Landbouweekblad het onlangs berig dat veral perskeboere hulle moet staal vir ’n moeilike jaar nadat dié verwerker aangekondig het poel B-riglyne kan geld weens waterbeperkings. Die Langeberg-munisipaliteit het aanvanklik ’n waterbeperking van 25% vir die fabriek ingestel. Langeberg & Ashton Foods het toe gesê boere sal teen ’n veel laer pryspunt vir hul perskes vergoed word (die sogenoemde poel B-prysmeganisme).

Intussen het die watergebruikersvereniging water aangebied, maar die maatskappy het boere laat weet hy gaan steeds voort met poel B-riglyne.

Mnr. Nassos Martalas, uitvoerende bestuurder van Langeberg & Ashton Foods, sê na verwagting sal sowat 8% van die totale perske-oes geraak word. “Ek wil beklemtoon ons sal alle vrugte vat, maar ’n deel van die oes sal teen laer pryse wees.”

Vraag klein, aanbod groot

Volgens hom is daar markwerklikhede wat in ag geneem moet word, soos ’n ongunstige wisselkoers en internasionale pryse wat “wild fluktueer”.

“Die grootste hou was egter die ineenstorting van die pureemark. Dit is bykans dood. As so ’n belangrike neweproduk nie verkoop kan word nie, rimpel dit deur ál die kostestrukture.”

Martalas sê verder die vraag na inmaakvrugte het in die afgelope dekade veral in die ontwikkelde lande, soos dié in Europa en Noord-Amerika, gekwyn. Boonop neem produksie wêreldwyd toe.

“Ons strategie is om nuwe ontwikkelende en goeie markte, soos China, te vind, want die Europese Unie se welvarende verbruikers beweeg weg van inmaakvrugte af. Afrika was boonop nie in die afgelope twee tot drie jaar ’n watwonderse mark nie.”

Te laat             

Mnr. Jacko de Wet, ’n vrugteboer van die plaas Retreat naby Robertson, sê Langeberg & Ashton Foods het aan hom bevestig hulle gaan 25% minder van sy vrugte koop, volgens ’n nuwe langtermynkontrak.

“Die water was sommer ’n ou verskoning wat hulle probeer gebruik het,” sê hy.

“Nou sê hulle hulle het nie ’n mark vir alles nie. Hulle dink mos ’n perskeboom het ’n skakelaar wat jy vanjaar kan afskakel en volgende jaar weer kan aanskakel. Omdat húlle nie vanjaar ’n winsgewende mark het nie, gee hulle ook glad nie om vir die boere wat ’n verlies lei nie.”

Hy is veral vies dat die maatskappy eers enkele weke voor oestyd die nuus bekend gemaak het. “As hulle ons in Mei gesê het, kon ons ouer boorde uitgehaal het, maar noudat ons al gesnoei, gespuit en uitgedun het, nóú sê hulle ons hulle kan nie ons vrugte vat nie. Ek kan dit nie glo nie.”

Boere se waterplan

Mnr. Louis Bruwer, hoof- uitvoerende beampte van die Sentraal-Breërivier-watergebruikersvereniging, sê hoewel hulle ekstra water aan die fabriek verskaf het, loop die fabriek nou gevaar om dit weer te verloor. “Ons is nie ver daarvan om die water weer terug te neem nie. As Langeberg & Ashton Foods nie die boere se produkte inneem nie, het hy mos nie die water nodig nie.”

Die watergebruikersvereniging het teen 21 November sowat 250 miljoen m3 minder water uit die Groter-Brandvleidam onttrek as wat hy beoog het.

“Ons het met die syfers tot ons beskikking uitgewerk Langeberg & Ashton Foods se normale volle waterverbruik moet min of meer 1,5 miljoen m3 wees. ’n Beperking van 25% kom dan neer op 375 000 m3. Ons bestuurskomitee het toestemming gegee dat die bykomende volume aan die munisipaliteit toegeken kan word, wat dit op sy beurt aan die fabriek sal voorsien. Dit sou die fabriek toegelaat het om sy volle normale watervolume vir die 2017-’18-produksiejaar gebruik.”

Volgens Martalas vergader hulle binnekort met die Langeberg-munisipaliteit om duidelikheid te kry oor waterbeskikbaarheid en -gehalte.

Ramp

Bruwer sê die nadelige invloed van Langeberg & Ashton Foods se besnoeiing is byna “te afgryslik om eens aan te dink”, veral vir die duisende seisoenswerkers en hul afhanklikes.

Volgens De Wet “gaan die swak verhouding wat die maatskappy met boere het, maak dat hy een van die dae nie meer boere oor het nie”.

Hy’s raadop, want die enigste ander fabriek waar hy kan lewer, betaal baie min. Die smousmark sal na verwagting vanjaar oorvol wees.