“ Volhoubaarheid is nie langer genoeg nie,” het me. Jess Baum, direkteur van volhoubaarheid en herlewingsontwikkeling by Fetzer Vineyards in Kalifornië op ’n onlangse webinaar, aangebied deur die internasionale instituut vir wynmeesters, gesê.

“Die term is geskep in ’n tyd toe die ekologiese krisis rondom klimaat nie was waar dit nou is nie. Ons moenie net hulpbronne bewaar vir toekomstige geslagte nie, maar ook aktief planne beraam om die wonde te genees wat vorige geslagte veroorsaak het.

Dít is waaroor herlewingslandbou gaan,” het sy gesê. Die doel van die webinaar was om ondersoek in te stel na volhoubare internasionale wynhandel, wat sowat $350 miljard werd is en miljoene mense wêreldwyd in diens neem (veral in landelike gebiede).

Bykans 500 mense het op die webinaar ingeskakel.

Drie pilare

Dr. Irinia Santiago-Brown, ’n wynboer van McLaren Vale in Australië en wêreldleier in volhoubare wynproduksie, het gemaan volhoubaarheid kan nie net oor omgewingspraatjies gaan nie.

“ ’n Volhoubare wingerd is dié een wat ekonomies aan die boer kan voorsien, maar terselfdertyd sy vermoë behou om deurlopend te produseer en gehalte mettertyd te verbeter.

Ons kan nie oor volhoubaarheid praat sonder om ekonomiese en maatskaplike aspekte in ag te neem nie. ’n Volhoubare stelsel kan nie sonder al drie bestaan nie.”

Waar sy voorheen gedink het aan volhoubaarheid as ’n soort strategie wat enige onderneming benodig, meen sy nou dit is eerder die mens se reaksie op dinge rondom hom of haar.

“As hulpbronne onbeperk was, sou dit nie nodig wees om ons manier van doen te verander nie.” Bosman Family Wines op Wellington word al sedert 2008 voorgehou as een van die beste grondhervormingsprojekte in die plaaslike wynbedryf.

Sowat 28% van dié agstegeslag-onderneming en wingerd is destyds na werkers, van wie sommige ook al vyf geslagte op die plaas werk, oorgedra.

Me. Corlea Fourie, wingerd- en wynbestuurder by Bosman Family Wines, sê hulle beskou die volhoubaarheidspilare as ’n meettoestel om die doeltreffendheid van hul inisiatiewe te bepaal.

“As iets te kort skiet wat die pilare betref, kan jy jou idees heroorweeg. Ons soek oplossings – byvoorbeeld soos vir hoër elektrisiteitstariewe of loonstygings – wat ál die pilare pas.” Hieroor sê Santiago-Brown: “Dit moet betekenisvol wees sodat dit jou onderneming verbeter.”

Bosman Family Wines verbou druiwe op Wellington, by Paardeberg en die Hemel-en-Aarde-vallei (foto). Die onderneming voldoen aan Fairtrade se standaarde en beskou dit as ’n werktuig om die doeltreffendheid van al sy inisiatiewe te meet. Foto: VERSKAF
Me. Corlea Fourie, die afgelope 14 jaar Bosman Family Wines se wynmaker, sê een van die grootste voordele van hul grondhervormingsprojek is dat vaardighede behoue bly. Gemeenskapsontwikkeling vind ook plaas.
Bosman Family Wines neem sowat 500 mense in diens, van wie die meeste deel vorm van die Adama-werkerstrust, wat aandele in die onderneming en wingerd besit. Foto: VERSKAF

Maatskaplike aspekte

Fourie sê een van die grootste lesse wat sy geleer het, is dat die maatskaplike ongelykhede van die verlede – iets wat dikwels as ’n groot struikelblok gesien word – geleenthede skep tot differensiasie.

“Ons besigheid is van só ’n aard dat die hele waardeketting – van wingerdbou tot die stokkieskwekery en die oes- en wynmaakprosesse – van hande-arbeid afhanklik is.

“Die tien miljoen stokkies wat ons jaarliks kweek, word elkeen omtrent 50 keer met die hand hanteer. Vaardighede is dus baie belangrik en ons kon sowat 500 mense oor die jare by die besigheid hou.

Die vaardigheids- en gemeenskapsontwikkeling wat plaasvind, is ongelooflik.” Sy sê die feit dat almal eienaarskap deel, lei tot ’n meer geïntegreerde benadering wat almal ondersteun.

Herlewingslandbou

Mnr. Julien Gervreau, visepresident van volhoubaarheid by Jackson Family Wines, ’n derdegeslag-wynboerdery in Noord-Kalifornië wat ook wynplase in die meeste wynproduserende lande, waaronder Suid-Afrika, besit, sê hulle het sowat ses jaar gelede begin kyk na die skakel tussen koolstofsinking, grondgesondheid en klimaatverandering.

Hul jaarlikse produksie beloop sowat vyf miljoen kiste wyn. Hulle meet alles getrou sodat hulle kan bewys hul belegging in volhoubaarheid is goed vir die algemene welstand van die onderneming. Hy hoop ook hulle kan só ander beïnvloed in hul besluitnemingsproses.

“Die geleenthede vir herlewingslandbou binne die wynbedryf – en die hele landbou – is enorm.

Namate ons meer begin verstaan oor herlewingslandbou, grondgesondheid en koolstofboerdery, begin mense al meer geleenthede raak sien vir die landbou om deel te raak van die klimaatoplossing,” meen hy.

Maar vir ’n besigheid wat oor geslagte strek, is dit amper makliker om dié siening in te neem.

“Die hele slow it, sink it, spread it-mentaliteit. Ons moet nuut dink oor ons verhouding met ál ons hulpbronne.”

Is dit lonend?

Baum meen daar is ’n goeie sake-argument te voer om meer volhoubaar op te tree. “Ons weet veral dit is belangrik vir die jonger geslag. “Millenniërs is verantwoordelik vir sowat $1 triljoen se besteding en 87% van hulle meen maatskappye moet maatskaplike en omgewingskwessies aanroer.”

Gervreau beaam die belangstelling onder jonger mense in wyn en produkte wat verantwoordelik geproduseer is. “Dit is egter nog baie moeilik vir mense om die driedubbele konsep van volhoubaarheid te verstaan.

Dit is makliker om aanklank te vind by iets soos klimaat. “Ek moet erken, ons kan beter vaar daarmee om ons kelders en handelsmerke vanuit ’n volhoubaarheidsoogpunt te bemark, maar ons sien dat ons handelsvennote ons pogings ondersteun en erken, en saam met ons wil werk.

Daar is dus baie geleenthede, ons moet dit net ontsyfer.”

Dr. Irina Santiago-Brown van McLaren Vale in Australië word wêreldwyd as kenner van volhoubare wynproduksie beskou. Foto: Milton Worldley
Mnr. Julien Gervreau staan aan hoof van volhoubaarbeid by Jackson Family Wines in Kalifornië. Foto: VERSKAF
Me. Jess Baum is verantwoordelik vir onder meer herlewingslandbou by Fetzer Vineyards, een van die grootste biodinamiese wynplase in Amerika. Foto: Badger Blog

Een stelsel om almal te meet?

Dit is reg oor die wêreld ’n struikelblok vir boere om aan ’n verskeidenheid sertifiseringstelsels te moet voldoen. Dit is duur en die prosesse is omslagtig.

Fourie sê die voordeel van die stelsels is egter dat dit koers gee aan naspeurbaarheid en vertroue. Bosman Family Vineyards produseer sedert 2009 onder die Fairtrade-vaandel.

“Dit bied ’n progressiewe model wat ons interaksie met die drie pilare meet. Vir ons is dit ook ’n roete na die mark wat baie deure oopgemaak het, want die hekwagters by die kleinhandelgroepe – die mense wat besluite moet neem – het nou iets om jou wyn se gehalte en kenmerke aan ‘op te hang’.

As jou wyn gesertifiseer is, beteken dit daar was ’n mate van voldoening, wat hul taak vergemaklik.”

Santiago-Brown sê hoewel ’n enkele, oorkoepelende stelsel moontlik is, moet dit ruimte laat vir verskille tussen streke, grootte van ondernemings en die konteks waarbinne plase bedryf word.

“Ek boer in ’n gebied waar die siektedruk baie laag is en dit is dus baie maklik om organies of biodinamies te produseer. “Dit sal dus nie regverdig wees om my te vergelyk met boere wat in natter gebiede met meer siektes boer wat spuitprogramme betref nie.”

En hoe om die “slegte appels” te hanteer wat die res van die bedryf se aansien kan skade berokken? Gervreau sê hoewel ander belanghebbendes nie beheer kan word nie, het plase ’n verantwoordelikheid om as rolmodel op te tree en met ander te deel hoe hulle sukses behaal het.

“Dit gaan oor hoe jy jou stem gebruik om verandering teweeg te bring. Internasionale kelders is baie goeie voertuie om dit te doen, veral as dit by klimaatskwessies kom.”

Herlewingslandbou in die wynbedryf

Me. Jess Baum van Fetzer Vineyards het gesê die doel van herlewingslandbou is om plante te gebruik om koolstofdioksied (wat deur die ontwikkeling van nywerhede in die atmosfeer vrygestel word) in organiese grondkoolstof te omskep.

Só word die klimaatskrisis én voedselsekerheid aangepak. Fetzer Vineyards volg al 35 jaar lank herlewingslandboupraktyke en is die naasgrootste biodinamiese wingerdplaas in Amerika.

Baum sê hulle gebruik 75,5% minder water per glas wyn wat hulle produseer as die bedryfsgemiddelde. “Wyn leen homself tot minimumbewerking omdat dit ’n meerjarige gewas is.

Grond is ’n lewende organisme wat asem haal, net soos ons liggame uit miljoene dele en selle bestaan. Daar is mikorisa, swamme, bakterieë en allerhande ander mikro-organismes wat saamwerk om byvoorbeeld grond saam te bind.

As ons bewerk, breek ons dit op. ’n Oorvloed suikers word dan onmiddellik aan die plante beskikbaar gestel. Op kort termyn kry jy goeie gewasgroei, maar op lang termyn bou jy nie die grond nie.

As jy egter die mikrokosmos onder die grond uitlos, hou dit aan met ontwikkel, en skep allerhande voordele, soos beter waterhouvermoë.”

Hulle gebruik ook dekgewasse om die ondergrondse diversiteit te verbeter en vermy sintetiese produksiemiddele wat van fossielbrandstowwe gemaak word om hul koolstofspoor te verklein.

“Ons gebruik eerder kompos. Ons bring ook skape in die wingerd in, want daar is wonderlike studies oor die integrasie van weidende diere.” Mnr. Julien Gervreau van Jackson Family Wines sê hulle meet sedert 2008 die organisasie se kweekhuisvrystellings.

“Ons wou verstaan wat dié vrystellings aandryf en hoe ons ons spoor kan verklein en ons veerkragtigheid kan verbeter. Dit is ook vanuit ’n sake-oogpunt sinvol om oor byvoorbeeld jou waterverbruik te besin.”

Kaliforniese boere het nie voorheen vir water betaal nie, maar dit verander nou. Boere het dus bykans oornag ’n goeie rede gekry om water spaarsamiger te gebruik.

“Ná die vorige droogte – in 2013-’14 – het ons begin kyk na maniere om water te hergebruik, asook hoeveel dit ons kos om water te gebruik. As jy dit in ’n finansiële konteks sit, kan jy dit maklik regverdig om water te bespaar en in tegnologie te belê wat dit moontlik maak.

Ons dink deesdae anders oor ons verhouding met water.” Die organisasie versamel deesdae reënwater van sy kelderdakke af, en gebruik dit om onder meer vatkamers te verkoel. Hy span ook tegnologie in om water te suiwer en hergebruik om vate te was.

Op die weerfront is Kalifornië se reënval in die skouerseisoene minder, en wanneer dit wel reën, val alles op een slag. Hulle ervaar ook dit is vanjaar baie vroeër droog as gewoonlik.

“Ons gebruik al baie versigtig die d-woord (droogte).” Dit het hulle aangemoedig om reënwateropvangsgebiede op die plase te verbeter sodat hulle water het om later in die seisoen te gebruik.

Die staat van Kalifornië begin deesdae boere verplig om kompos te maak. By Jackson Family Wines word afvalmateriaal, soos snoeisels, doppe en pitte, gebruik om grondopbouende kompos te produseer.