Daar is beduidende druk op verkope op varsproduktemarkte landwyd. Volgens mnr. Deon van Zyl, handelshoof van Grow Markagentskap-groep, gewaar hulle dit in vergelykende syfers. 

“Verkope aan die begin en einde van die maand is steeds relatief gesond. Die normale middelmaand-insinking is egter dieper as normaal en hou langer aan as normaal. Dis duidelik dat die ekonomie onder druk is. Verbruikers se besteebare kontant is minder of hulle bestee dit versigtiger.”

Aartappels is tans die uitsondering op hierdie neiging. Volgens mnr. Dawid Nel van Grow, BothaRoodt in Johannesburg verkoop groot Mondial-aartappels van goeie gehalte tans flink teen R50 tot R60 per 10 kg-sakkie. “Ons ervaar ’n goeie vraag reg oor die spektrum van groottes en grade. Die aartappelmark is tans gesond.”

Daar word daagliks steeds meer as 350 000 sakkies aartappels op die markte verkoop en volgens Nel is die verkope op die Johannesburgse mark baie flink.

“Die kopers is tevrede en doen graag sake teen die huidige prys. Ons verkoop gemaklik 150 000 tot 200 000 sakkies per dag.

Hoër pryse teen Junie

“Boere in die Oos-Vrystaat behoort binne die volgende twee weke klaar te wees met hul oes en die vroeë aanplantings uit die Christiana-streek wat baie reën in Desember en Januarie gekry het, behoort ook eersdaags klaar te maak. 

“Ons glo dus die gehalte op die mark behoort goed te wees teen middel Junie, wat hoër gemiddelde pryse tot gevolg kan hê.” Van Zyl glo nie dat ’n prys van R100 per 10 kg-sakkie vanjaar behaal sal word, soos wat in 2020 die geval was toe Limpopo se aartappelprodusente erge skade weens koue ervaar het nie.

Mnr. Willie Jacobs, uitvoerende hoof van Aartappels Suid-Afrika, is optimisties dat aartappels se aansien as bekostigbare, voedsame stapelvoedsel oor die afgelope 6 tot 18 maande versterk is. 

“Sedert Januarie word effens meer aartappels verkoop as in die ooreenstemmende tyd in ander jare. Die aanbod is hoog, maar die aanvraag is ook goed. Mei se verkoopsvolumes (op die mark) was heelwat laer teenoor ander jare, wat bydra tot ’n hoë prys. ’n Rede vir die laer verkoopsvolumes is die meer direkte bemarking vanaf plase. Sommige produkte beland dus nie op markte nie. Die gemiddelde prys sedert Januarie tot laas week is die tweede hoogste die afgelope vyf jaar.” 

Hierdie prys sluit die hoë prys tydens die droogte van 2015-’16 in toe uiters lae volumes die prys na rekordhoogtes laat styg het.

Groenteprys bly onder druk

Ander groenteboere trek tans swaar aan lae pryse en trae verkope. Wortels en uie sukkel om by R4,50/kg verby te kom, terwyl tamaties se prys tot ver onder R10/kg gedaal het. Volgens Van Zyl is uie se nasionale volume reeds laer as in die ooreenstemmende tyd verlede jaar, maar die prys bly onder druk. 

“Die uie-produsente-organisasies het verwag dat die prys nie veel gaan styg nie en tans beweeg die prys op dieselfde of selfs laer vlakke as verlede jaar. Tamaties het reeds teen middel Mei deur die R20/kg-vloer geval en in week 22 tot selfs laer as R10/kg gedaal. Teen die huidige volume met die tekens van goeie produksievolumes lyk dit nie of ’n wesenlike prysverhoging in die nabye toekoms moontlik is nie.”

Volgens mnr. Louis de Rocha van Rocha Broers-boerdery wat by Delmas met blomkool en broccoli boer, ervaar hulle ook baie druk op die prys tans. 

“Daar is hoë volumes broccoli en blomkool op die markte danksy die goeie weer. Dit plaas beslis die prys onder druk en daarbenewens is verkope stadiger as ander jare.”