Die kultivar Formosana is deur die Taiwanese piesangnavorsingsinstituut (TBRI) ontwikkel uit seleksies van weerstandige somaklonale variante van die Cavendish-kultivar. Die Suid-Afrikaanse Du Roi-laboratorium in Letsitele, Limpopo, het die eksklusiewe regte bekom om Formosana by sy weefselkultuuraanleg te kommersialiseer. Du Roi mag dus Formosana-plante na Afrika, die Midde-Ooste, Karibiese eilande, en Suid- en Sentrale Amerika versprei. Hy wag tans bestellings in.

Foc TR4 het bykans 30 jaar gelede in Cavendish-uitvoerplantasies in Maleisië en Indonesië kop uitgesteek. Dit het soos ’n veldbrand na ander wêrelddele, onder meer Suidoos- en Suid-Asië, die Midde-Ooste en Afrika, versprei.

“Panama-siekte is ’n groot bron van kommer vir die internasionale piesangbedryf. Dit knou produsente se winsgewendheid en die wêreldwye piesangbedryf se sukses,” lui ’n verklaring deur Du Roi-laboratorium.

Formosana word reeds in Taiwan, Mosambiek en Filippyne op kommersiële skaal verbou.

“Kommersiële proewe in Mosambiek en die Filippyne het getoon Formosana bied aansienlik meer weerstand teen FOC TR4 as ander bekende kultivars soos Grand Nain en Williams.”

Du Roi se veldproewe in Suid-Afrika, waar die kultivar onder subtropiese toestande ondersoek is, het ook goeie resultate opgelewer. Me. Suné Wiltshire, hoofbestuurder van Du Roi-laboratorium, bestempel Formosana se weerstand teen FOC TR4 as intermediêr.

“Dit toon minder ernstige simptome of skade as ander vatbare kultivars wat onder dieselfde omgewingstoestande en inokulumdruk groei. Die gebruik van ’n kultivar soos Fromosana moet deel uitmaak van ’n geïntegreerde benadering om die siekte te bestuur.”

Sy sê een van die groot voordele van Formosana is dat die vorm en smaak van die piesang aan uitvoermarkte se standaarde voldoen.

“Ons sien uit daarna om produsente wie se plantasies deur FOC TR4 verwoes is, te ondersteun om dit met Formosana te herplant. Die potensiaal is daar om goeie opbrengste te behaal, ten spyte van grond wat deurtrek is met FOC TR4.”

Du Roi-laboratorium verskaf jaarliks sowat 8 miljoen piesangplante aan 25 lande reg oor die wêreld.

Kontakbesonderhede: Besoek www.ruroilab.co.za of info@duroilab.co.za.