Dié prys is twee weke ná die toekenningsplegtigheid, wat einde Augustus op Bonnievale plaasgevind het, aangekondig. Die SA Jongwynskou is die oudste wynskou ter wêreld.

Flagstone Wyne van Somerset-Wes het die Generaal Smuts-trofee vir die algehele SA kampioen-jongwyn ingepalm tydens die toekenningsgeleentheid in Augustus. Die Pietman Hugo-trofee vir die hoogste punte met vyf inskrywings is aan Badsberg-wynkelder naby Worcester oorhandig.

Danksy ’n nuwe vennootskap tussen die organiseerders van die kompetisie en Porex, ’n verskaffer van masjinerie en wynmaakprodukte aan die wynbedryf, kry die wenners nou die kans om Duitsland in November ses dae lank te besoek. Hulle sal onder meer ’n gismaatskappy, filtrasie-aanleg en verskeie wynkelders besoek. Die internasionale BrauBeviale-skou in Neuremberg is ook deel van die reisplan.

“Die verteenwoordigers van Porex wat die glansryke galadinee op Bonnievale bygewoon het, was so beïndruk dat hulle met die voorstel vir so ’n borgskap vorendag gekom het,” lui ’n mediaverklaring.

Volgens mnr. Lionel Dickens, besturende direkteur van Porex, strek dit tot almal se voordeel om die wenner-wynmakers oorsee te neem.

Mnr. Christo Pienaar, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Nasionale Wynskouvereniging, sê die borgskap bevestig watter waarde die Jongwynskou vir die bedryf inhou.

“Met ondersteuning van dié aard word daar inderdaad sterk brûe gebou tussen die bedryf en die verskaffers.”

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op WhatsApp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.