Hoewel bykans twee derdes van alle wyn wat in Suid-Afrika geproduseer word, wit is, verkies meer as die helfte van wynliefhebbers eerder ’n rooiwyn in hul glas.

Dít is een van die bevindinge van Hollard Insurance se eerste Great Big Wine Survey, waaraan bykans 21 000 mense deelgeneem het. Dit is verlede jaar in Junie van stapel gestuur deur die Tops at Spar Wine Show-span. Deelnemers moes oor ’n tydperk van drie maande meer as honderd vrae oor hul wynvoorkeure beantwoord.

’n Navorsingseenheid by die Noordwes-Universiteit het gehelp om die resultate te verwerk. KLA, een van Suid-Afrika se grootste verbruikernavorsingsagentskappe, en Wine Business Solutions, ’n Australiese maatskappy wat insig en oplossings bied, het ’n volledige ontleding van die inligting en praktiese aanbevelings verskaf.

“Plaaslike wynprodusente, verkopers en bedryfsorganisasies sal nou toegang hê tot verbruikersinsigte wat nog nooit vantevore beskikbaar was nie,” sê mnr. Andrew Douglas van die Tops at Spar Wine Show-span.

WYN AS BELONING

Luidens die verslag moet wynprodusente uit die staanspoor besluit op watter mark hulle wil konsentreer en dan seker maak hulle weet wat vir dié verbruikers belangrik is wanneer hulle wyn koop. Dit moet deurskemer in bemarkingstrategieë en die posisionering van handelsmerke.

Wynprodusente moet ook verstaan hoekom verbruikers wyn drink. Altesaam 75% van die deelnemers het aangedui hulle voel “vry” wanneer hulle ’n glas wyn geniet.

Onderskeidelik 69% en 63% van die deelnemers het aangedui wyn is ’n beloning ná ’n moeilike dag by die werk, of dit wek die indruk dat hulle tyd vir hulself het. Die meeste mense geniet dus om basies dieselfde redes wyn. Bemarkingsveldtogte kan hiervolgens ontwikkel word.

DROOG VERSUS SOET

Luidens die verslag meen die meeste van die deelnemers – meer as 80% – dat wyn nie net vir spesifieke mense of spesiale geleenthede bedoel is nie. Die meeste, sowat 76%, het aangedui dat wyn ’n gewone maaltyd meer besonders kan maak.

Nog ’n bevinding in die verslag is dat daar ’n verband bestaan tussen deelnemers se inkomste en die wynstyl wat hulle verkies. Terwyl 81% van hoërinkomstegroepe droë wyn verkies, verkies 32% van laerinkomstegroepe soet wyn. Mans is meer geneig om droë wyn te verkies as vroue.

Die verslag beveel aan dat wynprodusente hul produksie moet aanpas by verbruikers se voorkeure, veral ten opsigte van die voorkeur vir rooiwyn. “ ’n Groter klem op gesogte rooiwyn sal die hele bedryf help omdat baie markte in Asië en die ontwikkelende wêreld rooiwyn verkies.”

Kultivarneigings moet ook in ag geneem word. Hoewel Merlot ’n gewilde keuse in Suid-Afrika bly, neem die gewildheid daarvan in ander markte af.

Wat witwyn betref, dra Chardonnay en Sauvignon blanc die kroon. Sauvignon blanc is in die meeste groot markte die topkeuse vir verbruik op die perseel (soos restaurante). Dit is ook die geval in Suid-Afrika, waar 59% van die deelnemers aangedui het hulle drink gereeld Sauvignon blanc en 49% Chardonnay.

Luidens die verslag moet Pinot gris en Pinot grigio, Chenin blanc, Italiaanse kultivars, Pinot noir, Shiraz, Cabernet sauvignon en versnitte – rooi en wit – verder uitgebou word.

Topfaktore wat oorweeg word tydens wynaankope volgens die maandelikse huishoudelike inkomstegroepe (%)

ERVARE EN NUWE VERBRUIKERS

Nog ’n geleentheid is om ervare wynverbruikers aan te spoor om meer keurwyne te koop. Wynplase se direkte bemarkingstrategieë, lojaliteitsprogramme en wyngeleenthede is belangrike hulpmiddels.

Nuwe verbruikers moet egter ook betrek word. “Deur alles vars en aanloklik vir die ontluikende, jonger mark te hou, sal jy ook die meer volwasse mark betrek. Almal van ons wil jonk bly.”

Ervare verbruikers is ook meer geneig om hul wynaankope te beplan. Daarom kan wynplase nie staatmaak op bemarking in winkels nie. Wyntoerisme as ’n bron van bewusmaking is waarskynlik ook net doeltreffend vir ervare verbruikers. Wyngeleenthede is egter vir alle verbruikers relevant.

Die verslag beveel aan dat wynplase digitale bemarking en innemende inhoud moet gebruik om nuwe verbruikers te betrek en hulle aan te spoor om meer ervare verbruikers te word.

Kos-en-wynpassings is nog iets wat die wynbedryf nie na behore benut nie. “Daar was ’n groot toename in kos-en-wynbedrywighede danksy televisie-leefstylprogramme, maar dit word nie gesteun deur grootskaalse media-inhoud van wynprodusente en kleinhandelaars nie. Dit is veral die geval vir verbruikers in die laerinkomstegroepe, waarvan 36% met wyn te doen kry deur resepte en kos-en-wynpassings.”

KULTIVAR BELANGRIK

Die opname het bevind verskillende faktore speel ’n rol wanneer laer- en hoërinkomstegroepe ’n wyn kies. Vir laer inkomstegroepe is verpakking belangrik, terwyl hoërinkomstegroepe eerder kyk na die kultivar, oorsprong, eerbewyse en aanbevelings.

Sowat 70% van die deelnemers het aangedui hulle kyk na die etiket agterop die bottel wanneer hulle ’n wyn kies, maar verskillende inkomstegroepe soek na verskillende inligting. Terwyl laerinkomsteverbruikers na die alkoholinhoud kyk, kyk hoër inkomsteverbruikers na kultivars.

Net minder as die helfte van laerinkomsteverbruikers het aangedui dit sal beter wees as elke bottel wyn in sy eie boks was. Bemarkers in Asië het gevind dit bevorder die gebruik om wyn as ’n geskenk te gee.

Dit is wel kommerwekkend dat minder as 40% van die deelnemers ’n voorkeur het oor die streek waar die wyn vandaan kom. “Dit dui op ’n groot strategiese kwessie vir die Suid-Afrikaanse wynbedryf. In ander nuwe wynproduserende lande is die streek waarvandaan die wyn kom, net so belangrik as die kultivar. In Europa is dit belangriker as kultivar.”

Daar is geen twyfel dat glasbottels steeds bo ander verpakkingsmetodes, soos plastiekbottels en blikkies, verkies word nie.

AANLYN VERKOPE

Wat aanlyn verkope betref, is laerinkomsteverbruikers tevrede om wyn aanlyn te koop by drankwinkels wat aflewer (65%), afleweringstoepassings (47%) of groothandelaaraflewerings (33%). Hoërinkomsteverbruikers sal egter meestal by die kelder self koop (62%), aanlyn by die kelder (55%), of by ’n wynklub (28%).

Die grootste rede waarom verbruikers verkies om nie aanlyn te koop nie, is die gebrek aan ’n visuele en tasbare ervaring en omdat die wyn nie geproe kan word nie.

Die verslag beveel aan dat wynplase ’n standaardheffing vir aflewering vra, en slegs gratis aflewering aanbied as ’n manier om ander produkte, soos duurder wyn, aanlokliker te maak. Nog ’n aanbeveling is dat tegnologie ingespan moet word om ’n wêreldklas- aanlyn ervaring vir klante te bied.

Nóg ’n opname word vir volgende jaar beoog.

Wynprodusente en ander belanghebbendes in die wynbedryf word genooi om deel te neem aan Tops at Spar Wine Show en Noordwes-Universiteit se opname oor die impak van die Covid-19-drankverbod op die bedryf. Dit kan by https://bit.ly/3i0222P voltooi word.

Wat sê die bedryf?

Me. Marisah Nieuwoudt, wyntoerisme-bestuurder by Vinpro:

Me. Marisah Nieuwoudt, wyntoerisme-bestuurder by Vinpro:

Die eerste Great Big Wine Survey-verslag bevat waardevolle insigte vir die wynbedryf ten opsigte van segmentering van die mark, verbruikersgedrag en voorkeure. Een van die groot neigings van 2020, grootliks uit noodsaak weens die Covid-19-pandemie, is die versnelde digitalisering van verskeie dienste.

Aanlyn verkope van wyn het wêreldwyd skerp gestyg. Uit erkenning vir hierdie geleentheid het Vinpro ’n reeks werksessies aangebied om ons wynkelders toe te rus om direk aan die verbruiker wyn te bemark en te verkoop.

Mnr. Phillip Retief, besturende direkteur by Van Loveren:

Mnr. Phillip Retief, besturende direkteur by Van Loveren:

Aanlyn verkope was beslis een van die groot wenners tydens veral die geslote handelstydperk vir alkohol. In ander lande waar alkoholverkope nie verbied is nie, was daar wel ook groei. Ons eie groei in aanlyn verkope is dus tweeledig, en dit is ook duidelik te sien in die algemene afplatting in dié verkope die afgelope drie maande. Aanlyn verkope is wel hier om te bly en ’n belangrike kanaal vir enige wynhandelsmerk.

Die integriteit van jou groothandel- en kleinhandelkanale is wel belangrik en dit moet beskerm word. Dit blyk ook dat ’n groot persentasie verbruikers eerder vir spesiale aanlyn aanbiedinge wag en slegs dan koop, as om net die gerief daarvan te benut.

Mnr. Dennis Matsane, kommunikasiehoof by Distell:

Die insigte en temas in die opname stem ooreen met wat ons in die bedryf waargeneem en ervaar het. Ons het ook gevind dat aanlyn wynverkope nie so vinnig gegroei het soos ander drankkategorieë nie. Dit dui op ’n aantal nuanses wat wynverbruikers se gedrag betref, wat aansienlik verskil na gelang van onder meer die prysklas, grootte en tipe van verpakking.

Hoewel aanlyn wynverkope stadig groei, bly die koop van wyn ’n sensoriese en emosionele ervaring. Daarom verwag ons dat ’n groot deel van wynverkope steeds tradisionele kanale sal volg.