TEGO Plastics in Brackenfell is op Maandag 16 Maart amptelik bekend gestel.

Mnr. Sean Walsh, uitvoerende hoof van Kaap Agri, sê die bekendstelling van TEGO is in pas met Kaap Agri se strategie om sy reeks produkte te diversifiseer en meer waarde aan sy landbouklante te bied. “Ons het besef ons kan produsente help met hul probleme weens die beperkte beskikbaarheid van nuwe kratte en produk-opsies.”

Hierdie probleme sluit in skade aan produkte weens swak lugvloei in die kratte, vrugte wat kneus omdat die binnekant van die krat nie ideaal is nie, sonskade en die versoenbaarheid van kratte met vurkhysers en pallet-domkragte. Boonop is nuwe kratte skaars. Daarom moet produsente dikwels tevrede wees met ou kratte wat vrugte kan beskadig.

TEGO-kratte se binnekant is gladder om kneusing te help voorkom. Dit het genoeg ondersteuning sodat dit nie inval nie en dit het unieke afloopgleuwe wat tot beter dreinering en ventilasie lei.

Mnr. Edward Smith, uitvoerende bestuurder van TEGO, sê: “Die vervoer van vrugte of groente van die land of boord tot in die pakskuur is waarskynlik een van die belangrikste dele van die boerderyproses. Die verskil tussen ’n verlies van 6% en 10% weens kneusing of hitteskade is enorm. Dit kan ’n groot verskil aan jou wins maak.”

Ultramoderne robotika gebruik

Die kratte word met ’n inspuiting-gietproses vervaardig waarvoor ultramoderne robotika en masjinerie nodig is. “Een van die grootste inspuiting-gietprosesmasjiene wat wêreldwyd beskikbaar is, is vir hierdie doel bekom,” lui ’n verklaring.

Smith sê gesmelte plastiek word in ’n vorm ingespuit. Wanneer dit verhard, neem dit die fatsoen van die vorm aan.

Hoewel die aanleg aanvanklik voedselgraad-grootmaatkratte vir die landbou sal vervaardig, is daar ook ’n geleentheid om ander produkte te produseer.

Die kratte is eksklusief beskikbaar deur Pakmark- en Agrimark-winkels. Daar is tans twee kratte beskikbaar. Die TEGO Premium 2-skid-krat kan van al vier kante af met ’n vurkhyser en van twee kante af met ’n pallet-domkrag opgetel kan word. Die TEGO General Purpose 8-Foot-krat kan van vier kante af met ’n vurkhyser of ’n pallet-domkrag opgetel word.

Kaap Agri kratte, Edward Smith, Sean Walsh
Mnre. Edward Smith en Sean Walsh, onderskeidelik uitvoerende bestuurder van TEGO en uitvoerende hoof van Kaap Agri, by die inspuiting-gietprosesmasjien. Dis die grootste een wat wêreldwyd beskikbaar is. Foto: Verskaf