Dit maak nie saak in watter bedryf ’n mens is nie – as jy sien dit is suksesvol en jy gaan geld maak, is dit lekker. Só sê mnr. Koos de Villiers van die Morgenster-landgoed buite Durbanville oor sy en sy broer, Hennie, van die Ongegund-landgoed, se besluit in 2017 om amandelboorde te vestig.

Die broers was hul lewe lank wynboere, maar die harde werklikheid van dié bedryf is dat die netto inkomste per hektaar in baie gevalle nie meer sin maak nie. “Ons is baie lief vir die wyn- en wingerdbedryf, maar jy bereik ’n stadium dat jy sien jy het alles gedoen en jy maak steeds nie geld nie. Dán breek jou moed,” vertel Koos.

Hy en Hennie het begin rondkyk vir ander gewasse om by hul boerdery te voeg. Toevallig het hulle in kontak gekom met Unlimited Nuts, ’n maatskappy wat ’n verskeidenheid neute verbou en internasionaal bemark. Die amandelbedryf was dadelik vir albei broers aanloklik.

“Ons hou veral daarvan dat die koste en arbeid minder is as vir wingerd. Ons is baie optimisties, want dit lyk of amandels beter behoort te vaar as wyndruiwe.”

Boonop bied dit die geleentheid dat hulle hul grond beter kan benut. “Ons plant amandels op die laergeleë dele van die plase, want die oesmasjiene kan in elk geval nie teen die koppe werk nie en die wyngehalte is beter bo teen die koppe.”

Op Ongegund het hulle altesaam 11,5 ha oor drie jaar aangeplant en op Morgenster is 4,5 ha aangeplant. Hul mikpunt is om minstens 30 ha te vestig, maar hulle sal hul waterbronne in gedagte moet hou.

ln080421Amandels6.png
Van links is mnre. Johan Burnett, Koos en Hennie de Villiers en Michael Oosthuizen. Daar is groot opgewondenheid oor die potensiaal van hoëdigtheid-amandelboorde in Suid-Afrika.

OPLEISTELSEL EN DIGTE AANPLANTINGS

Vanuit die staanspoor het hulle die Spaanse hoëdigtheidmodel met opgeleide bome vir amandelboerdery bo dié van die Kaliforniërs verkies. “Ons probeer om met dié stelsel vroeër produksie te kry, asook in die algemeen hoër produksie.”

Hennie meen die toestande in Spanje is meer soortgelyk aan dié van die Wes-Kaap. “In Spanje is daar ook vlakker en swakker grond en die boere kom met minder water oor die weg.”

Die De Villiers-broers plant altesame 1 905 bome per hektaar (1,5 m in die ry en 3,5 m tussen die rye) aan teenoor die tradisionele sowat 400 bome. Soos Hennie sê: “ ’n Trekker moet net kan inpas tussen die rye.”

Koos sê hulle het op ’n boeretoer in Spanje verskeie amandelplase besoek waar dit die algemeenste plantwydte was. Die een vraag wat almal tydens die toer gehad het, was oor plantwydte. “Ek dink almal wonder steeds daaroor vir die Suid-Afrikaanse toestande. Die tyd sal leer.”

Die bome word opgelei met ’n stelsel wat die broers ietwat aangepas het. “Vir die eerste aanplantings het ons pale van 3 m lank en ’n sesdraadstelsel gebruik, maar dit was baie duur. Daarna het ons wingerd uitgehaal en besluit om die pale vir die amandels te hergebruik. Ons het ankerpale van sowat 2,4 m gebruik en die res van die pale is sowat 2,1 m lank.

“Dit word ongeveer ’n halwe meter diep in die grond ingeslaan. Ons span net drie drade met dié stelsel. Die hoogste draad is sowat 1,6 m van die grond af. Ons het agtergekom as die boom langer as dit raak, is hy sterk genoeg om homself te ondersteun,” sê Hennie.

Die eerste twee tot drie jaar maak hulle lote vas en sien toe dat dit nie met die hoofleier meeding nie.

Volgens Koos het die eerste stelsel sowat R230 000 per ha aan vestigingskoste gekos, maar met die tweede stelsel kon hulle ongeveer R50 000 per ha bespaar.

’n Praktyk wat Unlimited Nuts onder sy produsente aanmoedig, is om – soos by pruimboerdery – die jong bome (sowat 1 m hoog) uit die kwekery net so te plant en nie terug te sny nie.

  Cancel Screenshot 2021-03-31 at 15.23.23.png
Soleta-amandels uit Spanje wat middel Maart geoes word.

Volgens mnr. Michael Oosthuizen, tegniese konsultant van Unlimited Nuts, bied dit die voordeel dat die bome gouer in produksie kom. “Ons mik na 350-500 kg neute per hektaar binne die eerste 17 maande vanaf vestiging. Ons was waarskynlik die eerstes om dit só te doen, maar hier en daar doen mense dit nou al oorsee ook. Die arbeid is ook baie minder, wat verdere koste bespaar.”

’n Ander eienskap van die Spaanse stelsel wat hulle aanloklik gevind het, is die waterverbruik. Die Spanjaarde gee in die algemeen minder water as die Kaliforniërs, sê mnr. Johan Burnett, sake-ontwikkelingsbestuurder van die Unlimited Group.

“Hulle dien selde meer as 7 000 m3 (water per hektaar per jaar) toe, maar in Sevilla, waar dit amper so warm is soos in Upington in die somer, het ons boorde gesien wat tot 12 000 m3 gekry het.”

Hy sê die reënval en humiditeit sal ’n invloed hê op die hoeveelheid besproeiingswater wat boere benodig. ’n Goed ontwerpte drupbesproeiingstelsel en goeie organiese bedekking kan ook ’n waterbesparing van soveel as 30% meebring. “Om 2 t/ha te oes, kan jy met relatief min water wegkom, maar as jy 3 t/ha wil oes, het jy baie meer nodig.”

In ’n goeie jaar kry die De Villiers-plase 450-500 mm reën, wat beteken slegs 2 500 m3 se aanvullende besproeiing per ha per jaar is nodig. Hulle besproei ook met gryswater uit die Potsdam-waterskema.

Drupbesproeiing is in die boorde geïnstalleer. Aanvanklik word ’n enkellyn gelê, maar ná die eerste jaar word ’n tweede lyn bygevoeg. In ouer blokke is twee drupperlyne sowat 1 m uit mekaar aan weerskante van die bome gelê. Die lewering is sowat 2,2 liter per uur. Die amandelboorde is in relatief klein blokke van 2 ha elk verdeel en elke blok is met ’n vogmeter toegerus, waarvolgens Koos en Hennie besproei.

Volgens Burnett is dit belangrik om voldoende te besproei in die “gevoelige tyd” van September tot einde November. “Dit is noodsaaklik dat die bome dan normale water tot hul beskikking het. Daarna volg ’n periode van twee maande waartydens ’n produsent sowat 30% minder water kan gee. Die twee weke voor oestyd en die maand ná oes moet die vol waterregime weer gevolg word.”

Om verspoeling te keer en vog beter te bewaar, meen die broers dit is noodsaaklik om elke jaar dekgewasse, soos korog en bitterlupiene, in die boorde te plant.

  Cancel Screenshot 2021-03-31 at 15.23.30.png
Elfahem word al einde Januarie geoes, maar Soleta-amandels (op die foto) is eers ná parstyd gereed om te pluk.

NUWE KULTIVARS VIR SA

Burnett meen die broers doen baanbrekerswerk in die plaaslike amandelbedryf, veral wat kultivars betref.

Buiten Nonpareil, wat steeds wêreldwyd as die koningkultivar beskou word danksy die soet smaak, goudbruin kleur en goeie tekstuur van die neute, het hulle ook hul hand gewaag aan die Spaanse kultivar Soleta en die Israeliese kultivar Elfahem (soms ook Um-el-Fahem genoem).

Waar Nonpareil-bome teen die vierde of vyfde jaar begin amandels dra, kom Soleta en Elfahem reeds tydens tweede blad in produksie. “Eers as die bome in voldrag is, sal ons met sekerheid kan sê watter kultivars die beste by ons aard. Ons het maar 200 Infruitec-koue-eenhede, terwyl Nonpareil en Soleta eintlik sowat 300 eenhede vereis. Ek het wel ’n goeie gevoel oor Elfahem, wat net sowat 150 eenhede nodig het,” sê Koos.

Volgens Oosthuizen word Elfahem al einde Januarie geoes, wat baie vroeg is in die amandelbedryf. Koos reken dit sal hulle in staat stel om dié kultivar voor parstyd te oes en die res van die kultivars sowat ’n maand of twee later wanneer die druiwe reeds in die kelder is. “Dit sal ook voordelig wees vir watergebruik, want dan hoef ons nie die bome só lank te besproei nie.”

Nonpareil word deur Ferragnes, Price en Peerless bestuif. Soleta is selfbestuiwend, maar deur kruisbestuiwers by te voeg, kan die oes met 15-18% klim.

Die De Villiers-broers het Flordaguard en Viking as onderstokke gekies, gegewe hul grondsoorte. “Ons verkies egter Flordaguard, want dit lyk of Viking te aggressief groei.” Hennie lag. “Bly net weg van Kakamas, want dit is sommer kaka …”

Amandels is bekend om wisselende drag, maar met die hulp van Oosthuizen konsentreer die broers daarop om dit te verander deur produksiepraktyke. Afgesien van water speel bemesting ook ’n belangrike rol.

Mnr. Riaan Bredenkamp van Intelligro doen aanbevelings vir die broers. Hulle beraam hoeveel ton per hektaar hulle gaan oes en die maandelikse bemestingsprogram word dan daarvolgens uitgewerk. Hulle doen ook gereeld grond- en blaarontledings.

Oosthuizen sê veral die stikstof-, kalium-, boor- en sinkvlak moet goed dopgehou word. “Dit is belangrik om te onthou dat jy nie die ou resepte vir wye aanplantings kan volg as jy hoëdigtheidaanplantings doen nie. Dan gaan jou bome onvrugbaar bly.”

Burnett sê in Spanje word verskillende kunsmisbenaderings ook vir jongboom- en produksiestadiums gevolg.

  Cancel Screenshot 2021-03-31 at 15.27.04.png
Die ou koringdroër wat die broers aangeskaf het om aan te pas vir amandeldroging.

JAAG GOEIE OPBRENGSTE NA

Volgens Burnett moet ’n amandelboer daarna streef om 3 t/ha te oes. “Een van ons uitgangspunte is om te gaan kyk na ekonomiese praktyke wat sin maak op plase, soos die onderstok- of kultivarkeuse. As ’n amandelprodusent 2,5-3 t/ha behaal, sal hy altyd mededingend wees. As hy dit nié behaal nie, moet hy liewer ’n ander gewas oorweeg,” meen hy.

Die broers jaag ook 3 t/ha na. “Ons het onsself die 5 ton-klub genoem, maar sover weet ons nie eintlik van boere wat sommer meer as 4,2 t/ha oes nie. Dan is dit ook in baie spesiale toestande met heelwat bestuiwers,” vertel Hennie.

Met Soleta verwag hulle om in die derde jaar 1 ton neute per ha te oes. Die Nonpareil-boorde het in die derde jaar ongeveer 400 kg/ha opgelewer. “Volproduksie hang van die kultivar af, maar ons werk op gemiddeld so ses tot sewe jaar.”

Een van die probleme in die amandelbedryf, omdat dit ’n relatief nuwe bedryf is, is die gebrek aan geregistreerde plaagbekampingsprodukte. Veral bolwurm teister die boorde in die lente, maar Koos sê hulle moet ook aandag gee aan bruinroes en rooispinnekop in Desember en Januarie.

“Ons gebruik ’n program om dit taamlik voorkomend te bekamp, maar vermy sterk chemikalieë sover moontlik.”

Screenshot 2021-03-31 at 15.27.17.png
’n Jong Elfahem-aanplanting wat verlede jaar aangeplant is. Die bome was ses maande oud toe die foto geneem is. Ná elke twee rye Elfahem-bome is ’n kruisbestuiwer (Volcani of Ne Plus Ultra) aangeplant.

YSTERS

’n Amandelboerdery kan in ’n groot mate gemeganiseer word. Wat boonop in die De Villiers’e se guns tel, is dat hulle heelwat van hul wingerdwerktuie, soos spuitpompe en onkruidspuite, ook by die amandels kan gebruik en nie nodig gehad het om alles van voor af aan te skaf nie. “Daar is baie oulike werktuie beskikbaar vir amandels, maar dit kos ’n plaas se prys,” sê Hennie.

Tans oes hulle nog met die hand (nette word onder die bome oopgegooi en dan word die amandels afgeslaan), maar die plan is om ’n olyfoesmasjien, wat die bome skud, te koop. Oestyd begin einde Maart, maar hulle laat gewoonlik die amandels aan die bome hang tot die parsbedrywighede rustiger raak.

Hennie, wat ingenieurswese studeer het, is egter vinnig om werktuie om te tower sodat dit geskik is vir amandelproduksie. Hulle snoei byvoorbeeld met ’n ou wingerdsnoeimasjien wat hulle aangepas het. Die werktuig het drie lemme wat bo mekaar loop. Hennie het dit verander sodat die arm met die lemme op en af kan beweeg.

Die wiel wat die bokant van die wingerd getop het, het hy op sy sy gedraai sodat dit ook kan snoei. As die masjien dus die bokant van die bome moet snoei, lig die lemme hidroulies op en die boonste lem gaan lê plat.

Hulle het ook onlangs ’n ou koringdroër gekoop wat hulle met ’n bietjie aanpassing gebruik om amandels in te droog.

Tans word die neute – in hul doppe – na die Major’s Drift-verwerkingsaanleg op Robertson aangery, waar dit uitgedop word. Dit is tot dusver die enigste aanleg in sy soort in die Wes-Kaap. By Major’s Drift word die neute in sakke of bokse verpak, volgens die markvereistes. Tot dusver is die meeste van die De Villiers’e se neute plaaslik verkoop, maar namate die volume groei, sal oorsese markte ontgin word.

Hulle wil vorentoe ’n skuur bou waar hulle die neute self kan droog en minstens die doppe kan verwyder. Dit sal vervoerkoste na die verwerkingsaanleg verminder, aangesien die volumes kleiner is.

  Cancel Screenshot 2021-03-31 at 15.27.28.png
Amandelboere moet minstens 2,5-3 ton neute per ha oes om ekonomies lewensvatbaar te wees.

BEDRYF IN ’N NEUTEDOP

Die amandelprys – gekoppel aan ’n wêreldprys – het weens die koronavirus-pandemie met ongeveer ’n derde gedaal, sê mnr. Johan Burnett, sake-ontwikkelingsbestuurder van die Unlimited Group. Dit is omdat fyngebakwinkels wêreldwyd hul deure moes toemaak vanweë inperkingsmaatreëls.

“Die prys was verlede jaar sowat $6,40 (sowat R98) per kg, maar lê nou op ongeveer $4,80 (sowat R73) per kg. Ons glo dit is ’n tydelike scenario, tot die gewone afsetpunte, soos hotelle en lugrederye, weer hul normale bedrywighede kan hervat.”

Hy skat daar is tans sowat 1 000 ha amandels in Suid-Afrika geplant, waarvan Amanteco (Montagu) en ZZ2 van die grootste produsente is. Sowat 30 boere produseer amandels vir Unlimited Nuts. Die gebiede waar dit verbou word sluit in die Riebeekvallei, Malmesbury, die Agter-Paarl, Robertson, De Rust en Calitzdorp.

Mnr. Hennie de Villiers sê navorsing toon die plaaslike mark kan sowat 3 000 ton amandels absorbeer, en verbruik styg jaarliks.

NAVRAE: Mnre. Hennie de Villiers, e-pos: henniedv@iafrica.com, 082 335 4824; Koos de Villiers, e-pos: morgensterplaas@gmail.com, 082 822 8523; Michael Oosthuizen, e-pos: toyoosth@iafrica.com, 083 228 9348; Johan Burnett, e-pos: johan@unlimited-group.co.za, 021 860 1800.