Só meen mnr. Paul Mabray, die bemarkingsghoeroe wat ook verantwoordelik was daarvoor om Kalifornië se Napa-wynvallei ’n nuwe digitale voorkoms te gee.

Mabray sal die genooide spreker wees by vanjaar se Wyn-en-kostoerismekonferensie op 2 Desember. Dit vind by Benguela Cove Lagoon-landgoed naby Hermanus plaas en word deur Wesgro geborg. Die tema van die konferensie is “Die volgende dekade: Wynbedryfverkope en volhoubaarheid”.

Twee gelukkige Landbouweekblad-lesers kan kaartjies wen om dié konferensie by te woon.

Mabray sê baie mense praat oor hoe Covid-19 die wynbedryf se skuif na e-handel versnel het. Hy beskou egter nie e-handel as die kitsoplossing nie. Dié lê eerder by die gebruikerservaring.

“As wynbemarkers is dit ons prioriteit om die beste klante-ervaring te verskaf deur naatloos ons beloftes aan wynliefhebbers na te kom. Selfs al het ons goeie wyne teen billike pryse gaan ons nie wen nie. Ons logistiek, verspreiding en prosesse verseker ’n gunstige ervaring, ongeag of ons persoonlik of digitaal verkoop.”

Mabray meen die bedryfskultuur moet verander word.

“Ons moet dink aan die hier en die nou. Ons moet meer belê in navorsing wat op verbruikers konsentreer en die ontwikkeling van gebruikservarings, asook om verkope- en bemarkingshulpmiddels na te vors en ontwikkel. Ons moet plooibaar en aanpasbaar wees. Ons moet ook anders dink oor mislukking. Ons moet ruimte laat om risiko’s te neem en te leer uit ons foute.”

As mens dit kan regkry, kan wyntoerisme, ’n wonderlike bate, gebruik word om verhoudings te vorm.

“Wyn is soos die internet. Albei het die magiese vermoë om die beperkinge van tyd, ruimte en kultuur op te hef. Gebruik die internet om die wynstories oor plek, mense en bedoelings oor te dra aan wynliefhebbers voor én nadat hulle jou plaas besoek het. Selfs al kan hulle jou nie fisiek besoek nie, kan hulle virtueel besoek bring en ’n spesiale band met jou ontwikkel.”

Die konferensie kan virtueel of by Benguela Cove Lagoon-wynlandgoed bygewoon word. Dit kos R437 om virtueel in te skakel. Om die konferensie by te woon, kos R1 840 en sluit ’n wynproe in.

Besoek https://wineandfood.co.za/ vir nog besonderhede oor die konferensie en program of om te registreer.

Om ‘n kaartjie te wen na die konferensie (dis jou besluit of jy virtueel wil inskakel of wil bywoon), stuur ‘n e-pos aan Alani Janeke by alani.janeke@landbou.com. Dit moet haar teen 12h00 op 26 November bereik.