Die prys van aartappels het bykans verdubbel teenoor die prys in April en Mei vanjaar. Op 25 Augustus was die landwye gemiddelde aartappelprys oor alle grade en alle klasse meer as R62 per 10 kg-sakkie nadat dit in April tot onder R30 per 10 kg-per sakkie geval het.

Die aartappelbedryf is een van die min varsproduktebedrywe wat nadelig deur die Covid-19-regulasies beïnvloed is omdat restaurante gesluit en kitskosverkope stopgesit is. Boonop is die beweging van informele handelaars aanvanklik ook ingeperk, wat verkope verder nadelig beïnvloed het.

Die prys het die afgelope ses weke bo R40 per 10 kg-sakkie oor alle grade op alle markte beweeg.

Volgens dr. André Jooste, uitvoerende hoof van Aartappels Suid-Afrika (ASA), is die herstel nie slegs weens die verslapping van inperkingsregulasies nie. Sedert Maart het die beskikbare volumes en verbruikersgedrag ook ’n rol gespeel in die prys. “Verkope vir Januarie en Februarie was tussen 8 miljoen en 9 miljoen sakkies per maand. In Maart was dit bo 9 miljoen sakkies, grootliks weens paniekaankope net voor die inperkingstydperk.

R30/10kg en laer

“In April en Mei was verkope onder 8 miljoen sakkies, ten spyte van laer pryse en laer voorraad op markte in April as in die vorige maande. Die landwye gemiddelde prys het soms tot laer as R30 per 10 kg-sakkie gedaal, wat ongewoon is, selfs in die wintertyd waar hoër volumes tradisioneel druk op die pryse plaas.”

Volgens Jooste het onder meer die aanvanklike beperkings op informele handel en die beweging van mense beslis ’n impak op die mark gehad, terwyl paniekaankope laat in Maart voorraad in die hande van informele handelaars verhoog en tot die situasie bygedra het. Verlaagde aankope kan ook gekoppel word aan die onmiddellike uitwerking wat die situasie rondom lone, veral waar mense van ’n weeklikse loon afhanklik was en daardie besteebare kontant weens die inperking verdwyn het.

“Soos mense hulle by die regulasies aangepas het en soos sekere regulasies verslap is, het verkope in Mei verbeter, hoewel pryse toe steeds onder druk was, grotendeels weens hoër voorraadvlakke as in April. In Junie was verkope weer meer as 8 miljoen sakkies, wat ’n baie gunstige teken is. Voorrade op markte het gedaal teenoor Mei, maar pryse was marginaal beter as in April en Mei.” 

Jooste sê hulle verwag dat verkope vir Julie waarskynlik meer as 8 miljoen sakkies sal wees, met voorraadvlakke wat ook laer kan wees as in Junie omdat sekere streke die oesproses afhandel. “Hoewel daar nie ’n spesifieke segmentasie beskikbaar is om te bepaal wat die restaurant-sektor op markte koop nie, kan aangeneem word dat die heropening van restaurante verkope gestimuleer het. Die verslapping van regulasies in die algemeen tesame met laer voorrade op markte verskaf dus landwyd welkome stukrag aan pryse.”

Volgens ASA se historiese data is daar tradisioneel opwaartse druk op die gemiddelde prys in die laaste drie tot vier maande van ’n jaar. Twee van die vele faktore wat ’n rol speel, is laer voorraadvlakke omdat sekere streke nie in die somer aartappels produseer nie, asook die toename in plaaslike en internasionale toeriste oor die somermaande wat restaurante en die kitskosbedryf goed ondersteun en die verkope van aartappels aanhelp. Die onsekerheid oor die herstel van die toerismebedryf veroorsaak ook onsekerheid in die aartappelbedryf.