Die polifagiese stompkopboorder-kewer (PSKB, Euwallacea whitfordiodendrus) is amptelik die eerste keer in 2017 in KwaZulu-Natal in Suid-Afrika aangeteken, maar is waarskynlik al langer in die land teenwoordig.

Die afgelope paar jaar het dié kewer beduidende skade aan bome veroorsaak – meestal aan die duisende stedelike bome wat in Johannesburg gevrek het, maar ook aan talle ander bome wat wydverspreid oor die hele Suid-Afrika siek geword en soms ook gevrek het. Polifagies beteken veelvretend en verwys na die wye reeks gasheerbome wat deur die kewer aangeval word.

Die kewer is baie klein. Dit voed nie direk op die gasheerboom nie, maar eerder op swamme wat die kewer kweek in die tonnels wat dit in die stamme van gesonde, lewende bome boor. Dus hou die kewer self min bedreiging vir die bome in, maar die swamme (meestal Fusarium-spesies) wat die kewer in die boom indra, veroorsaak siektes by bome. ’n Groot verskeidenheid bome word siek en kan vrek wanneer dit met hierdie swamme besmet word.

SUPERINDRINGER

Die risiko van besmetting met die kewer in gebiede waar dit nog nie voorheen gevind is nie, is hoog, en die risiko van moontlike skade wat op die besmetting van bome volg, is ook hoog. Die kewer is om verskeie redes ’n superindringer.

Die kewer is klein en weggesteek weens sy lewenstyl. Die kewers is 1,8 mm tot 2,5 mm lank – dus so groot soos ’n klein mier. Hulle is nie net bykans onsigbaar nie, maar woon ook in boomstompe en takke, wat beteken dat hulle meestal nie raakgesien word nie.

Die kewer plant hoogs doeltreffend voort. Vroulike kewers boor tonnels in die hout waarin hulle tot 30 eiers lê, waarvan 80% of meer sal uitbroei. Broers en susters kan met mekaar paar. Dit beteken dat ’n vroulike kewer se nageslag met mekaar kan voortplant.

Vroulike kewers is volledig bevrug wanneer hulle volwassenheid bereik en van bome af vlieg om nuwe bome te besmet. ’n Nuwe bevolking kan dus gevestig word deur die indringing van ’n enkele vroulike kewer. Die tempo van voortplanting hang van die omgewing af, maar wetenskaplikes het al 2 tot 12 geslagte (dus tot 12 “vlugte”) per jaar waargeneem.

In Suid-Afrika is sowat 6 geslagte tot dusver getel. In die lig van dié 6 geslagte is dit vir ’n enkele vroulike kewer moontlik om binne ’n jaar miljoene vroulike nasate voort te bring. Gestel 12 vrugbare, volwasse, vroulike kewers ontstaan per geslag, dan sal die nageslag binne 6 geslagte byna 3 miljoen wees. Met ’n minder konserwatiewe skatting van 20 vrugbare vroulike kewers styg die syfer tot 64 miljoen bevrugte vroulike kewers per jaar.

’n Vroulike PSKB-kewer in ’n jakarandaboombesmetting in Kalifornië. FOTO: AGUILAR PLANT CARE

Die gasheer is nie ’n beperkende faktor nie. Die kewer voed op die swamme wat groei in die holtes wat hy of sy in die hout geboor het, en nie op die hout self nie. Daarom is die kewer se gasheerspesifisiteit laag. Wêreldwyd val kewers wat tot die PSKB-groep behoort (daar is 4 baie soortgelyke kewers wat in ’n spesiekompleks gegroepeer word), saam 412 plantspesies van 75 plantfamilies aan, en die lys van gasheerbome groei steeds.

In Suid-Afrika kom die spesifieke PSKB- kewer, waarvan die identiteit hier bevestig is, by 59 gashere voor. Die gasheerlys word deur die instituut vir bosbou- en landbou- biotegnologie aan die Universiteit van Pretoria bygehou. Kliek hier vir ’n volledige lys van gashere.

Gashere kan reproduktief of niereproduktief wees. Die gashere van die PSKB-kewer kan verdeel word in reproduktiewe en niereproduktiewe gashere. Soos die naam aandui, kan die kewer in reproduktiewe gashere voortplant, terwyl dit slegs kan voorkom maar nie kan voortplant nie, in niereproduktiewe gashere. Reproduktiewe gashere sal beslis deur die swamme besmet en beskadig word, terwyl swambesmetting en siektes by niereproduktiewe bome nie altyd ’n gegewe is nie. In Suid-Afrika is 21 van die bekende gashere reproduktiewe gashere, en die oorblywende 38 is niereproduktiewe gashere.

Mense laat die kewer vinnig versprei. Die natuurlike verspreiding van die kewer hang af van die afstand wat vroulike kewers kan vlieg, wat slegs sowat 500 m is, terwyl manlike kewers nie kan vlieg nie. Die verspreiding van die kewers word egter grootliks deur mense aangehelp wanneer besmette hout van een plek na ’n ander vervoer word. Die kewers kan in houtvoorwerpe, soos pakkratte en palette, versteek wees. Kewers kan ook saam met besmette kwekerymateriaal versprei word.

In Suid-Afrika word hout baie algemeen gebruik om vuur te maak, en die vervoer van vuurmaakhout kan ook tot die verspreiding van die kewer bydra. Sedert die eerste ontdekking in 2017 is die kewer al in die meeste Suid-Afrikaanse provinsies aangeteken. Sulke vinnige verspreiding is ongekend.

Ten spyte van ’n oënskynlike kalmte van nasionale owerheidskant kan die impak van die kewer op die land baie groot wees. Aangesien bome baie jare kan neem voordat hulle vrek, sal die katastrofiese gevolge eers oor tien jaar of langer sigbaar wees. As mense oningelig bly oor die risiko’s van PSKB-kewerbesmetting, sal die verspreiding en gevolglike boomvrektes onbepaald voortgaan.

Klimaat is nie ’n beperkende faktor nie. Manlike kewers bring hul hele lewe in die boom deur, terwyl vroulike kewers slegs die boom verlaat om ’n nuwe gasheer te vind, waar ’n nuwe bevolking sal ontstaan. Klimaat is dus nie ’n beperkende faktor soos vir ander spesies nie, want die kewer word vir die grootste deel van sy lewe deur die boom beskut.

WERKLIKE RISIKO NOG NIE GOED VERSTAAN

Die kewer is nie ’n plaag in gebiede waar dit inheems is nie. In inheemse gebiede is bome meestal bestand teen die swamsiektes, en natuurlike vyande hou die kewerbevolking in toom. Die kewer het ook ’n voorkeur vir bome wat reeds gevrek het of besig is om te vrek. Dit is daarom slegs skadelik in gebiede waar dit ’n uitheemse indringer is.

Dit is in 2003 die eerste keer as ’n indringerplaag in Kalifornië, Amerika, aangeteken, en in 2009 in Israel. Navorsing oor die gedrag van die kewer as ’n plaag en indringer het eers laat in die 2000’s begin en inligting is beperk. Die volledige gasheerreeks in Suid-Afrika en die presiese mate waartoe die gashere geraak kan word, bly onseker. Hierdie onbekende faktore dra by tot die waarskynlikheid dat die risiko van indringing hoër kan wees as wat verwag word.

LANDBOUGEWASSE

Verskeie landbougewasse wat in Suid-Afrika verbou word, is gashere, hoewel meestal niereproduktief (tabel 1). Avokado’s is hoogs vatbare reproduktiewe gashere, en die kewer het avokadoproduksie in Israel en Kalifornië aansienlik belemmer.

In Suid-Afrika is besmette avokadobome in tuine in Sandton in Gauteng en Knysna in die Wes-Kaap gevind. Die kewer is nog nie in kommersiële avokadoboorde in Suid-Afrika waargeneem nie. ’n Besmetting van ’n kommersiële pekanneutboord in die Noord-Kaap is aangemeld, asook ’n enkele pekanneutboom in Mbombela (Nelspruit) in Mpumalanga.

In Knysna het ’n groot aantal eikebome begin kwyn en mettertyd gevrek. Die bome is afgekap en die publiek het boomstompe en hout deur die groter Knysna-gebied verskuif, sonder dat besef is die bome was met PSKB besmet. Dit het ’n aansienlike impak op die geografiese verspreiding van die kewer gehad, wat nou wyd in die Knysna-gebied aangetref word.

Houtsaagsels of -kerfsels word dikwels as ’n deklaag onder bome in boorde geplaas om grondvog te bewaar. Produsente word aangemoedig om indringerbome af te kap om as houtkerfdeklaag te gebruik. Ongelukkig is verskeie indringerbome reproduktiewe gashere van die kewer (tabel 2).

Gestel ’n besmette boom word tot houtkerfsels verwerk en die besmette houtkerfsels word onder niereproduktiewe gasheerbome in ’n boord geplaas. Dit sal die hele boord aan besmetting deur die kewer en die daaropvolgende risiko van Fusarium-swamme blootstel. Fusarium-spesies, wat die vaatbondels van die plant aanval, is moeilik om te bekamp. Indien die bome vatbaar is vir die siekte wat die swam veroorsaak, sal hulle siek word en kan gevolglik vrek.

SIMPTOME VAN BESMETTING

By besmette bome sal afsterwing van takke soms sigbaar wees. Klein, ronde gaatjies van sowat 0,85 mm in deursnee waar die kewer in die boom ingaan en uitkom, kan sigbaar wees. Hierdie gaatjies kan omring word deur suikeragtige uitskeidings, boomgom, houtpoeier of donker, nat vlekke.

Die bas om die gaatjie kan donker verkleur. Die donker vlekke word veroorsaak deur die verspreiding van die Fusarium-swam deur die boom se vaskulêre stelsel.

Boomgom uit die gaatjies wat PSKB-kewers geboor het. FOTO: AGUILAR PLANT CARE
’n Klein gaatjie wat deur ’n PSKB- kewer geboor is, omring deur ’n suikeragtige uitskeiding, vergeleke met die grootte van ’n 10c-stuk. FOTO: PHSB.CO.ZA

MONITOR EN KEER

Verskaffers van houtdeklae en ander onbehandelde houtprodukte, soos palette, moet hul perseel en produkte gereeld monitor vir die potensiële teenwoordigheid van PSKB. Dit is ook belangrik dat die publiek op die uitkyk moet wees vir die kewer in openbare en stedelike gebiede, waaronder langs paaie.

Streng gesproke behoort ’n nasionale noodaksieplan ingestel te word, maar met die formele prosesse wat die owerhede volg, verloop die proses te stadig. Tans word openbare deelname benodig om die verdere verspreiding van die kewer doeltreffend te beperk. Voorkomende chemiese bekamping is die beste uitweg, aangesien die uitwissing van die kewer ná besmetting moeilik is.

Hoewel proewe vir produkregistrasie tans gedoen word, is daar nog nie ’n produk vir die chemiese bestryding van die kewer in Suid-Afrika geregistreer nie. Die verwydering en opsaag van die hout is die beste manier om van die kewer ontslae te raak. Die houtstukkies moet kleiner as 2 cm wees.

Die hout kan ook met hitte behandel word deur dit in die son onder ’n plastieklaag te plaas, of dit kan verbrand word. Verbranding van besmette hout is die doeltreffendste bekampingsopsie. Die houtsaagsels kan ook nat gehou word om kompostering van die saagsels aan te moedig.

Dit is belangrik om baie versigtig te werk wanneer besmette plante uitgekap word, aangesien vroulike kewers wat in die boom woon, kan uitvlieg en nuwe bome besmet. Dit is hoekom dit beter is om nie besmette materiaal self te vernietig nie, maar eerder amptelike instellings, diensverskaffers of die owerhede in te roep. Openbare bewustheid van die plaag en deelname om verdere verspreiding te keer, is noodsaaklik.

Doen die volgende:

Stap 1: Inspekteer ál die bome en hout in jou omgewing vir die teenwoordigheid van die kewer of simptome van ’n potensiële besmetting. Wees 100% seker dat hout nie besmet is nie voordat jy dit vervoer. As jy vuurmaakhout koop, wees seker dat dit nie besmet is nie. Hou in gedagte dat die gesondheid van die bome in jou tuin op die spel is.

Stap 2: Meld die besmetting aan. Daar is die mobiele toepassing Tree Survey (vir enige deel van Suid-Afrika, die webwerf www.capetowninvasives.co.za (Kaapstad en Somerset-Wes) en die e-posadresse trees@jhbcityparks.com (Johannesburg) en pshb@fabi.up.ac.za (nuwe streke en nuwe gasheerbome).

Stap 3: Reël dat die hout vernietig word. Kundiges wat weet hoe om met besmette hout te werk, moet dit doen.

Stap 4: Lig ander mense in. Die enigste manier om Suid-Afrika se bome gesond te hou, is deur almal in te lig van die risiko’s wat PSKB inhou. 

Dr. Ida Wilson is ’n plantpatoloog en konsultant. Mnr. Hilton Fryer is die besturende direkteur van Heuristic Guru in Johannesburg.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op WhatsApp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.