Sitrusleprose-N (CL-N) is in April in die Sondagsriviervallei opgemerk. Tans word vier persele van altesaam 60 ha wat uit ongeveer 50 boorde bestaan, geraak.

Die virus wat die siekte veroorsaak, is deur polimerase-kettingreaksie (PKR) bevestig, het mnr. Wayne Kirkman, navorser en koördineerder van biosekerheidbedrywighede by Citrus Research International (CRI), tydens die tiende sitrusnavorsingsimposium in die Drakensberge gesê.

“Dis nog nooit vantevore in Suid-Afrika aangemeld nie, hoewel daar aanduidings is dat die virus waarskynlik al geruime tyd in sekere orgideë teenwoordig kan wees. Ons beskou dit op die oomblik as ’n kwarantynsiekte. Bewusmaking is nou baie belangrik sodat mense die simptome betyds raaksien, want met vroeë waarneming is dit moontlik om die siekte uit te roei,” sê Kirkman.

Die siekte word deur die platmyt (Brevipalpus californicus) oorgedra.

Wat is sitrusleprose?

Sitrusleprose is een van die oudste sitrussiektes bekend. Dis die eerste keer vroeg in die 1900’s in die Amerikaanse deelstaat Florida aangemeld en later ook in Suid-Amerika.

Daar bestaan twee tipes sitrusleprose. Die een is ’n sitoplasmiese tipe, wat Brasiliese boere in 2010 sowat VS$80 miljoen uit die sak gejaag en ongeveer 34% van hul produksiekoste uitgemaak het. Die minder aggressiewe nukleêre tipe is in Suid-Afrika aanwesig. Die simptome van CL-N, wat gemiddeld 30 dae ná besmetting kop uitsteek, sluit in nekrotiese, gesonke bruinswart wonde op die oppervlak van die vrug. Op groener vrugte is ’n geel kring rondom die nekrotiese merke sigbaar. Die geel kring is ook sigbaar op blare en bruin vrat-agtige letsels verskyn op die takke. In erge gevalle sal vrugte afval.

Kirkman sê ’n boer het die beste kans om die simptome op vrugte te sien as hy in die middel van die boom kyk, daar waar spuitbedekking waarskynlik minder doeltreffend is.

“Die spesifieke vektor is Brevipalpus californicus, een van die dominante Brevipalpus-spesies in die Oos-Kaap,” sê Kirkman.

Lemoene is beter gashere as suurlemoene, pomelo’s, mandaryne en hibried-sitruskultivars, wat meer verdraagsaam is. ’n Ander belangrike gasheer is orgideë.

Reaksieplan

Kirkman sê die bal het vinnig begin rol nadat CL-N geïdentifiseer is. CRI het die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye van die siekte in kennis gestel en ’n advieskomitee het ’n reaksieplan saamgestel. 

“Dis moontlik om die siekte uit te roei, omdat die nukleêre vorm van die siekte minder aggressief is en omdat die myt self oor kort afstande beweeg. Die siekte is nie sistemies nie en kan ook nie aan die volgende geslag myte oorgedra word nie. Amerika was die eerste land wat die siekte beskryf het. Hoewel daar steeds platmyt-spesies is, is dit nou vry van sitrusleprose. As die reaksieplan korrek toegepas word, sal die siekte uitgeroei word.”

Die reaksieplan sluit in ’n verbod op die verwydering van blare en takke vanuit besmette boorde, die bestryding van myte en onkruid, die was van vrugte voor vervoer na die pakhuis en ’n verbod op verdere boordbesoeke op die dag wanneer iemand in ’n besmette boord was.

“Ons gebruik ’n kleurkode-stelsel: Rooi 1-boord is waar CL-N deur PKR geïdentifiseer is. Streng maatreëls geld in hierdie kategorie. Indien daar vir ses maande geen simptome of besmette myte waargeneem is nie, kan die boord as Rooi 2 geklassifiseer word. Die vereistes vir Rooi 2 is minder streng as vir Rooi 1. Monitering is steeds nodig en indien geen simptome of myte vir ’n verdere ses maande waargeneem word nie, kan ’n Rooi 2-boord as Rooi 3 geklassifiseer word. Ná 24 maande, waartydens aan al die vereistes voldoen is en geen simptome voorkom nie, kan die siekte as uitgeroei beskou word.

“Geel-boorde is boorde wat binne 50 m van Rooi-boorde geleë is. Die boorde moet ook onmiddellik vir simptome en myte ondersoek word, op dieselfde tyd as Rooi-boorde bespuit word en onkruidbestryding moet soos in Rooi-boorde toegepas word.”