Dit volg nadat Du Roi-laboratorium op Letsitele die regte verkry het om die kultivar Formosona, wat aan die Taiwanese piesangnavorsingsinstituut (TBRI) behoort, in die veld te toets en te kommersialiseer.

Die TBRI het jare lank navorsing gedoen om met ’n alternatief vir die kultivar Cavendish wat teen FOC-TR4 weerstand bied, vorendag te kom. “Dis ’n betekenisvolle deurbraak vir die internasionale piesangbedryf, want Formosona is kommersieel bewys om weerstandbiedend te wees teen FOC-TR4, wat deur grondgedraagde fungus veroorsaak word,” sê me. Suné Wiltshire, algemene bestuurder van Du Roi-laboratorium.

Panamasiekte is ’n Fusarium- verwelking wat by piesangs voorkom. Formosona het in die Filippyne en Mosambiek getoon dit kan Fusarium die hoof bied, sê dr. Agustin Molina, internasionale tegniese konsultant by die TBRI.

VERHOUDING

Du Roi het ’n ooreenkoms met die TBRI gesluit om Formosona in sekere lande in Afrika, Sentraal-Amerika en Suid-Afrika te toets en kommersialiseer. Cavendish, wat weerstand bied teen stam 1 van Panamasiekte, is ontwikkel nadat stam 1 van Panamasiekte die kultivar Gros Michel in die 1950’s in Sentraal-Amerika uitgewis het. Cavendish bied egter nie weerstand teen FOC-TR4 en die subtropiese variasie (FOC-STR4) van Panamasiekte nie.

Formosona sal in fases by die Landbounavorsingsraad se gerief vir groente en sierplante in Pretoria aankom. Dit sal ’n ruk in kwarantyn deurbring. Daarna sal dit na Du Roi-laboratorium geneem word, van waar dit na internasionale vennote versprei sal word vir kommer- siële proewe. Moedervoorraad sal ook in die Du Roi-moederblokke geplant word.

Dr. Viresh Ramburan, hoof-uitvoerende beampte van ANB Investments (Du Roi-laboratorium se houermaatskappy) sê hulle heg baie waarde aan die verhoudings wat hulle die afgelope jare met die TBRI opgebou het. Du Roi-laboratorium se weefselkultuurgerief produseer jaarliks sowat 8 miljoen piesangplante wat na 25 lande uitgevoer word.