Gedurende hul navorsing het pogings om die plante geneties te redigeer om virusse te bestry eerder die uitbroei van gemuteerde virusse tot gevolg gehad. Die navorsers is van die Universiteit van Alberta in Kanada, die Universiteit van Liege in België en die Switserse Federale Instituut van Tegnologie.

Die gemuteerde virusse het in beheerde laboratoriumtoestande gepropageer. “Ons gevolgtrekking is dat dié tegnologie seleksiedruk op die virus uitoefen om vinniger te ontwikkel en van die middele voorsien om te ontwikkel. Dit het ontaard in ’n virusmutant wat weerstandig is teen ons ingrypings,” sê dr. Devang Mehta, postdoktorale genoot verbonde aan die Universiteit van Atlanta se departement biologiese wetenskappe.

Die betrokke tegnologie – CRISPR-Cas9 – kom in die natuur voor waar bakterieë dit gebruik om hulle teen virusse te beskerm, maar die navorsers het bevind dat dit ’n heel ander uitkomste in plante veroorsaak. Hulle benadruk ook die waarde van die toekomstige keuring teen dié soort onbedoelde resultate.

Die kassaweplant, ’n stapelvoedsel in groot dele van Afrika, Asië en Suid-Amerika, is besonder kwesbaar vir die kassawe-mosaïek-virus. Dié siekte verwoes jaarliks sowat 20% van die kassawe-oes en Mehta en sy kollegas het probeer om teen die siekte te redigeer.

Ná hul onsuksesvolle resultate het hulle honderde virale genome in elke plant ontsyfer om agter die kap van die byl te kom. “Ons het ontdek die druk van CRISPR-Cas9 op die virus het dit waarskynlik aangemoedig om op ’n manier te ontwikkel wat hoër weerstand teen ingryping meebring,” sê Mehta.

Hy benadruk dat CRISPR-Cas9 baie ander toepassings in die voedsel- en landbousektor het wat nie dieselfde risiko inhou nie. “Ons moet meer navorsing doen oor dié soort toepassings van CRISPR-Cas9-tegnologie voor ons met veldtoetse voortgaan.”

Die navorsingspan is ywerig om hul resultate aan ander wetenskaplikes oor te dra wat ook hierdie tegnologie gebruik om virusweerstandige plante te redigeer, en moedig hul kollegas aan om hul plante vir soortgelyke mutasies te toets. 

Bron: www.sciencedaily.com

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op WhatsApp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.