Bestendigheid in die natuur ontstaan deur diversiteit. Daarom glo mnr. Johan Reyneke van Reyneke Wines buite Stellenbosch in ’n stelsel met ’n verskeidenheid plante en diere, al bly wingerd en wyn sy kernbesigheid. Reyneke is beter bekend as een van die land se eerste biodinamiese wynboere, ’n boerderystelsel wat soms met ’n goeie skeut agterdog bejeën word.

Die “nuwe” Reyneke-wynplaas word nou na ’n biodinamiese stelsel oorgeskakel. Dit verg meer intense ingryping deur Reyneke en sy span as op Uitzicht, sy “ou” plaas wat hy al byna 20 jaar lank op dié manier bestuur.
Die “nuwe” Reyneke-wynplaas buite Stellenbosch. Foto: VERSKAF

Maar tydens die afgelope drie en ’n half jaar se droogte het sy wingerd se gemiddelde opbrengs nie gedaal nie, om plae te bestry kos hom nie ’n plaas se geld nie en boonop besproei hy nou 50% minder as toe hy destyds konvensioneel geboer het. Die kersie op die koek is dat die gehalte van Reyneke Wines mense oraloor beïndruk.

Hy het rondom die eeuwending sy plaas Uitzicht eers organies en later biodinamies begin bestuur. Nie lank nie, of sy ouditeur het gevra hoe dit moontlik is dat die totale opbrengs ietwat afgeneem het (gemiddelde produksie het van 8 t/ha tot 7 t/ha gedaal), maar die algehele winsgewendheid lyk soveel beter.

“Die rede was eenvoudig: Ons het beheer geneem van ons produksiekoste deur in ons eie behoeftes te begin voorsien,” sê Reyneke, waar ons tussen sy kudde van 55 Nguni-beeste, met name soos Hasie en Duifie, sit en gesels. Reyneke het destyds regte gestudeer, maar gou besef dis nie vir hom nie en agter ’n liefde aan in Amerika los werk gaan doen.

Die Nguni-kudde is ’n integrale deel van die biodinamiese stelsel omdat hulle kelderafval (stingels en doppe) en onkruid omskakel in voedingryke mis wat vir kompos gebruik word. Die biodinamika vereis ’n geslote stelsel, en die beeste maak dit moontlik.

“Met my terugkeer, het ek dringend werk nodig gehad, want my pa het gesê as ek my studie kan opskop, kan ek na myself kyk. Ek het eers by die Spur gaan aanklop, maar nooit die werk gekry nie. Kort daarna, en omdat ek absoluut desperaat was vir werk, het ek ’n plaaswerker geword. Ek was deel van ’n span werkers wat op ’n aantal klein plase in die omgewing gewerk het.”

Ná ’n rukkie het van die plaaseienaars hom genader om lappies wingerde te bestuur.

“Ek het ingestem, en voor ek my oë kon uitvee, het ek nogal ’n klompie wingerd bestuur. Saam met die kennis wat ek opgedoen het, het ’n verpligting gekom. Ek het ook verlief geraak op filosofie en saans het ek gelees, onder meer die werk van Arne Naess, ’n Noorweegse filosoof en omgewingskundige. Iemand anders by wie ek baie aanklank gevind het, was Aldo Leopold. Sy boek A Sand County Almanac is beslis die lees werd.

Mnr. Johan Reyneke meen dis eintlik ’n bedekte seën dat hy nie op ’n plaas, as die seun van ’n boer, grootgeword het nie. “Ek het regte gestudeer, maar is glad nie die regstipe nie. Ek het wel op filosofie verlief geraak.”

“Hulle het my laat besef ’n mens hoef nie met alles te baklei en dit dood te spuit nie. In die ou dae is jy deur die natuur bedreig, maar deesdae is jy eintlik die natuur se bedreiging. Die skoen is aan die ander voet, maar saam met die mag kom verantwoordelikheid. Ek het besef die mens staan nie teenoor die natuur nie, maar is ’n onderdeel van ’n groter stelsel.”

Kort voor lank het Reyneke besluit om organies te boer op Uitzicht, ’n lappie grond wat sy ouers in later jare gekoop het. Maar sy bankbestuurder het nie saamgestem nie.

“Hy was baie skepties, want soos dit is, is boerdery nie juis winsgewend nie, nou wil ek nog ’n organiese roete volg, wat baie meer risiko inhou. Uiteindelik het hy gesê as ek aan hom kan bewys dat ek in een blok wingerd organies kan boer, kan ons praat oor die res van die plaas.”

Nou lag hy daaroor, maar binne ses maande het hy elke “plaag, gogga en siekte in Suid-Afrika” in die blokkie wingerd gehad.

Waar om te begin?

“Dit was ’n nagmerrie! Ek het ’n eksistensiële krisis ervaar, want terwyl ek so lief was vir Moeder Natuur, het sy duidelik nie dieselfde oor my gevoel nie. Ek het glad nie geweet wat om te doen nie, en al my bure en medewerkers het vir my gesê: ‘Maar ons het jou mos gesê . . .’

“Die ouens by die Geisenheim-universiteit was darem ’n bietjie meer aanmoedigend en het my in die regte rigting begin stuur. Die grootste omwenteling het gekom toe ek voorgestel is aan Jean Malherbe, wat op die plaas met die pragtige naam Bloublommetjieskloof naby Wellington, geboer het.”

Malherbe het saam met Reyneke deur Uitzicht se wingerde gestap. “Ek onthou ek het nog vir haar gevra: Jean, waar moet ons begin? Haar antwoord was: Wel, waar wil jy begin? Dit was so ’n chaos, ek het nie geweet wat om te sê nie.

“Sy gaan toe voort: Jy boer organies deur verwaarlosing. Wat jy moet doen, is om organies te boer deur ontwerp. Daar is ’n verskil. Jy’t basies net opgehou boer, en jou plaas is besig om teen ’n stink spoed weer ’n wildernis te raak. Jy moet ’n nuwe stelsel of metodologie kry wat werk.”

Dié stelsel, het Malherbe gesê, moet deur volhoubaarheid voortgedryf word.

“Konvensionele boerdery is uiters doeltreffend om risiko te verminder, dit gee vir jou beheer oor groot stukke grond en dit maak boerdery heelwat makliker, maar dit kom ook teen ’n prys vir die omgewing en die mens.

“Organiese boerdery is soos ’n aandeel- houersportefeulje; jy wil dit opbou en jou lewe lank in die grond belê sodat dit kan groei en groei en groei. Jy wil nie aandele verkoop en soveel moontlik dividende vir jouself vat en dan uiteindelik ’n leë voertuig aan jou kinders nalaat nie.”

Onkruid is jou vriend

Die oplossings lyk anders op ’n organiese plaas, al verskil die probleme nie soseer van dié van konvensionele boerdery nie.

“Jean het my geleer dat min van die plante wat hier groei problematies is, en dat die meeste van hulle eintlik voordelig is. Hulle is hier vir ’n rede, daarom hou ons op om met die natuur te baklei, en werk eerder daarmee saam. Ons koloniseer die gebied met so veel moontlik voordelige plante – ek hou van 11 plante per vierkante meter.”

Die enigste wat hulle met wortel en tak verwyder, is kweek. Daar is genoeg grasag- tige plante (soos raaigras en wildehawer) wat natuurlik op die plaas groei, maar hy saai ook peulplante (soos lupiene, velderte, wieke en medics) om stikstof te bind, asook grasse wat die grondstruktuur verbeter.

Dekgewasse help om stikstof te bind, maar ook om die grondstruktuur te verbeter. Reyneke sê daar is genoeg grasagtige plante wat natuurlik in die wingerd groei, daarom konsentreer hy eerder daarop om peulplante te saai. Foto: VERSKAF

Na gelang van die seisoen sal hy in sommige jare die bankies deeglik laat skoffel, die dekgewas met ’n bossiekapper bykom of sommer net met ’n buiteband platsleep. Die belangrikste is dat die organiese materiaal op die grond agterbly.

“Die ouens by die Geisenheim-universiteit het uitgewerk dat as jy die humusvlak van grond tot 5% bou, verbeter jou plante se veerkragtigheid met 300%.” Destyds was die koolstofvlak van die beste grond op Uitzicht sowat 0,9%. Hulle kon dit bou tot 4,3%.

“Deesdae is daar balans en diversiteit op die plaas. Nou is dit so maklik soos om uit ’n boom te val om organies daar te boer.” Op die nuwe Reyneke-wynplaas, die voormalige Beau-Joubert waarvan hy 40 ha gekoop het en nog 40 ha namens die ander eienaar bestuur, is dit tans ’n ander storie, maar Reyneke gee weer “babatreetjies” om die plaas oor te skakel.

“Hier moet ons ingrypender optree, soos om die onkruid in die wingerd met die hand te verwyder. Dit duur ’n rukkie voor diversiteit intree. Hoe harder die plaas konvensioneel geboer is, hoe moeiliker is dit om oor te skakel, maar namate ons sagter boer en die stelsel ’n bietjie makker raak, word die plante wat hier groei en oorleef ook makliker om te bestuur,” vertel hy.

Sorg vir jouself

Malherbe was ’n biodinamiese boer wat aan die Emmerson-kollege in Brittanje gestudeer het. En toe sy Reyneke begin aanmoedig om in dié rigting te dink, het hy ook eers getwyfel.

“Dis esoteries en so . . . maar sy het met baie praktiese voorstelle gekom. Biodinamika word dikwels die voedoe van wingerdbou genoem, maar eintlik is dit soos ’n tafel wat op vier bene rus. Twee van die bene ís vreemd en out there, maar die ander twee is eintlik heel maklik om te verstaan.” Die eerste been is om selfversorgend te raak.

“ ’n Konvensionele plaas word soos ’n besigheid bestuur, met profyt as jou primêre doelwit. ’n Organiese plaas word ook soos ’n besigheid bestuur en die motief is ook wins, maar jy wil dit bereik op ’n omgewingsvriendelike manier. ’n Biodinamiese boer wil al hierdie dinge regkry, maar op ’n selfversorgende manier.”

Beeste was hul oplossing

“Jy moet jou wingerd ná oestyd voed. Die goedkoopste manier is om superfosfaat en LAN by die koöperasie te kry, dit in die wingerd te gooi en só die stikstof en fosfaat wat jy geoes het, te vervang.

“Die organiese ouens sê dis nie ideaal vanuit ’n biologiese oogpunt nie, want die kunsmis versuur die grond, maak die mikrobes, swamme en grondlewe mettertyd dood en skep ’n onvrugbare omgewing. Dit loog ook uit in jou waterbronne. Hulle gebruik iets soos gekomposteerde, verkorrelde hoendermis, wat goedkoper is vir die natuur, maar nie jou sak nie.

Wintertyd wei die beeste in die wingerd. Hulle word uitgehaal sodra bottyd aanbreek.

“Met biodinamika moet jy afval herverstaan. Op die hele planeet is dit net die mens wat mors, geen dier sal mors nie. Beeste help jou om afval in ’n bate om te skep. Ons vat die kelderafval – soos die doppe en stingels – en voer dit vir die beeste pleks van om dit weg te ry. Dan gebruik ons al die beesmis weer in die wingerd. Jy skep ’n geslote stelsel.”

Dis toe hy hiermee begin, dat die ouditeur wou weet hóé dit moontlik is om winsgewender met kleiner opbrengste te wees. “ ’n Konvensionele boer is uitgelewer aan die genade van multinasionale maatskappye, wat nie op die rand gegrond is nie. Dit raak elke jaar duurder en duurder om hul pro- dukte te koop, maar jou koeimis kos altyd dieselfde.”

Die beeste help ook met onkruidbestuur, want wintertyd – voor die wingerd begin bot – wei hulle in die wingerd, waar hul mis ook welkom is. Hulle is tans besig om ’n prototipe-hoenderhok te ontwerp, sodat hoenders die beeste kan opvolg. Hulle versprei die miskoeke oor ’n groter gebied, bestry kalanders en vreet boonop die vlieglarwes.

Snags word die beeste gekraal, op dekriet wat van huise se dakke afkomstig is. Saam met die mis en urine raak dit wonderlike kompos. Sy praktiese reël is om een deel stikstof vir elke dertig dele koolstof in die komposhoop te bou. Hy pak dit in windrye (sowat 1,5 m x 10 m), waarna hy bolletjies beesmis, gestop met biodinamiese rate, indruk.

Elke wingerdstok op die plaas kry ná oestyd kompos. Hulle dien ’n hand vol tot twee grawe vol in uiterste gevalle toe. Foto: VERSKAF

Hy gooi wilde-als bo-oor om hitte te bring en die kompos aan die brand te skop. In die herfs gee hy elke wingerdstok op die plaas kompos – minimum ’n handjie vol, in ander gevalle tot twee grawe per stok. Hy gebruik ’n Ohlmi, wat amper soos ’n draadborsel werk, om die onkruid los te maak en die organiese materiaal in die grond in te werk.

“Só gebruik jy die natuur om mettertyd die grond op te bou. Die selfversorgende deel is dus die maklike deel.”

Oor mikrobes sê Reyneke: “Hulle maak jou lewe makliker, want hulle bespaar jou geld, verhoog jou voedingstowwe en sorg dat al die kos in jou grond beter benut word. Ons het nou drie jaar se droogte agter die rug, en ons oes is nie kleiner nie.

“Daar is seker ’n klomp redes, maar danksy die verhoogde humus-vlakke is ons grond se waterhouvermoë beter en afloop minder.” Die plaas is met ’n drupstelsel toegerus, maar Reyneke besproei nie graag nie.

“Vir my is besproeiing net daar vir gehalte. Maar ek sal ’n plan maak vir ’n jong wingerd wat nog nie voldoende ontwikkel is nie, of ’n stokou wingerd wat sukkel in ’n droogtejaar. Ek het ook ’n fertigator, en ek kan dus kompostee en miswater ook deur die stelsel sit. Deesdae gee ek net 50% van die water as toe ek konvensioneel geboer het.”

Sien waarde raak

Die tweede been gaan meer oor die inherente waarde van dinge, as net hul kommersiële waarde. Diere, werknemers en plante word nie as objekte beskou nie, maar as subjekte wat waarde tot die plaas toevoeg.

“Ja, ons slag en ons drink melk en ons dra leer, maar ons respekteer die integriteit van die beeste. Hulle word nie onthoring nie, hulle leef vry, hulle gaan nie na ’n voerkraal toe nie. Ons is dankbaar vir al die ander dinge wat hulle ook na die plaas toe bring, soos hul mis, hul vermoë om weidings te skep en hul vermoë om my kalmer te laat voel – veral as die kontantvloei druk!”

Die ‘snaakse’ dinge

Die laaste twee bene is die “snaakse” dinge, wat mense gewoonlik van biodinamika afsit, vertel Reyneke. Dis die preparate en plantkalender wat hulle volg. Daar is 9 preparate – 500 tot 508. Die preparate 500 en 501 is die boordspuite, 502 tot 507 is kompos-preparate en 508 word gebruik teen swamsiektes.

Preparate is een van die vier “bene” van biodinamika. Reyneke maak sy eie preparate. Foto: VERSKAF

“Dis waar biodinamika my amper verloor het. Toe dinge vir my op ’n organiese vlak begin werk, het Malherbe biodinamika aan my verduidelik. Toe sy praat oor hoe om die preparaat 500 te maak – met ’n beeshoring wat jy met mis vul en vir ses maande in die grond begrawe voor jy dit in ’n vorteks roer en in homeopatiese hoeveelhede in die wingerd uitspat – was ek soos: ‘Dit klink lekker, maar ek gaan eerder surf. Dis bygeloof, voedoe!”

Sy het toe gevra of sy “haar magic potion-ding” in ’n paar rye kan doen. “Ek kon my oë nie glo nie. Binne ’n paar maande was die grond in die rye waar sy gespat het, ryk en donker. Dit was asof jy op ’n sagte, sponsmatras stap. Die res van die wingerd se grond was kliphard, ligbruin en het soos bakstene gevoel.”

Om die biodinamiese preparaat 500 te maak, word ’n beeshoring met mis gevul en vir ses maande in die grond begrawe. Daarna word dit in water opgelos, in vorteks, voor dit op die wingerde uitgespat word. Daar is baie esoteriese verhale daaroor, maar Johan sê dit kan net so maklik aan die hand van wetenskap verduidelik word. Foto: VERSKAF

Dit het Johan laat dink. Hoekom werk dit? “Biodinamika is die oudste vorm van organiese boerdery. Dit kom uit ’n tyd toe ons voorvaders ’n spirituele begrip van die wêreld gehad het. Vandag leef ons in ’n wetenskaplike era.”

Destyds het mense beeste as spesiaal gesien, omdat hulle vier pense het en kos anders verteer as byvoorbeeld skape of hoenders. Vandag weet ons die verspreiding van makro- en mikrovoedingstowwe is beter in beesmis as in ander mis.

Oor die jare heen het die idee ontstaan dat die horings magies is, omdat beeste so diep en ritmies asemhaal, en hul horings ’n verlenging van hul sinusse is. Hulle wou dus die mis en spesiale horings bymekaar bring. Maar dit was ook die ideale ‘‘voertuig’’, omdat dit lug deurgelaat het.

Die Grieke het geglo daar is ’n jaarlikse ritme. “Herfs en winter is koud, die blare val, die bome hou op groei, Moeder Natuur asem in. In die lente en somer bot die wingerde, ons oes al ons groente en vrugte in die somer, Moeder Natuur asem weer uit en haar energie kom tot uiting in al die plante en produkte wat ons kry.”

Tydens die koeler, vogtiger wintermaande is die toestande natuurlik baie beter om mikrobes in die grond te sit. Die vorteks hou verband met die konsep dat energie dikwels in die natuur in ’n spiraalvorm gemanifesteer word. “En as jy die oplossing roer, is dit natuurlik ’n doeltreffende manier om dit te belug – nes die belugters wat mense deesdae gebruik.”

Die kalender is opgedeel in vrugte-, wortel-, blom- en blaardae. “As jy kyk watter invloed die maan op die see het, is dit nie heeltemal verregaande om te dink die maan kan die sapvloei in plante – 96% waaruit ’n plant bestaan – beïnvloed nie.” Reyneke raadpleeg die kalender, maar volg dit nie dogmaties nie.

“As ek iewers volgende week Cabernet Sauvignon moet pluk, volg ek eers die wetenskap – die suur, die pH, die Brix en alles – dan proe ek en maak seker dis fenologies ryp. Eers dan trek ek die biodinamiese kalender nader. As dit sê Woensdag is ’n vrugte-dag, sal ek Woensdag pluk. Maar as daar ’n hittegolf op pad is, gaan ek nie wag tot Woensdag nie.”

Reyneke meen ’n mens moenie die weten- skap “vlak” verstaan nie. “Wetenskap is waar, maar nie absoluut nie. ’n Mens maak akkurate en korrekte afleidings, maar ons kom ook voortdurend tot nuwe insigte en voeg nuwe kennis by.

“Dis hoekom ’n mens ’n gesonde respek moet hê vir die dinge wat jy weet, maar ook dit wat jy nie weet nie. Vir my is biodinamika ’n lekker stelsel, dis goed vir die omgewing, dis winsgewend vir ons en dit hou boerdery interessant.”

Eende en trichoderma

Slakke was destyds op Uitzicht een van sy grootste probleme. Hy wou dit sonder gif aanpak.

“Die pennie het gedrop toe ek besef slakke is niks anders nie as ‘escargot’ – dieselfde slakke as wat hulle in Europa eet! Daardie eerste paar jaar het ons dus slakke geoes en hulle deur ’n middelman Europa toe gestuur en ’n klompie euro verdien.

“Later het ek gaan nadink oor wat in die natuur gebeur en besef eende vreet slakke. Ek het sowat 200 eende gaan koop. Hulle het in die wingerde geloop en nou, ná 18 jaar, is daar geen slakke oor nie, maar ook geen eende nie. Hulle het hulself wonderlik van hul taak gekwyt.”

Reyneke sê hy beskou swamsiektes as die Achilles-hiel van die organiese beweging.

Hoewel die meeste sertifiseringsliggame boere toelaat om koper te spuit om byvoorbeeld donsskimmel te bestry, het Reyneke besef die kopervlakke neem toe in sy grond, en sal mettertyd ook die lewe en diversiteit wat hy bou, vernietig.

Reyneke het destyds deur dr. Strauss Fer- reira, stigter van Agro-Organics, met trichoderma begin eksperimenteer. Deesdae gebruik hy die metaboliete, wat die trichoderma afskei, met groot sukses.

“Die wingerde groei en gloei en is gesond. Donsskimmel het gekom en gegaan en die wingerd was skoon. Ek weet nie hoe dit werk nie, maar my teorie is dit: Die natuur probeer swakheid uitwis. Die metaboliete laat die blare se Brix-inhoud opskiet, wat ’n teken aan goggas gee dat die wingerd gesond is.”

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.