Die ou gesegde loop dat ’n mens jouself nie ryk kan spaar nie, en dit blyk veral waar te wees vir die vrugtebedryf.

Ná meer as twee dekades waarin mnr. Koos Badenhorst van BDK Ouditeure op Caledon betrokke was by ’n landbou-ekonomiese normstellingstudie waar die syfers van sowat 45 plaaseenhede in die EGVV-gebied (Elgin, Grabouw, Villiersdorp en Vyeboom) ontleed word, kan hy tereg sê: Dis eerder beter produksie (van gehalte) as ’n toe beursie wat vrugteboere se wins bepaal.

Boere wat lê in die boonste kwart van die winsgewendheidsindeks van die Badenhorst Bible (soos boere onder mekaar na die studie verwys), het in 2015 en 2016 onderskeidelik sowat R50 000 en R41 000 per hektaar méér wins gemaak as die groepsgemiddelde (voor rente, waardevermindering en belasting).

“Ons kan met vers en kapittel bewys wat hierdie groter wins aandryf. Dis tonne, tonne en tonne,” verduidelik Badenhorst. “Jou eerste dryfmiddel is produksie per hektaar, jou tweede dryfmiddel is gehalte van produksie per hektaar en jou laaste dryf- middel – wat ons altyd baie saggies sê – is koste per hektaar.”

Die afgelope tien jaar het boere se produksie met ’n saamgestelde koers van 3,4%/ha/jaar gestyg. Inkomste het met 13%/ha/jaar gestyg.

Beter opbrengste (en gehalte aan die boom) is die enigste manier om wins op te stoot. Die winsvlakke van boere wie se opbrengs 16% meer is as die groepsgemiddelde, is sowat R40 000/ha meer.

Produksie = wins

Die som lyk só: Die boere in die gemiddelde groep se gemiddelde inkomste in 2016 was ongeveer R222 000/ha en hul gemiddelde uitgawes was R143 000/ha. Sy produksie is 65 t/ha. Dit sit wins van sowat R80 000 in sy sak. Die inkomste van die bestepraktyk-boere (die boere in die boonste 25%, wat R41 000/ha meer wins gemaak het) is R257 000/ha.

Hul uitgawes is R6 000/ha laer as hul eweknieë in die gemiddelde groep. Maar hul wins is R120 000/ha danksy ’n opbrengs van 72 t/ha – 16% meer as die groepsgemiddelde.

“As jy dit per ton uitdruk, het die gemiddelde boer R3 400/ton gekry en die bestepraktyk-boer het R3 600/ton gekry. Dis net sowat 4% meer, maar die res van hul inkomste is alles danksy produksie. Tonne maak jou uitgawes per ton 14% beter, omdat jou deler soveel groter is,” verduidelik Badenhorst.

“Die eerste ding van winsgewendheid wat tel, is produksie. Niks kom daarby nie. Jy kan swak verpak, jy kan swak bemark, jy kan hoë koste hê . . . produksie is die groot dryfmiddel van winsgewendheid.”

Hierdie wins stel die bestepraktyk-boere in staat om boorde vroeër te herplant, ’n stap wat hulle weer voor op die kurwe sit – en beteken dat die gaping tussen die topboere en gemiddeldes rek.

“Dis hoekom sekere boere groter kan word in ’n mededingende bedryf. Die uitdaging is vir almal om in die kategorie van beste praktyke te kom, want dis ál hoe jy gaan oorleef,” meen Badenhorst.

Gehalte aan die boom

Linde sê hoewel hulle nou al 20 jaar lank preek oor “produksie, produksie, produksie” is dit nie heeltemal so eenvoudig nie. Boere moet ook konsentreer op die regte kultivars en die regte gehalte aan die boom.

As inkomste per hektaar die rekeninge betaal, moet ’n boer onthou inkomste per hektaar word bepaal deur totale produksie, maar ook deur inkomste per ton – die uitpakpersentasie. Goeie uitpak lei tot beter pryse.

“Dis ’n detailoefening vir ’n boer. Hy kan sê hy het byvoorbeeld R248 000/ha se inkomste gekry vir sy Granny Smith-appels, maar die beste plase het R304 000/ha verdien. Nou moet hy hom afvra waar die verskil lê. Daar is dalk nie probleme met sy gemiddelde prys nie, maar die ontledings per klas lyk dalk nie so goed nie. Of aan produksiekant het hy goed gevaar, maar sy prys is nie lekker nie, dan kan hy dit met sy bemarker bespreek.”

Volgens Badenhorst behoort die gonswoorde onder vrugteboere “gehalte aan die boom” te wees.

“Plase wat dié kwessie aangepak het, kon hul uitpak van 61% tot 79% verbeter vir klas 1-vrugte. Die vrugte wat na die sap- of smousmark gegaan het, het van 39% tot 21% afgeneem. In geldwaarde het dit ’n ekstra R54 000/ha beteken. Die volgende paar jaar sal hulle al hoe meer op die gehalte aan die boom konsentreer; daar moenie meer ’n ding hang wat in die sapsak gaan beland nie, want dis waarde wat verlore gaan.”

Hulle het ook gesien dat beter opbrengste nie swakker uitpak beteken nie, maar eerder daartoe lei dat “die ekstra tonne in klas 1 en 2 gaan voorkom”, sê Badenhorst.

“Die swakste 25% boere het 22 ton uit hul gemiddelde opbrengs van 57 ton per hektaar aan die sapmark gelewer. Die beste 25% het ook 25 ton van hul 74 ton (gemiddeld) as klas 3-vrugte bemark, maar die res het alles na hoër grade geskuif. Dit wys net weer: Die uitpak is nie soveel swakker nie, maar die produksie is waar die probleem vir die onderste kwart lê.”

Kultivarkeuse dra net soveel by en produsente met die regte kultivars lag al die pad bank toe. Pink Lady-appels het sedert 2001 tot bykans 10% van die omgewing se aanplantings gegroei (voorheen was daar niks nie) en minder gewilde, tradisionale kultivars soos Golden Delicious en Granny Smith het van 52% van die aanplantings tot 33% afgeneem.

“Daar is beter boerderypraktyke (veral plantmetodes en besproeiing) en kultivars wat ’n drastiese uitwerking op inkomste het.”

Spaar slim

Ryk kan jy jou nie spaar nie, benadruk Badenhorst. Hy verwys na oesbeskerming om aan te dui dat die besparing tussen die gemiddelde boere en die beste praktyke weglaatbaar klein is, maar dat ’n boer baie meer as dié verskil verloor as hy een spuit spaar of nie ’n uitdunspuit toepas nie.

Die waarde van hoër opbrengste is egter ook duidelik wanneer inflasie ter sprake kom. Koos sê die inflasiekoers op vrugteplase was sowat 11%/ha sedert 2008.

“Boere het dit egter reggekry om inflasie per ton op 7,25% te hou as gevolg van ’n verhoging van 3,43% in produksie per hektaar (by die bestepraktyk-boere is dit sowat 7%). Produksie was dus weer hul redding, want dit help om die verskil te absorbeer.”

Inflasie in vrugte-ondernemings word grootliks aangevuur deur arbeidskoste, wat sowat 50% van ’n vrugteboer se uitgawes uitmaak. Dit beteken ’n produsent kan net wen as hy arbeid beter aanwend.

“Kyk, hoër produksie het hoër arbeidskoste tot volg – jy moet die groter oes afpluk – maar arbeid se produktiwiteit het minstens verdubbel, indien nie verdriedubbel nie, sedert die minimum loon ingestel is. Ons het ’n verhoging van 13% in die minimum loon gehad, wat beteken dat die gemiddelde loonrekening per kop gestyg het, maar die getal koppe wat ons nodig het om ’n krat vrugte te pluk, het afgeneem. Ons het deesdae soveel minder voete op die plase.”

Linde sê die boere wat die meeste wins gemaak het, het sowat R999/ton aan arbeid bestee. Dis net R200 minder as die gemiddelde, maar teen 70 t/ha beteken dit ’n besparing van R14 000/ha.”

Koos vertel tien jaar gelede het hy die vraag gevra of likwidasie die vrugtebedryf in die gesig staar omdat boere se winsgewendheid só was dat hulle nie gereeld genoeg nuwe boorde kon vestig nie.

“Nou is daar net goeie nuus vir die bedryf. As ons nie politiek praat nie, maar ’n ekonomiese gesprek het, is ek regtigwaar vol hoop vir die vrugtebedryf. My boodskap is al die afgelope drie jaar: Kêrels, plant! Hernieu julle bome! Die gebied waar appels geplant kan word, is klein (weens die kouebehoefte) en die wêreldvraag daarna neem toe.”

Arbeidskoste beloop sowat 50% van ’n vrugteboer se uitgawes. Produsente wat wil vooruitgaan, moet arbeid produktiewer aanwend.

Hoe werk normstelling?

Hulle is geen waarsêers nie, verduidelik mnr. Tonie Linde van BDK Ouditeure. “Ons standaardiseer inligting op grond van sekere beginsels om by gemiddeldes en groepsgemiddeldes te kom sodat ons neigings kan ontleed.

“Op individuele vlak kan jy jouself dan afvra of jy binne of buite die neiging lê. Normstelling is nooit ’n stok nie, dis net iets wat fokus aandui. Dis vir ons die kern van die hele ding,” sê Linde.

Verlede jaar het altesame 45 plaas-eenhede – oftewel 40% van die appels en 35% van die pere wat in die streek Elgin, Grabouw, Villiersdorp en Vyeboom geproduseer word – aan die studie deelgeneem.

Ná die syfers verwerk is, bied Badenhorst en Linde ’n algemene terugvoeringsessie aan, waarna hulle bereid is om individuele plase (wat dit aanvra) te besoek en saam met die produksiespanne na die syfers te kyk en vrae te vra.

“Ek begin altyd deur te sê: Ek kan nie vir julle sê hoe om te boer nie, maar ek kan die syfers wys en ’n paar vrae vra.” Badenhorst vertel die afgelope 20 jaar het dit al menige keer gebeur dat ’n boer by hulle, as finansiële raadgewers wat in die landbou spesialiseer, kom aanklop as hulle in die moeilikheid is op die plaas.

“Dis baie moeilik vir so ’n boer om te kan identifiseer waarop hy hom moet toespits, veral omdat hy deur sy eie bril kyk. Ons gebruik dan normstelling om gebiede uit te lig waarop die boer moet konsentreer – is sy probleem produksie, die koste van produksie, die gehalte van produksie of die ouderdom van bome?”

Linde sê dis ook ’n manier om aan boere te wys waar hulle op die regte pad is. “Ons kan vir ’n ou wys sy uitpak was goed en sy kostestruktuur was goed, so hy moenie daardie wenresep probeer verander nie, maar hy moet byvoorbeeld kyk na sy tonne, wat te min was teenoor die bevolking.”

Badenhorst haal hul winsgewendheid-skedule uit. “Ons kry ouens wat in die onderste 25% lê as hulle by ons aankom en dan beland hulle binne twee, drie jaar in die top-25%, net omdat ons hulle kon help om hul probleemgebiede te identifiseer. As hulle dus bereid is om te luister, kan ons enorme waarde toevoeg.

“Dis nie ’n wonderoplossing vir die boer nie, maar ’n proses van verfyning en verfyning en verfyning oor die tyd heen. Die ouens wat hoër op die indeks lê, neem al ’n paar jaar deel. Dié wat onder lê, is gewoonlik die ouens wat heel laaste aangesluit het.” Hy begin lag as hy vertel die boere noem dit onder mekaar die Badenhorst Bible.

“Daar was ’n Engelsman op Grabouw wat gesê het jy moet die boek saam met jou Bybel in die bedkassie bêre en elke aand ’n stukkie daaruit lees!”

Maar waarom is daar dan steeds boere wat nie deelneem nie?

“Dit verg ’n klomp werk om die inligting bymekaar te sit en sommige ouens sien die terugvoering as kritiek, wat vir hulle moeilik is om te hanteer,” meen Badenhorst.

Linde stem saam dat die werk mense afskrik, maar hy sê binne twee jaar is ’n plaas se boekhoustelsel gewoonlik gereed om die opgawe binne twee dae in te vul. Wat die koste van deelname betref, het dit boere verlede jaar sowat R7 400 per plaas gekos om deel te neem.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.