“Ons wou bepaal wat dit vir die wyn beteken en wat die waarde daarvan is om ’n verwysing na die ouderdom van die wingerd op die bottel te plaas,” sê mnr. Jonathan Steyn van die sakeskool aan die Universiteit van Kaapstad. Die studie is in 2017 onderneem, voor die Ou Wingerd-projek ’n spesiale sertifiseringseël vir wyne wat uit druiwe van erfeniswingerde gemaak word, in Mei verlede jaar bekend gestel het.

Die Suid-Afrikaanse definisie vir ’n ou wingerd is ’n wingerd wat 35 jaar of ouer is. Op die Pinotage-assosiasie se jaarvergadering op Neethlingshof buite Stellenbosch, het Steyn aan produsente verduidelik dat hulle die data van 159 wyne wat op die Wine-Searcher-platform gelys is, bestudeer het. Dié wyne verwys almal na die ouderdom van die wingerd op die etikette voor of agter op die bottel, en/of in die bemarkingsmateriaal.

Die platform het ’n 100-punt-skaal waaraan die gehalte van ’n wyn gemeet word. “Die bevindings toon dat die gehaltemetings die belangrikste invloed op die prys van ouwingerd-wyne gehad het, met ’n premie van tot R66,57 vir elke punt wat die wyn op Wine-Searcher se 100-punt-skaal behaal het.”

Ouwingerdvariëteite van wyne van Suid-Afrikaanse oorsprong, soos Pinotage, kan selfs ’n beter premie van R330, 09 per bottel behaal. Gebiede soos Stellenbosch, wat bekend is vir wyne van ’n hoë gehalte, kan ’n verdere premie van tot R77,37 per bottel behaal.

Volgens Steyn kan die prys van die wyn vir elke jaar van die wingerd se ouderdom met R3,46 styg.

Hy sê dit was interessant om te let dat wyne waarvan die ouderdom van die wingerd op etikette voor op die bottel aangedui is, swakker gevaar het as wyne waarvan die inligting op die agterste etikette aangedui is, of as deel van die beskrywing ingesluit is.

Met die bedryf wat graag sy status op die plaaslike en internasionale mark wil verhoog, is die inligting baie waardevol, sê Steyn. “Ons moet verbruikers help om te besef wat die gehalte is van dit wat ons wynbedryf aanbied.”

Steyn sê dit was ’n interessante studie om aan deel te neem en om waar te neem dat elke item wat op ’n bottel aangebring word, tot die prys van die wyn kan bydra. “Die Ou Wingerd-sertifisering, wat die ouderdom van die spesifieke wingerd aandui, gaan ’n deurslaggewende rol in die bedryf speel.”

’n Volgende fase van die studie gaan binnekort onder wynverbruikers onderneem word. Dit sal onder meer konsentreer op hoe hulle besluite oor wynaankope neem.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.