’n Gebrek aan doeltreffenheid by dié hawe is ’n struikelblok wat reeds in Desember 2019 deur die departement van ekonomiese ontwikkeling en toerisme uitgewys is, en onlangs weer hoofbrekens vir veral uitvoerders van vars produkte veroorsaak het.

Die departement het vergader met verteenwoordigers van die logistieke ketting, asook verteenwoordigers van Transnet, Navis, die SAID, verskepingsmaatskappye en die Stad Kaapstad, om die grootste oorsake van opeenhopings by die hawe te bespreek.

Volgens Tru-Cape het die vertragings wat reeds verlede jaar uitgewys is, intussen weens die Covid-19-pandemie vererger. Die maatskappy moes alle moontlik opsies, onder meer die gebruik van padvervoer wat met bykomende koste en risiko’s gepaardgaan, benut om hul vragte na ander hawens te neem.

Mnr. Roelf Pienaar, besturende direkteur van Tru-Cape, sê vertragings by die hawe is nie die enigste probleem nie. “Die beskikbaarheid van verkoelde skeepsvraghouers, veranderende skedules wat tot gevolg het dat sommige verskepingsroetes Kaapstad soms oorslaan, en die klimaat wat altyd ’n faktor met verskeping is, is ook deel van die probleem.”

Hy sê Tru-Cape het alles moontlik gedoen om te verseker dat sy produkte die mark betyds bereik.Pienaar sê ’n tarief word jaarliks vanaf Augustus by die uitvoer van appels en pere gevoeg wanneer die seisoen in die Noordelike Halfrond verander en vrugte weer plaaslik beskikbaar is. “Om ons produkte voor die instelling van dié tarief by hul bestemming te kry, het ’n noemenswaardige uitwerking op ons winsgewendheid en die inkomste van ons produsente.

“Ons onderskeie spanne is voortdurend in gesprek met Transnet, die verskepingsmaatskappye, die Sitruskwekersvereniging en die varsprodukte-uitvoerdersforum (FPEF). Die vermindering van arbeid en ander faktore het die doeltreffendheid van die hawe met ’n verdere 30% verminder.”

Mnr. Werner van Rooyen, bedryfsbestuurder van FPEF, sê daar is belangrike lesse wat nou geleer kan word. “Ons moet ons toespits op private-openbare vennootskappe by Suid-Afrikaanse terminale, veral by die Kaapstad-hawe. Dit sal nie net voordelig vir die private sektor en ondernemings in staatbesit wees nie, maar ook die ekonomie as geheel. Gemeenskappe en verbruikers sal baat vind by verbeterde doeltreffendheid.”