Hy het onlangs saam met mnr. Louis de Kock van Nile.ag aan ’n webinaar van die varsproduktemarkagentskap PMA en Beanstalk.Global oor dié onderwerp deelgeneem.

“Ons sien wisselende vraag en aanbod in die landbousektor,” het Jacobs, ’n kenner van aanlyn markte, gesê. “Verkopers is grootliks geïsoleer en kopers sukkel om produkte in die hande te kry. Aanlyn markte maak dit vir kopers en verkopers maklik en kostedoeltreffend om digitaal handel te dryf.”

Aanlyn markte het oor die jongste klompie jare toegeneem en markte geskep waar daar voorheen niks was nie.

Vir verkopers, kopers en boere hou hierdie manier van handel baie voordele in. Dit oorbrug die beperkinge wat fisieke spasie op markte plaas, dit bied inklusiewe marktoegang, verminder koste en verkort die verskaffingsketting.

De Kock het gesê die sleutel tot sukses vir aanlyn markte lê in wat hy noem digitale ekostelsels. “Jy moet eerstens ’n vertrouensverhouding rondom gehalte en prysvormingsmeganismes tussen al die betrokke partye skep. Dan kom die fisieke vervoer van produkte van die verkoper na die koper. Die hoofdoel is om die boere in verbinding te plaas met die markte waar die grootste behoefte vir hul produkte is. Hierdie markte is nie noodwendig die markte naaste aan die boere nie, dit kan diep landelike gebiede wees, buurlande en selfs oorsee.”

Die teendeel is ook waar. Jacobs sê handel aanlyn kan voorkom dat boere produkte stuur na ’n mark wat ver geleë is, van waar die produkte na verbruikers naby aan hulle vervoer moet word. Aanlyn handel kan boere en verbruikers tyd en geld bespaar. Hy raai boere aan om meer oor aanlyn markte te probeer leer, daarmee te eksperimenteer of om kundiges op die gebied te nader vir bystand.