Soos baie ander mense in Suid-Afrika, moes Mkabile vinnig ’n plan maak vir ’n inkomste toe die Covid-19-pandemie haar gedwing het om haar spysenieringsonderneming te sluit. Sy het haarself tot die internet gewend om te leer boer.

Nadat sy aanvanklik hoenders van deur tot deur verkoop het, is haar eerste spinasie in Mei vanjaar gesaai en verskaf sy nou werk aan sewe mense. Vyf van dié mense slag hoenders. Die hoendermis word as bemesting vir die spinasie gebruik. Sy gebruik sosialemedia-platforms vir bemarking en haar produkte kan via WhatsApp bestel word.

Een van die struikelblokke van haar boerdery is ’n gebrek aan besproeiing. Die spinasie word tans met gieters natgelei. “Die stuk grond waarop ek boer, is ook te klein. Daarom kan ek nie soveel produseer soos wat ek graag sou wou nie,” sê sy.

Lucia Mhlanga is een van haar sewe werknemers.
Lucia Mhlanga is een van haar sewe werknemers.

Sy sê sy ontvang tans geen hulp van die regering nie en dat opkomende boere meer staatshulp moet ontvang. Nog ’n kwessie is die grondbesettings wat naby haar boerdery plaasvind en dreig om selfs die bietjie grond waarop sy boer in te sluk.

Ondanks al hierdie probleme, is haar droom om ’n kommersiële boer te word wat vrugte en groente reg oor Suid-Afrika verskaf. “Daardeur sal ek werk aan baie mense kan verskaf.”

Navrae kan op Whatsapp na 083 334 0138 gestuur word.