Die afgelope paar jaar het Kanonkop byna uit sy nate gebars. Wynproduksie het die hoogte ingeskiet, veral danksy die Ka- dette-reeks, waarvan hulle tans 1,2 miljoen bottels Cape Blend, 360 000 bottels Pinotage en 240 000 bottels Rosé maak.

Kanonkop kan sonder twyfel as een van Suid-Afrika se first growths gesien word, maar dit beteken nie hulle skeep hul plaaslike mark af nie.

“Die mark trek harder as wat ons stoot, daarom was dit natuurlike groei. Ons was streng daaroor om gehalte te handhaaf sonder dat daar iewers pap op die grond val. In die verlede het mense hoëvolume-wynhandelsmerke gebou op (lae) pryse, nie gehalte nie.

“Ons probeer om dit teen ’n behoorlike prys reg te kry, maar ook met gehalte. Eintlik het ons ’n nuwe kategorie in die mark geskep,” vertel mnr. Abrie Beeslaar, die enigste wynmaker wat al drie keer as Wynmaker van die Jaar aangewys kon word met die internasionale wyn- en spiritualieëkompetisie in Londen, Brittanje.

“Dis fantasties om een jaar wonderlike wyne te maak, maar hoe doen ’n mens dit 20 jaar in ’n ry? Bestendigheid is die een woord wat dikwels misgekyk word as dit by groot handelsmerke kom.” In sy eerste oesjaar by Kanonkop, 16 jaar gelede, het die kelder 400 ton druiwe gepars. Vanjaar was dit sowat 3 000 ton, waarvan hulle net minder as 3 miljoen bottels wyn gemaak het.

“Ons het die 1000 ton-kerf eers in 2011 gebreek. Die afgelope drie jaar het ons van 1 500 ton tot 1 900 ton en toe tot 3 000 ton gegroei.”

Abrie stem saam dat Suid-Afrika herkenbare, groot handelsmerke nodig het wat veral in die buiteland vastrapplek kan kry, maar skerm vinnig oor of Kanonkop dié rol gaan vervul. “ ’n Miljoen bottels klink baie vir Suid-Afrika, maar in wêreldverband is dit maar ’n druppel aan die emmer . . .”

LANG GESKIEDENIS

Hoe het dié bekende Stellenbosse kelder, wat sy naam te danke het aan die koppie teen Simonsberg van waar ’n kanon afgevuur is om die omgewing se boere te laat weet wanneer hulle kon gaan handel dryf in Tafelbaaihawe, dit reggekry om so te groei sonder om sy alombekende gehalte in te boet?

Mnr. Johann Krige, eienaar, vertel Kanonkop is ’n familiebesigheid wat al sedert sy oupagrootjie se tyd van geslag tot geslag oorgedra word. Sy oupa was die politikus Paul Sauer, wat sy lewe lank sy beroep as “wynboer” aangegee het. As liefhebber van Tassenberg, Angelico en Chateau Libertas (op spesiale geleenthede) het hy hom beywer vir alledaagse wyngebruik.

Hy was ook instrumenteel om wetgewing deur te voer wat kruidenierswinkels in staat stel om wyn te verkoop, want hy het geglo kos en wyn hoort saam (dis hoekom ander dranksoorte nie in supermarkte beskikbaar is nie). Johann en sy broer, Paul, is die eerste geslag wat aktief op die plaas boer.

Die plaas se eerste wyn is in 1973 gebotteleer en aan die publiek verkoop.

“Dertig, veertig jaar gelede het ons ’n regte vrugteslaai van kultivars en wyne gehad. Ons het selfs ’n Kanonkop Chardonnay, Sauvignon Blanc en Rhine Riesling gemaak,” vertel Johann. Teen 1981 het hulle egter besluit om slegs op Pinotage (45% van die wingerd) en Cabernet Sauvignon (30%) te konsentreer.

Hulle plant ook ’n bietjie Merlot en Cabernet Franc vir versnitdoeleindes. Pinotage is reeds in die 1940’s die eerste keer op Kanonkop geplant – van die eerste kommersiële aanplantings ter wêreld. “Dit was uit en uit ’n terroir-besluit, want ons het daardie tyd al geweet wat vaar goed hier. Ons het besluit om eerder minder te doen, maar dit beter te doen.” Hierdie filosofie geld vandag nog.

MINDER kultivars is beter

Abrie vertel deur die regte kultivars op die regte plekke te plant, is die wingerde beter aangepas om moeilike toestande te deurstaan. Wisselvalligheid van jaar tot jaar is dus ook minder. “Die ander kultivars het nie deurlopend, elke jaar, vir ons dieselfde gehalte gegee nie. Daarom het ons dit uitgehaal.”

Die Kadette-reeks het in die 1980’s ontstaan sodat hulle die druiwe van die jonger wingerde op die plaas kon benut.

“Die doel was om ’n ligter styl wyn met hierdie druiwe te maak, terwyl die druiwe van die ouer wingerde vir ons beste wyne gehou word. Jannie Krige, Johann en Paul se pa, het destyds gesê die wyn moet soos ’n jong soldaat (kadet) wees: Maklik om van ’n jong ouderdom af te drink, maar daar moet steeds ’n verbintenis met die res van ons wyne wees; ’n sekere balans en elegansie wat deel is van ons styl.

“Ons sien nie ons tweede wynreeks as ‘tweede’ nie. Ons beskou dit eerder as ’n besigheidskaartjie wat reg oor die wêreld uitgedeel word en waarmee ons die beste eerste indruk moontlik wil skep sodat mense ook ons ander wyn wil proe.” In 2012 het hulle vir die eerste keer ’n Pinotage by die Kadette-reeks gevoeg. Dit was ’n onmiddellike sukses.

“Die mark het gevra vir ’n meer bekostigbare Pinotage van ons af. Die vertroue was daar, maar die Kanonkop-prys was buite baie mense se bereik.”

DIE BESTE DRUIWE

Abrie vertel hulle het ’n paar jaar gelede by Johann se strandhuis aan die Weskus bymekaar gekom om ’n dinkskrum te hou oor hoe hulle die groei gaan aanpak.

“Ons filosofie was nog altyd: gehalte eerste. Een opsie was om wyn aan te koop en te versny om Kadette te maak. Wyn was toe nog goedkoop en beskikbaar, maar ons was bekommerd dat ons dan nie volle beheer oor die gehalte sou hê nie. Ons wou nie die eerste ruk tonge laat klap, net om daarna afdraande te gaan nie. Die tweede opsie was om die druiwe aan te koop en die wyn self te maak. Dit het ons beter beheer oor die produk gegee.”

Me. Annelie Viljoen, wingerdboukundige, het meer as ’n jaar gelede by hulle aangesluit, spesifiek om druiwe te soek en aan te koop wat aan Kanonkop se streng vereistes voldoen. Sy bestuur die wingerde – veral in die Bottelary-heuwels en die res van Stellenbosch, asook in die Helderberg – saam met die boere om seker te maak hulle kry die beste druiwe.

“Dis ’n wydverspreide gebied, maar die beskikbaarheid en prys van Stellenbosch-druiwe laat ons nie met ’n ander keuse nie. Mense staan tou om druiwe in die hande te kry en ons glo steeds in die waarde van Stellenbosch-druiwe. Die pryse is gunstiger sodra jy buite Stellenbosch se grense beweeg, maar ons neem in ag dat dit ons wynstyl effens kan verander. Daarom gebruik ons nie baie druiwe van elders nie,” vertel Abrie.

“Ek hou van die stabiliteit wat Stellenbosch-wingerde bied. Daar is nie baie gebiede wat veranderende toestande so goed verwerk soos Stellenbosch nie. Ons het byvoorbeeld nie ’n groot afname in opbrengs gesien tydens die droogte nie.”

TRADISIe én TEGNOLOGIE

Hulle het ook daar aan die Weskus besluit om die kelder te vergroot. Met die doel voor oë om nie Kanonkop se styl te verander nie, het hulle gehou by ’n uiters tradisionele kelder, maar een waar tegnologie ingespan word. Hulle het selfs nog 16 oop kuipe, soos uit die 1940’s, bygevoeg.

“Dis nie die maklikste, goedkoopste of doeltreffendste manier om wyn te maak nie, maar dit verseker ons styl bly deurgaans dieselfde,” vertel Abrie. Die nuwe kuipe is darem toegerus met ’n meganiese deurdrukker (sien die artikel “Kanonkop druk deur met nuwe masjien”, LBW, 22 September 2017).

“Ons uitbreidings het ook plek gemaak vir 4 000 ekstra vate. Ons kan nou 6 500 vate huisves. Ek weet nie van nog ’n wynlandgoed in Suid-Afrika met so ’n groot vermoë nie. Ons het ook ons gisvermoë verdubbel. Vanjaar het ons 2 500 ton druiwe by Kanonkop verwerk en hande gevat met Overgaauw om ’n verdere 500 ton te pars,” sê Abrie.

Die ekstra vermoë beteken hulle kan wyn vir ’n hele paar maande lank eers laat bottelverouder voor hulle dit aan die mark beskikbaar stel. Die druiwe-ontvangsarea is ook opgeknap.

“Dis nie omdat ons gesien wil word as ’n tegnologies gevorderde kelder nie, maar omdat ons aangevuur word deur gehalte. As dit kan help om ’n 1% verbetering in gehalte mee te bring, is dit die moeite werd. ’n Mens moenie verval in jou manier doen nie. As jy beter kan raak, moet jy alles tot jou beskikking gebruik om dit reg te kry.”

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.