Lede van die Olifantsrivier-sitrusprodusentevereniging gaan vandag 19 miljoen lemoene bewillig aan Project Orange. Die projek is deur die Ruben Richards-stigting in die lewe geroep. Volgens mnr. Ruben Richards is die doelwit van Project Orange om die immuniteit van behoeftige mense in arm gemeenskappe op te bou sodat hul risiko vir Covid-19-besmetting verlaag word.

“Baie van die kwesbaarste mense in armer gemeenskappe se immuunstelsel is in gedrang weens ander komplikasies. Medici en voedingkundiges beveel ’n daaglikse vitamien C-inname van 90 mg vir mans en 75 mg vir vroue aan om ’n gesonde immuunstelsel te bou. ’n Gemiddelde, mediumgroot lemoen bevat 70 mg vitamien C en is dus ’n uitstekende manier om die kwesbaarste mense se immuniteit op te bou en kwesbaarheid te verlaag.”

Tuis kry eerste

Namakwaland Sitrus sal die bestuur, verpakking en verspreiding van die nagenoeg 20 ton lemoene daagliks behartig.

Mnr. Piet Smit, verteenwoordiger van die vereniging, hoop die projek het ’n gunstige uitwerking. “Die lemoene sal aan verskeie gemeenskappe in die informele nedersettings in die Wes-Kaap uitgedeel word. Ons sal hier in ons eie streek begin, want welwillendheid begin tuis.”

Die eerste lemoene sal vandag aan die burgemeester van die Cedarberg-munisipaliteit, die Clanwilliam-wyksraadslid en verteenwoordigers van die Clanwilliam/Citrusdal Liefdediens oorhandig word. Die Ruben Richards-stigting samel geld in om hierdie projek moontlik te maak. “Ons het geld nodig om die lemoene in die verskillende gemeenskappe te versprei,” sê Richards.

Besoek die Ruben Richards-stigting se webwerf by www.rrf.org.za om by te dra.

PayFoodForward logo
#PayFoodForward