Dis ’n groot ekonomiese terugslag vir die hele distrik Tzaneen en vir baie van die verskaffers wat betrokke is by die simposium, sê mnr. Donovan Lewis, handelsmerkbestuurder van Maluma. Hy het voor die bekendmaking met besighede op die dorp geskakel om te waarsku dat die simposium uitgestel word. Die simposium lok elke jaar vroeg in Maart meer as 500 afgevaardigdes na Tzaneen. Verlede jaar was daar 60 internasionale afgevaardigdes.

“Ons ideaal is om eerder uit te stel as af te stel. Hoewel ons nie nou ’n spesifieke datum kan vasmaak nie, mik ons vir vroeg in Augustus,” sê Lewis. Hy wys egter daarop dat ander landbougeleenthede onbepaald uitgestel is en voorsien dat organiseerders gaan moet fyntrap om nie met ander geleenthede te oorvleuel wanneer sulke groot byeenkomste weer aangebied kan word nie.

Lewis sê hoewel Maluma se bestuur byna daagliks in aanlyn gesprekke met kwekers, kliënte en verskaffers betrokke is, is daar geen plaasvervanger vir ’n fisieke byeenkoms nie.

“Geen video kan by die voordele van ’n fisieke boordbesoek kers vashou nie,” sê hy. Daarom oorweeg die organiseerders nie tans om die simposium aanlyn aan te bied nie.

“Die Maluma-simposium word in elk geval elke jaar via YouTube gebeeldsend, maar die meeste mense verkies om dit in persoon by te woon, juis vir die geleentheid om mekaar in die oë te kyk, vrae te vra, te leer en transaksies te beklink.”

Lewis sê dieselfde geld die internasionale varsprodukte-expo Fruit Logistica, wat elke jaar in die eerste week in Februarie in Berlyn aangebied word. “Daar kan ons sien wat die res van die wêreld doen, en nuwe sakegeleenthede ondersoek. Dit is daar dat ons transaksies beklink met ’n handdruk en later met papierwerk opvolg. Sonder die persoonlike interaksie is sulke ooreenkomste en gesprekke nie moontlik nie. Aanlyn is eenvoudig nie dieselfde nie.”

Fruit Logistica is uitgestel tot die eerste week van Mei. “Ons hou duime vas en hoop ons kan almal in Mei bymekaarkom,” het me. Madlen Miserius, een van Fruit Logistica se senior bestuurslede, in ’n onlangse videoboodskap aan die varsproduktebedryf gesê.