Die bekende Moyo-restaurantgroep, in die V&A Waterfront, het in Augustus 2012 hul eie akwaponiese tuinstelsel opgerig waar hulle hul eie groente en kruie kweek. Akwaponika is 'n volhoubare vertikale boerderystelsel wat deur Moyo, in samewerking met die Universiteit van Stellenbosch, ontwikkel is om die idee van ’n stedelike plaas te skep. Volgens mnr. Jason Snell, Moyo se handelsmerkuitbreidingsbestuurder, is hierdie vetikale groentetuine ’n toeristetrekpleister. Dit is nie net mooi op die oog nie, maar die vloeiende water skep ook ’n rustige atmosfeer vir die gaste sê hy.

Akwaponika behels die gekombineerde beginsels van akwakultuur en hidrponika. In ’n akwaponiese stelsel dien visse (akwakultuur) se afval as voedingsbron vir die saailinge. Visse word in ’n watertenk geplaas. In die watertenk versamel giftige ammoniak wat voorkom in die visse se afval.  Hierdie water word deur ’n hidroponiese stelsel gesirkuleer sodat dié afval deur bakterieë afgebreek kan word na stikstof. Die stikstofryke water bevat die noodsaaklike voedingstowwe wat direk deur die plant se wortels opgeneem word, waarna die gesuiwerde water weer gehersirkuleer word na die watertenk.  

Die brein agter Moyo se ruimtebesparende akwaponisie tuinstelsel is die Matie-entrepreneur en navorser, Jaco Visser. Moyo werk ook nou saam met dié Universiteit se Agronomie Departement waar me. Estelle Kempen, in beheer van kweekhuisbedrywighede, optree as konsultant sedert die projek begin het.

Akwakultuur
Die Tilapia- en Forelgeregte op Moyo se spyskaart, is die akwakultuur wat gebruik word in die akwaponiese tuinstelsel. Moyo maak van eetbare, varswatervis gebruik. In die somer gebruik hulle Tilapia, hierdie visse hou nie van die koue nie en word in die winter vervang met Forel. Dié seisoenale verandering van spesies is ook meer volhoubaar, aangesien hul ekstra onkoste uitsluit deur nie die watertenke te verhit nie. Die stelsel word deur die dag met sonkragpanele van 22kW aangedryf. Die panele is deur New Southern Energy geïnstalleer. Volgens Snell lewer die sonpanele byna ’n derde van die restaurant se krag.

Moyo kweek hul saailinge volgens die kombuis se behoeftes. “Die kombuis word voortdurend van vars groente en kruie voorsien, ”sê Snell. Tans kweek hulle 4-5 verskillende blaarslaaikultivars asook seldery en kruie.  In die somer word aarbeie, tamaties, boontjies en selfs rissies gekweek.  

Voordele van akwaponika
Die saailinge in hierdie grondlose stelsel vereis dieselfde voedingstowwe as dié in grond. Die enigste verskil is dat die inhoud van die voedingstowwe meer akkuraat beheer kan word en vinniger aan die plant beskikbaar is. Volgens Snell voeg hulle in die somer ekstra voedingstowwe by vir die optimale groei van saailinge. Die groot voordeel van akwaponika is dat die voedingstowwe reeds afgebreek is tot hul basiese vorm. Juis hierom groei die plante in ’n akwaponiese tuinstelsel baie vinniger as dié in jou tuin en word ’n beter plant, en hoër oprengs gelewer.  Verdere voordele sluit in min arbeid, geen onkruid óf die bewerking van grond, geen besproeiing of die mors van water asook geen slakke en enige ander peste.

Akwaponika kom nog nie baie algemeen voor in Suid-Afrika nie en is ’n redelike ingewikkelde en intimiderende taak vir Jan Publiek. Tog is dit ’n doeltreffende en ekonomiese opsie vir die kweek van plante. Moyo verkoop hul eie eenvoudige selfdoenpakette om die publiek te help om soortgelyke tuine op klein skaal in stedelike gebiede te vestig. Hierdie selfdoenpakette varieer van R3 500 tot R1 300. Vir verdere besonderhede kan belangstellendes mnr. Jason Snell e-pos by: jsnell@moyo.co.za.