Hul oupa Hennie Retief het in 1937 begin wyn maak – nog voor daar elektrisiteit in die Robertson-omgewing was – en in 1980 het die vier Retief-nefies se pa’s, Wynand en Nico, die eerste Van Loveren Premier Grand Cru-wyn bekend gestel.

Dit is uit dié lang familiegeskiedenis dat Phillip, Neil, Bussell en Hennie nou inspirasie trek om die volgende hoofstuk van die geliefde Suid-Afrikaanse wynplaas in te lui. Met welbekende handelsmerke, soos Four Cousins, Tangled Tree en Almost Zero, het dié vier geen bekendstelling nodig nie. Min (of dalk geen) wynliefhebbers in Suid-Afrika het nog nie ’n glasie uit Van Loveren se kelder geklink nie. Die geheim van hul sukses is eenvoudig: Hul ore is oop vir wat verbruikers wil hê.

“Van 1984 tot 1992 moes ons neefs elke tweede week saam met ons ouers wynproeë in die plaastuin aanbied. Só het ons geleer wat verbruikers wil hê,” vertel Bussell, wat ’n oog hou oor wynmaakbedrywighede by Van Loveren. Hy onthou hulle het nie rooiwyn gehad nie, en verbruikers wou altyd weet wanneer hulle dan rooiwyn gaan maak.

“Toe Hennie op Stellenbosch gaan swot, het hy navorsing begin doen oor rooi kultivars wat in die Robertson-omgewing kan werk. In 1995 kon ons ons eerste rooiwyn, River Red, bekend stel. Ek dink dit is waar ons entrepreneursgees begin het: Deur ons verbruikers dop te hou, na ons ouers te luister en ons grootouers te onthou.”

Nou het dit tyd geword om die voorkoms van die klassieke Van Loveren-handelsmerk te verfyn, en die nuwe verpakking is pas virtueel bekend gestel. Dit sal teen Junie oral beskikbaar wees. Volgens Phillip, besturende direkteur, het hulle gemeen daar is geleentheid om die onderneming en Retief-familie se storie sterker te vertel deur hul handelsmerke en verpakking.

“Gehalte bly ononderhandelbaar. Ons produseer wyne waarvan verbruikers hou en wat hulle wil hê. Four Cousins is byvoorbeeld wonderlik en het ons besigheid se groei versnel, maar, ja, dalk het dit die Van Loveren-handelsmerk, ons premie-handelsmerk, se storie en erfenis oorskadu. Dit is vir ons belangrik om in die lewe, maar ook in die besigheid, te verstaan waar ons vandaan kom. Deur die nuwe voorkoms maak ons ons gereed om nuwe herinneringe vir die toekoms te skep. Selfs ná 40 jaar op die mark meen ek die nuwe voorkoms en verpakking kan ons op ’n nuwe vlak sit.”

Een van die vernaamste veranderinge is dat ’n “R”, wat die Retief-familie verteenwoordig, by die logo gevoeg is. Hul ouma, die bekende boom- en plantliefhebber Jean Retief, het destyds die plaas tot Van Loveren herdoop om hulde te bring aan haar voorouer Christina van Loveren wat in 1669 na Suid-Afrika gekom en wie se trousseaukis Jean geërf het. Terloops, Jean was ook die een wat die pragtige rooi kannas teen die pad geplant het, wat vandag nog wys jy’s in Van Loveren-gebied. Die nuwe logo – VRL – kombineer dus die twee familiename.

Voorts het hulle ’n skriftipe vir die etiket gekies wat sterk ooreenkomste toon met die oorspronklike lettertipe wat op die kouegistingskelder, gebou in 1972, se fassade pryk. Die finale stukkie van die legkaart was om die plaas se oorspronklike koopdatum – 1937 – op die etiket aan te bring. “Van Loveren is meer as net ’n handelsmerk. Dit is ’n groep hartstogtelike mense.”

Die tweede geslag. Nico en Wynand Retief het Van Loveren by hul ouers, Hennie en Jean Retief, oorgeneem. Die Van Loveren Premier Grand Cru wat hulle in 1980 bekend gestel het – ’n plan wat in die rondawel agter hulle bedink is – het die tafel gedek vir een van Suid-Afrika se geliefdste wynhandelsmerke.

NUWE VISIE

Neil, wat saam met Hennie verantwoordelik is vir wingerdbou, vertel die neefs het sowat tien jaar gelede ’n doelbewuste besluit geneem om die onderneming uit te brei.

“Om in beheer van jou eie toekoms te wees, moet jy op die plaas begin. Daarom het ons die afgelope paar jaar nogal aggressief grond aangekoop. Vandag strek ons plaasspoor oor meer as 85 km. Ons het alles waaroor ’n boer en wynmaker kan droom – elke tipe grond en terroir waaraan ’n mens kan dink.”

Hennie sê hulle werk die afgelope 28 jaar saam met wingerdboukundiges om te besluit watter kultivars waar geplant moet word om handelsmerk-spesifieke wyne te maak. “Wat uniek is aan ons, is dat ons in die kelder met elke blok se druiwe afsonderlik kan werk tot net voor ons botteleer.”

Vier wynmakers benewens Bussell woeker in die kelders. Elkeen bring sy sterk punte tafel toe, en wanneer hulle ’n besluit geneem het oor wat in die bottel beland, is daar vrede dat dit die beste is wat Van Loveren kan bied.

“Ons luister na ons verbruikers,” sê Bussell. “Sekere handelsmerke het ’n groot gevolg, en daar is geen manier dat ek aan daardie wyn se gehalte sal karring nie, selfs al het die etiket verander.”

Ongeveer drie jaar gelede het hulle ook besluit die gehalte van hul rooiwyne moet aandag kry. Dit was die geboorte van hul rooiwynprojek, vertel Neil. Dié projek is tweeledig: Hulle wil bestaande rooiwynkultivar-wingerde ’n hupstoot gee met aanpassings soos wintersnoei, besproeiingspraktyke, oes- en blaredakbestuur om die gehalte te verbeter, maar hulle wil ook die regte kultivars op die regte persele plante.

“Die familie het van die Swartland tot op Stellenbosch na ’n rooiwynplaas gaan soek, maar op pad terug besef Isabeau, ’n plaas in die De Hoop-vallei by Robertson, hou die sleutel waarna ons soek.”

Met die hulp van hommeltuigtegnologie het hulle die plaas se terroir bepaal en aspekte soos hellings, hoeke, sonlig en uitstraling vasgestel. “Die plek heel agter op die plaas waar ons Cabernet sauvignon en Cabernet franc geplant het, kry byvoorbeeld vier uur meer sonlig as die plek op die plaas waar ons Pinot Noir, wat ’n koeler klimaat verkies, geplant het.”

Die meeste wingerde is volgens die Perold-stelsel opgelei, maar hulle is baie opgewonde oor ’n nuwe stok-by-paaltjiewingerd – ’n seldsame gesig in Suid-Afrika – wat ook gevestig is. “Dit is ’n duur stelsel, maar bekend om druiwe van die beste gehalte.”

Saam met die uitbreidings het hulle produksiebestuurders aangestel. Neil sê tussen hul sewe produksiebestuurders is daar 220 jaar se kennis. “Ons het dus ’n baie sterk span.”

Die nuwe voorkoms van die Van Loveren-handelsmerk word gedefinieer deur eenvoudige, skoon ontwerpelemente wat terselfdertyd die herkoms en geskiedenis van die handelsmerk vasvat.

INNOVEER, INNOVEER, INNOVEER

’n Geleentheid glip nie maklik verby die vier neefs nie. Hulle was immers 21 jaar gelede die eerstes op die wyntoneel om ’n kommersiële wyn in ’n 1,5 liter-bottel bekend te stel. Dit was Four Cousins, een van die grootste suksesverhale wat die bedryf nóg gesien het. Later het Tangled Tree, in ’n herwinbare plastiekbottel, gevolg, asook topklaswyn in 2 liter- en 3 liter-bokse en meer onlangs dealkholiseerde wyn en vonkelwyn (Almost Zero en Absolute Zero).

Afgesien van die wye wynreeks sprei hulle ook nou hul vlerke na die vrugtebedryf, met kersies, sagtesitrus, amandels en avokado’s wat onlangs gevestig is.

Phillip sê navorsing toon slegs 10% van die waarde wat deur die waardeketting geskep word, gaan terug na die plaashek. “Een van ons voordele was nog altyd dat ons druiwe verbou, dit verwerk en verkoop. Toerisme stel ons ook in staat om met die eindverbruiker in aanraking te kom. Ja, dit maak kommersieel sin, maar dit is ook noodsaaklik om handelsmerke te bou. Dit is immers hoe ons 40 jaar gelede die handelsmerk begin bou het toe ons ouers in die tuin wynproeë aangebied het!”

Van Loveren beskik oor drie proelokale en twee restaurante. Hy voer ook na 62 lande – in Afrika, Asië, Europa en die Amerikas – uit. “Ons eindverbruiker is baie belangrik vir ons, maar aangesien ons verder geleë is van Kaapstad, wou ons iets naders skep vir verbruikers wat die Moederstad en omliggende gebiede besoek.

“Ons open dus binnekort ’n proelokaal op Stellenbosch en meen dit sal ’n opwindende trekpleister vir internasionale toeriste wees wanneer die wêreld stabiliseer en die toeriste terugkeer.”

FAMILIEBANDE

Hulle word dikwels gevra hoe hulle dit regkry om so goed saam te werk as familie. Nico, Hennie en Bussell se pa, glo dit is omdat elkeen sy eie fokusgebied het en daar geen botsende belange is nie. “Die een maak wyn, die een kyk na die geldsake, die een kyk na die linkerkantste plase en die ander een na die regterkantste plase.”

Phillip meen dit is omdat daar nie ’n “ek” bestaan in die besigheid nie. “Ons is so grootgemaak. Ons praat van ‘ons’ en nie ‘ek’ of ‘my’ nie. As jy by die besigheid wou aansluit, moes jy inpas. Jy kan nie ’n onafhanklike entiteit wees nie.”

Neil voeg by: “Ons gaan werk toe om oplossings te soek. Ons kyk na die toekoms en hoe om dit te laat werk, nie om te baklei nie.”

Wat die toekoms betref, is hulle baie opgewonde oor wat die wingerde in die grond vorentoe gaan oplewer, om te sien hoe handelsmerke van krag tot krag gaan en om in Suid-Afrika te belê en dit deur groei ’n beter plek te maak. “En ek hoop ons vier kan die besigheid suksesvol na ons kinders toe aangee, en ’n klomp kleinkinders hê!” sê Bussell laggend.