’n Artikel in die mediese vaktydskrif The Lancet het onlangs gewaarsku dat ongesonde eetpatrone deesdae ’n groter impak op mense se gesondheid en langlewendheid het as onbeskermde seks, drank-, tabak- en dwelmgebruik saam.

Dit is goeie nuus vir Suid-Afrika se makadamiabedryf, sê mnr. Alan Duncan, uitvoerende hoof van Green Farm Nut Co., een van Suid-Afrika se grootste verwerkers en uitvoerders van makadamianeute.

Alan Duncan
Mnr. Alan Duncan, uitvoerende hoof van Green Farm Nut Co. Foto: Jasper Raats

Duncan het op die onlangse vergadering waarop Green Farms sy jaarlikse prysaanbod aan produsente aangekondig het, spesifiek na dié artikel verwys deur te sê daar sal dus steeds ’n sterk vraag wees na neute al word voorspel dat makadamiaproduksie binne die volgende tien jaar gaan verdubbel.

Luidens die artikel gaan gesondheidskwessies die mensdom dwing om teen 2050 dubbel soveel neute, bone, groente en vrugte te eet as nou. In die artikel word voorspel dat die verbruik van rooivleis en suiker oor dieselfde tydperk gaan halveer.

Teen die koers wat makadamiabome tans aangeplant word, word voorspel dat die wêreld se makadamiaproduksie oor tien jaar sal verdubbel. Suid-Afrika, die grootste produsent van makadamianeute ter wêreld, het verlede jaar net meer as 52 000 ton ongedopte neute geproduseer. Die wêreldoes vir 2018 was 211 000 ton.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.