Die produksie van boomneute in Suid-Afrika het sedert 2001 skerp gegroei. Die bedryf was van meet af aan op uitvoer gerig. Volgens die Amerikaanse departement van landbou se navorsingraming het Suid-Afrika in die 2018-’19-bemarkingsjaar neute van sowat R5,85 miljard uitgevoer. Invoer word geraam op sowat R1,3 miljard. Daarbenewens groei die binnelandse mark ook sterk, wat invoervervanging moontlik maak.

Daar is nie invoertariewe op neute na Suid-Afrika nie en die land kan neute tariefvry na Amerika uitvoer. Amerika self is ’n groot produsent en uitvoerder van neute. Die meeste van Suid-Afrika se neutuitvoer gaan na Asië. Daar is onderhandelinge om makliker toegang te kry tot die baie groot en sterk groeiende Chinese mark. Die voordeel van die huidige uitvoermarkte is dat dit taamlik divers is en dus die markrisiko verminder.

Die groei in die vraag na neute wêreldwyd word aangedryf deur ’n toenemend gesonder leefstyl en bevolkings waarvan die inkomste toeneem (Asië) en die groter keuse van bronne van proteïen en meer vegetariese diëte. Die belangrikste neute wat tans in Suid-Afrika verbou word, is pekan- en makadamianeute, terwyl die produksie van okkerneute en amandels toeneem. Suid-Afrika voer hoofsaaklik amandels, okkerneute en pistachio’s van Amerika in.

Afgesien van die feit dat neutbome ’n langtermyngewas is, is die inkomste per hektaar ná die aanvanklike wagtyd voor dit begin dra beslis die moeite werd. Neutprodusente verdien ’n groot inkomste per hektaar met uitvoer en selfs op die binnelandse mark. Produksie is betreklik maklik met die regte kultivars, hoewel goeie besproeiingskedulering en bemesting- en spuitprogramme noodsaaklik is. Die oesproses word toenemend gemeganiseer.

Die dilemma is gewoonlik dat boere hul kontantvloei baie noukeurig moet beplan, want dit kos sowat R1 miljoen per hektaar om te vestig en volle produksie word eers ná ongeveer vyf jaar of langer bereik. Daarom is dit raadsaam om eerder ’n jaar langer te wag vir die beskikbaarheid van die regte plantmateriaal, want dit is ’n paar dekades se oeste wat bepaal word. Met die vestiging van ’n boord is die korrekte grondvoorbereiding en bemesting noodsaaklik. Dit is ’n groot kapitaaluitgawe, maar van deurslaggewende belang.

Diefstal van veral makadamia’s is ’n probleem in die Laeveld en Limpopo, want depots neem neute meestal in die dop in, wat dit moeilik maak om die neute se oorsprong bepaal.

Groei in produksie

Grafiek 1 toon die geraamde waarde van neutproduksie in Suid-Afrika. Die sterk groei die afgelope paar jaar is baie duidelik. Die waarde is na raming bykans R6 miljard per jaar waarvan feitlik alles uitgevoer word.

Daar is tans sowat 27 400 ha onder neutproduksie en die groei op ’n jaargrondslag bly sterk. Sowat 71% van die aanplantings is makadamianeute. Pekanneute maak sowat 26% van die aanplantings uit, okkerneute 2% en amandels en ander neute sowat 1%. Amandels en pekanneute is tans in ’n sterk uitbreidingsfase.

In die komende paar jaar gaan heelwat boorde in produksie kom, maar kundiges meen die internasionale vraag gaan groter as die aanbod bly. Dit sal beslis tot Suid-Afrika se voordeel wees as hy makliker toegang tot die Chinese mark kry. Ontledings van uitvoerdata toon sowat 36% van Suid-Afrikaanse neutuitvoer gaan na Hongkong (en ’n deel van daar vermoedelik na China self), 20% na Viëtnam en 15% na Amerika.

Omdat die rand die afgelope paar jaar deurlopend teen die belangrikste geldeenhede verswak het, het neutprodusente die voordeel ervaar dat die uitvoerprys in rand bly styg het. Dit sal egter raadsaam wees om met nuwe beleggings versigtig te wees met die aanname dat pryse sal aanhou styg en dan jou somme daarop te grond. Die rand gaan nie noodwendig elke jaar bly verswak nie en ’n mens moet ook aanvaar dat dollarpryse oor ’n paar jaar sal begin sywaarts beweeg.

Neute is ’n aanloklike gewas in geskikte omstandighede, want dit is ’n hoëwaarde-uitvoerproduk wat maklik vervoer word, buitelandse valuta verdien en jou inkomste verskans teen die swak binnelandse ekonomie. Maar dit vereis ’n groot kapitaaluitleg en jou kontantvloei moet jou kan dra tot die bome in drag kom. Baie boere versprei hul aanplantings oor jare, wat dan ook die kapitaaluitgawe versprei. Sodoende trek hulle ook voordeel uit verbeterde kultivars.

Makadamianeute

Grafiek 2 toon die verloop van die makadamiaproduksie oor die afgelope 10 jaar. Die sterk groei is duidelik. Die jongste produksiesyfer volgens die produsentevereniging (Samac) is sowat 36 000 ton vir 2018-’19, waarvan die meeste uitgevoer is.

Suid-Afrika is tans die grootste makadamiaproduserende land ter wêreld. Hy lewer sowat 20% van die wêreldproduksie. Sowat 10% van die makadamianeute word binnelands gebruik en die res word uitgevoer. Die belangrikste uitvoerbestemmings is Hongkong (37%), Amerika (21%), Viëtnam (16%), Nederland (5%), China (3%) en die res is hoofsaaklik ’n verskeidenheid Europese lande.

Die voordeel is die mark is wyd versprei oor ’n aantal ekonomieë, wat die risiko minder maak van ’n skok in een land en waar probleme met marktoegang gekry word.

Pekanneute

Die produksie van pekanneute in Suid-Afrika is veel laer as dié van makadamia’s, maar dit is ook ’n baie jonger bedryf. Die bedryf begin nou eers verstaan hoe om die bemesting van boorde te bestuur. Daar is ook goeie vordering gemaak met die seleksie en verbetering van kultivars.

Grafiek 2 toon die verloop van pekanneutproduksie. Dit het na raming in 2018 sowat 18 000 ton beloop. Die voordeel van pekanneute is dat dit oor ’n wye gebied verbou kan word. Die oorspronklike produksiegebiede was in Mpumalanga, Limpopo en KwaZulu-Natal. Produksie in die Vrystaat se besproeiingsgebiede en die Noord-Kaap het die afgelope paar jaar skerp toegeneem ten koste van korttermyngewasse waarvan die winsmarges laer en die risiko’s heelwat groter is.

Die plaaslike verbruik is sowat 4 000 ton per jaar en die res word uitgevoer. Sowat 75% gaan as ongedopte neute na China. Die bedryf raak goed georganiseerd met ’n produsentevereniging (Sappa) wat ordelike bemarking en gehalte begin regkry, en breë produksie- en markinligting verskaf.

Amandels en okkerneute

Die produksie van amandels en okkerneute is kleiner, maar sal na verwagting in die komende jare aansienlik uitbrei omdat daar heelwat berigte is van nuwe aanplantings. Suid-Afrika het sowat 15 amandelprodusente, maar groot boerderye het onlangs tot die bedryf toegetree en hul boorde sal in die komende aantal jare in produksie kom.

Die huidige produksie word geraam op 200-300 ton van sowat 170-200 ha boorde. Die plaaslike produksie word meestal uitgevoer na Spanje en ander Europese lande. Soos by van die ander neute moet boere dikwels wag vir plantmateriaal van die gewilde en nuutbeproefde kultivars. Die binnelandse mark word geraam op sowat 3 000 ton en dit groei sterk. Dit word hoofsaaklik deur ryker verbruikers wat ’n gesonder dieet volg, en vir nismarkprodukte gebruik.

Omdat Suid-Afrika heelwat amandels moet invoer, is daar groot potensiaal om binnelandse produksie teen invoerpryse uit te brei. Invoer kom hoofsaaklik van Amerika. Die prys is dus reeds in dollar. Plaaslike amandels word meestal na Spanje en ander Europese lande uitgevoer. Daar is ook ’n taamlike streekmark in Suider-Afrika.

Suid-Afrika het sowat 20 okkerneutprodusente en produksie word geraam op sowat 1 300 ton vanaf 600 ha. Die grootste boorde is by Aliwal-Noord. Dit is oorspronklik deur die Nywerheidontwikkelingskorporasie gevestig. Die bedryf brei uit namate kundigheid en beter kultivars beskikbaar raak. Ramings toon dat invoer tot 700 ton per jaar kan beloop en dat Suid-Afrika sowat 700-800 ton na hoofsaaklik Portugal, ander Europese lande en die Verenigde Arabiese Emirate uitvoer.

Neutproduksie in Suid-Afrika het die afgelope dekade aansienlik gegroei en daar is taamlike belangstelling en uitbreiding. Suid-Afrika is ook besig om baie vinnig tegniese kundigheid onder die knie te kry (ander lande soos selfs Amerika klop in Suid-Afrika aan om hulp) en nuwe kultivars raak gereeld beskikbaar namate navorsing vorder. Dit is ’n bedryf wat volgens alle inligting op ’n sterk groeipad is.