Só het mnr. JD Pretorius, wynmaker by Warwick-wynlandgoed en beoordelaar in die twintigste Old Mutual Trofeewyn- en spiritualieë-skou, gesê ná sowat drie en ’n half dae waarin hulle inskrywings vir dié kompetisie onder die loep geneem het.

“Daar is kultivars wat nie so geraak word deur droogte as ander nie en wat minder geneig is om foute te wys. Iets soos Pinot noir en Merlot is baie meer netelig.”

Hy glo die droogte het wingerde wat lankal uitgehaal moes wees of op verkeerde plekke geplant is, verwyder. “Die droogte het mense ook weer laat nadink oor wat hulle doen, hul produkmengsel en hul wingerdopset.”

Minder inskrywings, goeie gehalte

Mnr. Michael Fridjhon, voorsitter van die wynskou, sê dit was vanjaar veral interessant om te sien wat tydens die pandemie-era na bo “geperkuleer” het. Altesaam nege plaaslike beoordelaars het die wyne geproe en beoordeel.

“Weens die aard van die pandemie was daar minder inskrywings, maar die getalle het nie drasties afgeneem nie. Die gehalte was wel daar,” het Fridjhon tydens ’n video-uitsending oor die kompetisieresultate gesê.

“Produsente wat kon inskryf, moes vertroue hê in die gehalte van hul produk, daarom sien ons vanjaar ’n hoë persentasie van medaljes.”Altesaam 5% van die totale inskrywings het goue medaljes verwerf. Dit is in ooreenstemming met die skou se langtermynneigings. Fridjhon sê die silwer klas was “solied” en meer brons medaljes is as gewoonlik toegeken.

“Dis ’n aanduiding van ’n verbetering in gehalte. Dit toon dat die wyne se gehalte na die droogte goed is.”

Ou wingerde en niswyne

Hy sê vanjaar se kompetisie het meer inskrywings in die niskategorieë vir wit- en rooiwyne gelok.

“ ’n Mens sou dit verwag in ’n bedryf wat gedurig soek na nuwe en interessante maniere om met wyndrinkers reg oor die wêreld kontak te maak. Ons sien ook meer inskrywings van wyne wat gemaak is uit ou wingerde. Dit wys jou Suid-Afrika sit sy beste voetjie voor en dit bring groot opwinding, veral in die witwynkategorie.”

Die puntetoekenning is vanjaar aangepas om soortgelyk te wees aan ander wynkompetisies, skoue en beoordelaarsplatforms. Om ’n goue medalje te verdien, moes ’n wyn 95 of meer punte kry, pleks van 90. Silwer medaljes is aan wyne toegeken wat van 90 tot 94 punte behaal het. Die brons medaljes is bedoel vir wyne wat van 85 tot 89 punte by beoordelaars kry. Die resultate word in Julie bekend gemaak.