Deesdae is dit ’n simposium oor twee dae met besoekers van reg oor die wêreld. Sowat 70% van Suid-Afrika se avoprodusente het vanjaar die simposium by die Hoërskool Merensky in Tzaneen bygewoon.

Van die 515 geregistreerde afgevaardigdes was 54 internasionale gaste uit Australië, Mexiko, Spanje, Israel, Peru, China, Amerika en Suid-Afrika se buurlande soos Mosambiek en Zimbabwe.

Die kultivar waarvan Allesbeste-kwekery die plantregte reeds in 2004 geregistreer het, sal teen volgende jaar 1 500 ha van Suid-Afrika se avokado-aanplantings verteenwoordig. In die res van die wêreld word dit reeds kommersieel verbou in al die avokado-produserende lande buiten Mexiko. Ernst sê die enkele fitosanitêre kwessies wat die aanplanting van Maluma in dié land pootjie, sal eersdaags opgelos wees en dan sal daar Malumabome wees in elke land waar avokado’s verbou word.

Die kultivar vaar besonder goed in die noorde van Peru en ook in die warm dele van Israel waar ander donkerskilkultivars swaarkry. In Australië word die Maluma aangeplant teen ’n koers van omtrent 20 000 bome per jaar.

Hoewel Hass nog die grootste aandeel in die wêreld-avokadomark het, is Maluma besig om in alle markte sy staal te wys. In Suid-Afrika is dit nou die tweede grootste donkerskilkultivar met Wesvalia se Gems in die derde plek. In Mosambiek kraai die kultivar koning met 39% van die land se totale avokado-aanplantings onder Maluma.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.