Covid-19 het gelei tot ’n verandering in verbruikersvertroue, ’n groeiende kommer oor voedselveiligheid en hoe voedsel verbruik word. Dit beteken dat belanghebbendes in die bedryf verbruikers anders sal moet benader.

Alice Rui, ’n senior navorsingsbestuurder by die navorsingsmaatskappy Ipsos, het hierdie bevindinge bespreek op die eerste jaarlikse kongres van die Suidelike Halfrond se vereniging van varsprodukte-uitvoerders (SHAFFE).

Volgens Rui het die globale verbruikersindeks op ’n jaargrondslag sedert Januarie 2020 met 5,2% afgeneem, maar verbruikersvertroue het vanjaar reeds toegeneem. Dit toon dat verbruikers optimisties is oor die toekoms. In China het verbruikersvertroue egter gedurende die pandemie toegeneem, in teenstelling met die neigings in die meeste ander lande.

Wat voedselveiligheid betref, is verbruikers veral bekommerd oor die higiëne en sanitasieprosedures wat deel uitmaak van die verwerking, vervoer en voorbereiding van kos. Hulle is ook bekommer oor die moontlikheid van die oordrag van die virus tydens die hantering van voedsel en verpakking.

“Gedurende dié tyd was daar ’n toename in gesprekke oor die onderwerp op sosiale media en verkeerde inligting het tot oorversigtige gedrag gelei.”

Die vraag na wegneemkos of tuisaflewering het wêreldwyd toegeneem. Luidens Ipsos se opname het 60% van verbruikers aangedui dat hulle verkies om eerder tuis te eet as om uit te gaan. Benewens wegneemetes en tuisaflewerings het dit ook gelei tot die opkoms van die tuiskok. Dit is veral waargeneem in Suid-Amerika, maar minder in Japan en China.

Altesaam 43% van verbruikers het aangedui dat hulle meer aanlyn aankope doen. In China het 74% meer mense vars vrugte aanlyn aangekoop.

Gevolg vir bedryf

Belanghebbendes in die varsvrugtemark sal meer klem moet lê op die gesondheidswaarde van produkte, wat spesifiek gemik is op die gesondheidskwellinge wat verband hou met verbruikers se hedendaagse lewe.

Om verbruikers te lok moet gekonsentreer word op natuurlike produkte sonder kunsmatige bestanddele. Die produk moet in geheel van die natuur afkomstig wees. Hoewel Generasie Z nie so besorg is oor ’n gesonde dieet soos hul ouers nie, is organiese voedsel ’n prioriteit.

Verbruikers wil gesondheidsprobleme soos vetsug en slapeloosheid oplos en terselfdertyd hul immuniteit verbeter. Sommige mense sal daarom vegetariese diëte en die gebruik van vleisalternatiewe verkies.

Vervaardigers sal ook meer klem moet plaas op deursigtigheid aangesien verbruikers meer sal betaal vir voedselveiligheid. Daarvolgens moet aangedui word waar kos geproduseer word en wie dit gemaak het. As ’n voedselkrisis ontstaan, is dit belangrik om verbruikers te laat weet wat met die voedsel gedoen word en watter maatreëls getref is.