie. Elke familielid moet ’n funksie vervul in die besigheid en waarde tot die ketting toevoeg. Dis ononderhandelbaar. Daar is slegs plek vir familielede as hulle die nodige funksies kan vervul.”

Die imposante proelokaal en administrasiegebou op De Wetshof. Dis ’n replika van die Koopmans- De Wet-huis in Strandstraat, Kaapstad.

Op De Wetshof het albei generasies besef die tyd het aangebreek om die stokkie oor te gee – nie te vroeg nie, maar toe Johann en sy broer, Peter, genoeg ervaring gehad het, het Danie en Lesca nie in hul pad gestaan om die leisels te begin oorneem nie.

“Gelukkig het almal by ons verstaan dat die oorgang moet gebeur. Hoe meer ons (Johann en Peter) betrokke geraak het en gewys het ons harte is in die plaas en die handelsmerk, hoe makliker was dit vir ons ouers om met geruste harte te onttrek.” Hul ouers se sterk leierseienskappe en wye netwerke was ’n groot aansporing vir die broers.

“Jy word in sekere geselskap groot en word aan ’n deel van die bedryf blootgestel wat min mense sien. Jy leer dus van jongs af om die bedryf goed te verstaan.” Groot geeste in die wynbedryf, soos Johan Krige van Kanonkop en Neil Ellis van Neil Ellis Wyne, is huisvriende van die De Wets, en Johann kon gereeld by hulle kers opsteek.

“Al wat ek kan doen, is om te bou op dit wat my ouers reeds staangemaak het. Hopelik kan ek daarop verbeter op ’n manier wat my persoonlikheid pas, maar steeds getrou is aan die besigheid se identiteit.”

Oor die rol wat die jonger geslag in familiebesighede behoort te speel, sê hy: “Jong boere eksperimenteer makliker, maar dit bly uiteraard belangrik om die vorige generasie te betrek by wat jy doen. Dit help om binne sekere riglyne te bly wat reeds aan jou bekend is. Ons het vars idees en kan die handelsmerk se plek in ’n veranderende wêreld met die nodige oopkop-buigsaamheid sien, maar ons bly steeds getrou aan die gevestigde handelsmerk en waardes.”

Sy ouers was nie sy enigste mentors in die bedryf nie.

“Mense wat vir my as ’n jong man baie beteken het, is Jean Engelbrecht van Rust en Vrede en Emile Joubert (onafhanklike wynskakelman en -skrywer) met bemarking. Op die plaas was dit Francois Viljoen van VinPro en Phil Freese, ’n Amerikaanse wingerdboukundige. Hulle het altyd vir my inligting en die nodige perspektief gegee, en ook geduld gehad met my idees! Daar is natuurlik ook ikone, soos Johann Krige, Neil Ellis, Duimpie Bayly en Anthony Hamilton Russell. Hulle is mense by wie elke jong wynboer iets kan leer.”

Johann saam met sy vrou, Gera, en hul seuntjie, Daniel.

WEET NIE ALLES NIE

Die afgelope bykans 12 jaar het Johann al baie reggekry by De Wetshof, maar hy meen dit is sy vermoë om die beste mense in elke afdeling van die onderneming te betrek, wat die grootste invloed gehad het.

“Net soos elkeen van ons Chardonnays op ’n eie terroir konsentreer, so vind ek mense met die nodige en spesifieke vaardighede vir elke pos. Ek delegeer dus. Tans werk dit goed omdat ek die regte mense in posisies geplaas het waar hulle waarde toevoeg.” Hy beskou homself as iemand wat goed kan luister en (goeie) raad ter harte neem.

“Hoe ouer ’n mens word, hoe meer geneig is jy om – anders as wanneer jy jonger is – te besef jy weet nie alles nie. Ek vul my tekortkominge aan deur raad te vra en na ander te luister.” As Johann egter self ’n eienskap moet uitsonder wat hom suksesvol maak, is dit sy passie vir en lojaliteit aan die Suid-Afrikaanse wynbedryf.

“Ek is behep met Suid-Afrikaanse wyn en is baie bevoorreg om deel te wees van die bedryf.”

Johann (links) saam met mnr. Danie Morkel, wynmaker, in ’n wingerd op die plaas. Een van Johann se sterk punte is om die regte mense in die regte posisies aan te stel.

WYNPRYSE EN BEELD

Wat die probleme van sy generasie betref, reken Johann hy en sy eweknieë sal moet sorg dat wynboerdery finansieel volhoubaar bly.

“Suid-Afrika sal eenvoudig wêreldwyd beter pryse vir sy produkte moet verdien. Wanneer dit gebeur, sal baie ander dinge regkom. Daar sal byvoorbeeld meer geld wees vir bemagtiging. Tans word wingerde ook nie hervestig nie, want dit maak nie finansiële sin vir die boere nie. Dit moet verander.

“Te veel Suid-Afrikaanse wyn word in groot maat uitgevoer teen verspot lae pryse. Suid-Afrika se botteluitvoer groei, maar net in die goedkoop kategorie. Ons wyne word dus as cheap and cheerful beskou, wat nie die geval is nie. Met so ’n houding teenoor ons produkte kan die wynbedryf nie groei nie. Cheap het nog nooit iemand in die bedryf cheerful gemaak nie!”

Voorts word wynbemarkers se lewe moeilik gemaak deur die Suid-Afrikaanse politiek en die gebrekkige ondersteuning van die Regering se kant af aan die landbou.

“Geen ander landbouproduk word so sterk aan die reputasie en beeld van ’n land gekoppel as wyn nie. As dit polities onstuimig en ongunstig raak, raak dit ons regstreeks.

“Die Regering behoort in die wynbedryf te belê en ons op die wêreldmark te help. Al die ander lande (met wie ons meeding) kry groot inspuitings van hul regerings om generiese bemarking te doen. Ons kry niks nie. Die ander lande kry dus eintlik ’n premie vir hul wyn, wat beteken hulle het meer geld om in hul besighede te belê.”

Johann vertel hy was nog op laerskool toe hy die eerste keer gehoor het iemand vra hoe Suid-Afrika se beeld en reputasie in die buiteland versterk kan word, juis omdat ’n goeie beeld so belangrik is vir ’n uitvoerbedryf.

“Vandag lyk dit nie of ons al die antwoord gevind het nie. Almal van ons wat na die buiteland reis of wyn na die internasionale mark stuur, moet daarvan bewus wees dat jy met elke bottel wyn en elke afspraak verantwoordelik is vir die beeld van Suid-Afrika. Dis ’n enorme verantwoordelikheid.”

Die bekroonde sjef Jan Hendrik van der Westhuizen (links) en Johann tydens die vorige Celebration of Chardonnay, wat op De Wetshof aangebied word.

MOET MUNT SLAAN UIT GEHALTE

Johann sê dit is vir hom moeilik om byvoorbeeld met die redakteur van die gesaghebbende wyntydskrif Decanter oor die beeld van Suid-Afrika te gesels, terwyl die land soveel goedkoop wyn maak.

“Ek dink egter organisasies soos die Cape Vintner Classification (CVC), ’n groep produsente in die premiemark wat hul beeld en wyn saam bemark, kan ’n rol speel en die situasie help verbeter.” Hy is oortuig van die gehalte van Suid-Afrikaanse wyn – dit is vergelykbaar met goeie Boergondiese en Bordeaux-wyn.

“Maar dit verdien nie ’n fraksie van daardie wyn se prys nie. Beeld, reputasie en fokus – dís wat tel. Wie wil ons wees en hoe wil ons hê moet die wêreld ons sien? Ondanks al die internasionale publisiteit, al die wyn- skoue wat die land regoor die wêreld aanbied en die uitmuntende wyn wat ons maak, het die totale uitvoerwaarde van Suid-Afrikaanse wyn gekrimp. Ons het so baie om mee te werk. Ons moet net munt slaan daaruit en die Regering se hulp inwin.”

Oor die onsekerheid wat die Regering by boere skep, sê Johann: “Dit raak baie moeilik om te beplan en die regte stelsels gereed te kry as die politici voortdurend die riglyne en doelpale verskuif. Al wat ’n mens kan doen, is om seker te maak jy pas die beste praktyke op jou plaas en in jou kelder toe sodat geen vinger ooit na jou gewys kan word nie.”

Hy glo nie daaraan om op sy louere te rus nie. Sy filosofie is juis dat ’n mens altyd kan verbeter op wat jy al gedoen het en nooit moet dink jy het nou alles bereik nie. “Môre is daar weer ’n nuwe probleem wat met ’n langtermynvisie getakel moet word. Wat wil ek nog doen? Ek wil nog meer klem op Chardonnay laat val en myself vestig as ’n wêreldleier met dié kultivar.”

‘Hoe meer ons betrokke geraak het en gewys het ons harte is in die plaas en die handelsmerk, hoe makliker was dit vir ons ouers om met geruste harte te onttrek.’