Mnr. Jan Hendrik Venter, bestuurder van vroeë waarskuwingstelsels vir plantgesondheid by die departement van landbou, bosbou en visserye, sê hoewel daar nog nie skade by kommersiële avokadoboerderye aangemeld is nie, wil dit voorkom of avokadobome die enigste vrugteboomsoort in die land is wat ’n reproduktiewe gasheer is. ’n Reproduktiewe gasheer is ’n boomsoort wat nie ’n natuurlike weerstand het teen die kewer en die swam wat hy vrystel nie. Die kewer boor in die stam van die boom en stel ’n giftige swam vry wat die boom kan laat vrek. Die kewer lê eiers in die swamspore waarop die volwasse kewers en larwes later kan voed.

Die kewer het al groot skade aan avokadoboorde in Israel en Kalifornië aangerig. Daar was nog net verslae oor skade daar aangesien die kewer in sy natuurlike habitat nie ’n plaag is nie. Venter sê daarom is daar ook baie beperkte inligting oor hoe die plaag in verskillende klimaatstreke met ander plantegroei sal reageer.

“Hoewel die kewer al by pekanneutbome by Jan Kempdorp opgemerk is, lyk dit of dié bome en ook makadamianeutbome nie-reproduktiewe gashere is. Dit is bome wat ’n natuurlike weerstand teen die kewer en sy simbiotiese swam het.”

Die voorkoms van die stompkopkewer is in November 2017 deur die instituut vir bosbou- en landboubiotegnologie (Fabi) aan die Universiteit van Pretoria by die department aangemeld.

’n Stuurkomitee om die plaag te probeer bekamp is deur die department saamgestel. Dit sluit belanghebbendes in soos Bosbou Suid-Afrika, die department van omgewingsake, Fabi en die kwekersverenigings vir avokado’s, makadamias en pekanneute.

“Geen insek- of swamdoder is al geregistreer teen die plaag nie, hoewel verskeie aansoeke om noodregistrasie ingedien is,” sê Venter. “Die besmetting word eers opgemerk wanneer die kewer reeds in die stam of takke ingeboor het en dit sal nie maklik wees om dit met ’n insek- of swamdoder te bekamp nie. ’n Lokmiddel is in Kalifornië beskikbaar om vroeë waarneming moontlik te maak en die avokadobedryf het ook reeds ’n verkenning- en lokvalstelsel gereed.”

Buiten Somerset-Wes het dit ook al onder meer van Pietermaritzburg tot in Durban en langs die Noord- en Suidkus voorgekom, asook in Knysna, George, Johannesburg en Vaalharts.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.