Gerhard Meyer, ’n entrepreneur van die Paarl, het as jong seun graag by sy oupa Sias en ouma Lilly op die plaas Langverwacht gaan kuier. Sy oupa het met mielies, lusern en volstruise geboer, maar Gerhard vertel die boerdery was meestal ’n oorlewingstryd. Toe sy pa, Mannie, die plaas erf, het hy dit verhuur en sy loopbaan as skoolhoof uitgebou. Hy het wel ná sy aftrede op ’n klein lappie van die plaas geboer – ook met lusern en volstruise.

Toe hy in 2006 sterf, moes die twee broers, Gerhard en Herman, besluit wat om met die plaas te doen. Gerhard het geweier om kundiges se woord te aanvaar dat die grond nie geskik vir enige gewasse is nie. Saam met sy besluit om sy broer se deel te koop en te gaan boer, het hy besluit om Langverwacht te herdoop.

“Celebratio beteken om goeie tye en herinneringe te vier. Ek wou hê dit moet die plaas se leuse word en terselfdertyd die Meyers wat die plaas in die familie behou het, eer, ondanks al hul gesukkel.”

Gerhard het besluit om nie soos sy oupa en pa te boer nie en het in 2006 na Israel gereis waar hy plase besoek het, met boere gesels het en baie inligting ingewin het. Reeds voor sy vertrek het hy besef hy moet wetenskaplik te werk gaan, daarom het hy die streek in die suide van Israel wat ’n ooreenstemmende mikroklimaat as Celebratio het, besoek. Die grond en water was ewe brak – presies soos dit waarmee hy te doen het.

“Ek het besef water gaan my grootste probleem op die plaas wees,” vertel hy. Hy het vyf keer vir water geboor en elke keer brak water raakgeboor. Omdat Celebratio in ’n waterskaars gebied val, is gereelde besproeiingsregte ook nie gewaarborg nie.

’n Ou Israeliese boer se raad het Gerhard se lewe verander: “Boer jy met Bybelse vrugte, kan jy nooit verkeerd gaan nie.”

Gerhard het op granate besluit, want dit lewer ’n puik opbrengs per liter water en die bome kan heelwat brak in die grond én water verduur. Dit het ook hoë uitvoerwaarde. “As een van die wêreld se supervrugte, groei die vraag daarna elke jaar. Slegs 5% van wêreldproduksie is in die Suidelike Halfrond, wat reuse-geleenthede skep vir toekomstige uitbreidings.”

Die Wonderful-kultivar is wêreldwyd gesog vir sy groot, soet vrugte. Dié kultivar is in Israel ontwikkel en dus geskik vir die dorre Klein-Karoo-klimaat.

Behandelde brak water

Terug by sy hotel in die Paarl het Gerhard heel toevallig ’n membraan-tegnoloog ontmoet wat konsulteer op ontsouting deur omgekeerde osmose. Gerhard het die moontlikheid ontgin en ’n ontsoutingsaanleg op die plaas opgerig, wat gebruik sou word as geen vars water beskikbaar is nie. “Dit is steeds die enigste ontsoutingsaanleg wat vir boerdery aangewend word in die Klein-Karoo,” vertel hy.

Hy kan 60 000 liter water per uur ontsout. Die ontsoutingkoste beloop sowat R25 000 per hektaar per jaar. “Dit is ’n koste waarmee jy vrede maak, want die alternatief was om nou en dan vloedbesproeiing met lusern te doen. Selfs teen die hoër waterkoste is dit steeds ’n aansienlike beter opbrengs per hektaar. Die kapitaalwaarde van die plaas is boonop veelvuldig verhoog.”

Hy het ook ’n dam – teen almal se raad in – met ’n houvermoë vir 150 000 m3 water gebou. Die doel is om leibeurt-water, wanneer dit wel beskikbaar is, op te berg en oor ’n langer tyd deur middel van drupbesproeiing doeltreffender aan te wend. Die algemene gebruik in die omgewing is steeds vloedbesproeiing.

Die plaas het sy eie pakhuis, waar hy ook ander boere se granate verpak. Foto: VERSKAF

Swak grond word bate

In November 2008 – midde-in die ergste droogte in 66 jaar in die streek – het hy 10 ha Wonderful-granate geplant. Boonop op die deel van die plaas waar die grondontledings die swakste was. Hy moes geheel en al op ontsouting staatmaak om die klein boompies te laat oorleef.

“Saam met Oupa Vermeulen, ’n landboukundige, het ons die plaas se swakste grond omskep in goeie grond. Ek glo as jy dit kan laat werk in die slegste grond op die plaas, kan dit net beter gaan vandaar.”

Vermeulen, wat toe by Klein Karoo Agri gewerk het, het ’n program ontwikkel om die grond se tekortkominge mettertyd reg te stel. “Die afgelope twee jaar gebruik ons minder kunsmis en chemikalieë. Ons gebruik hoofsaaklik mikrobes om grondgesondheid te herstel en natuurlike middels en wespes om siektes in die boorde te bestry,” verduidelik Gerhard.

Saam-saam het hulle grond omgedolwe en tonne gips is uit Pretoria aangery en organiese plantmateriaal, soos verrotte bale, is van die plase in die omgewing gekoop en ingewerk. Riwwe is gestoot waarop die boompies geplant is en boombas rondom die boompies hou die grond klam en help om mikro-organismes te laat terugkeer.

Binne twee jaar was die erdwurms terug en die eens barre aarde weer vrugbaar. “Dit is ’n voortdurende proses en my span werk ongelooflik hard om dit stabiel te hou.”

Hy verduidelik voorts dat hulle vir elke hektaar op die plaas ’n vogmeter geïnstalleer het om optimaal te besproei. Hulle maak ook seker dat die wortels alle voeding en water in die boonste 40 cm van die grond ontvang sodat daar geen rede is vir die wortels om dieper in die brak grond te moet groei nie.

In 2010 het hy nog 20 ha granate aangeplant, gevolg deur 2 ha in 2014 en 15 ha in 2015. Graeme Coomer van Maxi-Yield staan deesdae vir Gerhard by met grond- en boomversorging.

Gerhard Meyer is die derde geslag wat op die plaas boer. Hy het egter vanuit die staanspoor besluit hy gaan nie só sukkel soos sy voorgangers nie, en het dus ’n ander aanslag gevolg.

Eie handelsmerk vir gehalte-granate

Om sover moontlik beheer oor die waardeketting te behou, het Gerhard in 2017 ’n pakhuis en koelkamer gebou waar hy ook namens ander boere in die Karoo kan pak (daar is tans ’n ander boer wat met 6 ha granate boer).

“Ons het ’n nuwe handelsmerk geregistreer om die Oudtshoorn-omgewing se eiesoortige, hoëgehalte granate as ’n premieproduk uit te voer. In Augustus vanjaar gaan ek en vyf boere van Oudtshoorn ’n verdere 200 ha Wonderful-boorde in die omgewing vestig. Dit sal onder die Karoo Wonderful Pomegranates-handelsmerk bemark word. Onderhewig aan die uitslag van ’n waterbeskikbaarheid-studie, is die beplanning om nog 600 ha boorde te vestig. Ons doel is om Oudtshoorn as Suid-Afrika se granaatmekka te vestig.”

Die pakhuis is Global Gap-gesertifiseer en skep jaarliks 70 tydelike poste in ’n gebied wat weens die droogte groot druk op die volstruisbedryf plaas en tot hoë werkloosheidsyfers lei.

Vanjaar het hy matrikulante van die dorp gewerf om te help oes. Só word jong mense aan die oes-, pak- en versappingsproses blootgestel. “Met die nuwe aanplantings wat kom, moet ons beter gekwalifiseerde – verkieslik plaaslike – werkers kry om as toesighouers in die boorde en pakhuis te werk.”

Die boerdery help met werkskepping, in ’n omgewing waar werkloosheid hoogty vier. Vanjaar het hulle matrikulante se hulp ingeroep tydens oestyd. Só wil hulle vaardighede ontwikkel vir ’n toekomstige uitbreiding van die bedryf in hul omgewing.

Toekomsplanne

Die granaatbedryf het ’n paar jaar gelede baie aandag getrek en verskeie boere het bome aangeplant, maar vandag is daar net sowat 1 000 ha oor. “Die geskikste gebiede vir toekomstige aanplantings is die warm, droë dele van die land. Baie boere het handdoek ingegooi omdat hulle die verkeerde kultivars op die verkeerde plekke geplant het en swak plantmateriaal gebruik. Daar was ook die wanindruk dat granate nie intensiewe aandag verg nie.”

Gerhard meen egter as jy gehalte-vrugte met ’n besondere kleur en smaak produseer, sal daar altyd ’n mark vir jou vrugte wees. Hy sê granaatboerdery is ’n ewige leerproses. Vir advies gesels hy gereeld met sy kontakte in Israel en vir bemarkingsinsette met Kobus Louw by Sapex.

Hy het in 2017 plaas toe getrek. Celebratio is deesdae ’n miernes van bedrywighede. Benewens die boerdery word musiekkonserte onder die sterre gehou, plaasverblyf aangebied en verskeie produkte gemaak en verkoop. Hy het verlede jaar granaatsap bekend gestel, en elke 500 ml-bottel bevat die sap van vier tot vyf granate.

Gerhard Meyer en Clive Gawani, die plaas se besproeiingsbeampte, in die ontsoutingsaanleg waarmee hulle brak water deur omgekeerde osmose behandel. Foto: VERSKAF

En nou maak hy reg vir die volgende geleentheid: Hy het ’n vennootskap met Sapex beklink en ’n nuwe handelsmerk, Karoo Wonderful Pomegranates, geregistreer. “Hiermee gaan ons die beste granate uit die Oudtshoorn-omgewing uitsoek om sodoende dieselfde premieprys as Chili en Peru te beding.”

Ek lees dié uittreksel uit ’n gedig van Emma Bekker:

“ ’n Granaat het nie die saghap van ’n vy nie.

“Jy moet jou vat en breek ken en weet wanneer jy ’n lem moet indruk of ’n pen moet uitruk.

“Ons verkies die outydse granate, wat met die rypwordslag oopbars en karmosyn tande wys.”

En dit klink vir my net soos Gerhard se deursettingsvermoë. Hy het sy vat en breek met brak water en grond geken en dit is met soetheid beloon.

Kitsfeite

Drie jaar nadat die bome geplant is, kan die boom begin granate dra.

Die Wonderful-kultivar is wêreldwyd die gewildste kultivar omdat dit groot en soet vrugte lewer. Dit is ’n Israeliese kultivar wat die geskikste vir die Klein-Karoo se mikroklimaat is.

In normale toestande (geen droogte of erge siektes) behoort jy binne vyf jaar wins met granate te toon.

Die grootste uitvoermark is die Europese Unie.

Blaaspootjie, witluis, valskodlingmot en Altenaria is die grootste plae wat granaatbome aanval.