Volgens mnr. Matome Ramokgopa, algemene bestuurder van Enza Zaden Suid-Afrika, ’n internasionale saadmaatskappy met sy hoofkantoor in Nederland, ervaar hulle geen oponthoud met die invoer van saad nie. 

“Groentesaad word hoofsaaklik per lugvrag ingevoer en ten spyte van die drastiese vermindering in vlugte na Suid-Afrika ervaar ons geen oponthoud nie. Ons het genoeg voorraad ingekoop om vir die volgende vier maande in al ons kliënte se behoefte te voorsien. Bestelvolumes is soortgelyk as ander jare. Dit is dus duidelik dat produsente ’n langtermynuitkyk het en nie drastiese veranderinge in die vraag na vars voedsel verwag nie.”

Hoewel daar geen rede tot kommer oor saadvoorsiening is nie, sal die ongunstige wisselkoers ’n uitwerking op saadkoste hê.

“Ons ondersoek opsies om die uitwerking van die verswakte rand teen te werk. Die ongunstige wisselkoers maak die meeste landbou-insette aansienlik duurder, wat ons produsente onder groot druk plaas.”

Volgens mnr. Shaun Biggs, uitvoerende hoof van Sutherland Seedlings, is bestellings vir groente-saailinge bestendig.

“Ons kliënte boer meestal teen die ooskus van KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap en lewer hul produkte op die platteland en aan informele markte. Daar is steeds ’n gesonde aanvraag na saailinge in daardie gebiede. Ons voorspel geen afwyking van die normale neigings nie.”

Die Internasionale Saadfederasie het ’n beroep gedoen op alle regerings om hul grense vir die vervoer van saad oop te hou om te verseker dat produsente saad vir produksie in die hande kan kry.

Mnr. Michael Keller, hoofsekretaris van die federasie, sê daar is genoeg bewyse dat die virus wat Covid-19 veroorsaak, nie meer as ’n dag of twee op die oppervlak van saad of verpakking oorleef nie. Ingevoerde saad hou dus nie ’n groot verspreidingsrisiko in nie.