Die bome is aangeplant in ’n poging om die bedryf te help soek na verbeterde, aangepaste koejawelkultivars. Die nuwe kultivars is hoofsaaklik in Nelspruit gekweek en moet nou in Wes-Kaapse toestande op die proef gestel word. Dié provinsie is die hart van die Suid-Afrikaanse koejawelbedryf, en sowat 65% van die land se koejawels is in 2018 in die Wes-Kaap verbou. Sowat 99% van die vrugte is van die kultivar Fan Retief.

Mnr. Willem Grobbelaar, voorsitter van die Koejawelprodusentevereniging, sê die vraag is goed na vars vrugte van goeie gehalte. “Dit is dus baie belangrik dat navorsing oor nuwe kultivars, opleiding en snoeipraktyke voortgaan,” sê Grobbelaar.

Veral seleksie I5-E18 maak hom tans opgewonde, sê mnr. Chris Smith, ’n onafhanklike konsultant wat die kultivarproef namens die Koejawelprodusentevereniging bestuur. Dié seleksie dra reusevrugte. Dit weeg sowat 300 g elk, teenoor die 100 g-vrugte wat die kontroleseleksie, TSG2, oplewer. Boonop het dit ’n goeie pit-tot-vleis-verhouding.

“Die vrugte het wel ’n meer knopperige voorkoms as TSG2 met sy gladde skil, maar die grootte en smaak oorheers dié eienskap. Die voorkoms stem baie ooreen met vrugte wat in Suid-Amerika en Indië verbou word. Daarom kan dié eienskap as ’n bemarkingsfoefie gebruik word.”

Smith het die bome in die proef vroeër as gewoonlik gesnoei. “Die bome is in die laaste week van September gesnoei. Die rede was om die oestyd te vervroeg en sodoende die koue en nat oestyd in die Kaapse winter vry te spring.”

Die koejawelbome het goed daarop gereageer. Dralote het mooi ontwikkel, selfs aan dele van die hoofstam waar daar nie voorheen groei was nie. “Dit is egter ’n fyn balans. As jy te vroeg snoei, gaan jy vrugtevliegprobleme in die Wes-Kaap ondervind. As jy egter ’n goeie vrugtevliegbekampingsprogram het, kan dit oorweeg word.”

Die koejawelbedryf het ook ’n projek onderneem om DNS-“vingerafdrukke” van plante te neem. Molekulêre merkers word gebruik om kultivars te identifiseer deur die genetiese verwantskap tussen of binne spesies te bestudeer. “Enige goeie vrugtebedryf is gebou op ’n bron van materiaal wat eg is aan die tipe. Die koejawelbedryf het nog nie só ’n basis nie.”

Baie van die bome in die bedryf is uit wortelsteggies en selfs sade gekweek. Heelwat mutasies het mettertyd ontstaan.

Mnr. Carl Hörstmann van Provar het verlede jaar ’n studie gedoen om te kyk wat die uitwerking van oesstadiums en verpakking op koejawels se rakleeftyd is. Hy kon egter geen betekenisvolle afleidings maak nie, aangesien die vrugte inwendig en uitwendig van mekaar verskil het, ten spyte daarvan dat almal van oënskynlik Fan Retief-bome verkry is.

Die doel is nou om ’n suiwer bron van kultivarmateriaal te onderhou om tipe-egte bome te kweek. Dit sal navorsing sinvoller maak.

“Daar is genoeg bewyse dat boere dink hulle het Fan Retief op hul plase, maar eintlik is dit ’n mengelmoes van kultivars. Ek probeer nou ’n platform stel waarvandaan ons kan werk. Sapo (die Suid-Afrikaanse Plantverbeteringsorganisasie) het van elke kultivar drie tipe-egte plante in ’n moedertonnel. As iets dus verkeerd gaan met ’n kultivar, kan ’n bedryf op dié plante terugval,” sê Smith.