Beperkte plaaslike produksie noodsaak egter die invoer van knoffel uit ander mededingender lande.

Mnr. Corrie Bezuidenhout, voorsitter van die Knoffelkwekersvereniging, het op die organisasie se tweejaarlikse kongres by die Landbounavorsingsinstituut Roodeplaat gewaarsku dat die bedryf ter wille van sy eie oorlewing ’n punt moet bereik waar hy met die gehalte en hoeveelheid van die ingevoerde produk kan meeding. “Ons moet boere aanmoedig om knoffel op ’n groter skaal te verbou en die gehalteproduk te lewer wat supermarkte wil hê. Ons grootste probleme is dat dit baie arbeidsintensief is en lank duur om wasdom te bereik.”

Die teenstortingsheffing het tot ’n groot afname in ingevoerde goedkoop Chinese knoffel gelei, maar weens tekorte is begin om groot hoeveelhede vanuit veral Spanje in te voer. Hy het in sy voorsittersverslag gesê die Suid-Afrikaanse mark verbruik sowat 4 500 ton knoffel. Verlede jaar is 58% (2 655 ton) daarvan ingevoer. Sowat 1 900 ton het uit Spanje gekom teen ’n gemiddelde prys van R37,15/kg.

“Die gehalte van die knoffel uit Spanje is goed, maar ons kan meeding met daardie prys, veral as ander koste, soos vervoer en bestraling, ingereken word,” sê Bezuidenhout. “Ons het die groot voordeel van varsheid en houvermoë van ons produk. Die feit dat ingevoerde knoffel bestraal en ook vir lang tydperke in verkoelde opberging gehou moet word voor dit hierheen ingevoer word het ’n nadelige uitwerking op smaak en die houvermoë van ingevoerde knoffel.”

Verskeie kongresgangers het gekla dat handelaars nie die vereiste dat op die verpakking van ingevoerde knoffel aangedui moet word dat dit bestraal is, nakom nie. Knoffel word gewoonlik uit die oorspronlike verpakking gehaal en as los bolle verkoop sonder dat ’n verbruiker weet waar dit vandaan kom. Daar was voorstelle dat plaaslike knoffel as ’n “trots Suid-Afrikaanse produk” bemark moet word. 

Bezuidenhout het gesê min verbruikers weet dat knoffelvlokkies of gaar knoffel niks van die baie gesondheidswaardes meer het nie. “Sodra dit opgekerf word, verloor dit die medisinale waarde. Daar moet baie meer inligting oor die voordele van knoffel op veral die sosiale media versprei word.”

Me. Lindie Stroebel, hoofbestuurder van die produkbemarkingsvereniging (PMA) in Suider-Afrika, wat oor die bemarkingsmootlikhede van knoffel gepraat het, het ook na die belangrikheid van sosiale media verwys. Sy het vertel van ’n Facebook-gebruiker wat twee miljoen aanhangers gekry het net uit haar verwysings na prof. Tim Noakes se dieet.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.