Kleine Zalze was die suksesvolste produsent op vanjaar se skou met trofees in die Cap Classique- én Chenin blanc-kategorieë, asook twee silwer en sewe brons medaljes.

Die Stellenbosse produsent Trizanne Signature Wines, ’n ou bekende by die skou is, se Reserve Syrah 2018 het haar debuut gemaak en weggestap met die trofee vir die skou se beste Shiraz asook die algehele beste rooiwyn.

Nog ’n noemenswaardige wenner was Rustenberg. Die landgoed se Five Soldiers Chardonnay 2011 het die museumklas-trofee gewen, terwyl dieselfde wyn uit die 2018-oesjaar die trofee vir die beste Chardonnay (huidige vrystelling) gewen het.

Volgens mnr. Michael Fridjhon, een van die beoordelaars, is dit moeilik om die waarde wat die trofeëwynskou vir produsente inhou te bepaal.

“Sommige van die skou se wenners was bykans onbekend buiten vir ’n klein groepie aanhangers, maar sedert hulle ’n toekenning ingepalm het, het hul reputasie tot wyd buite die plaaslike mark gegroei. Dis hoe dit hoort. Die doel van ’n blinde proe is om ontdekkings te maak, waarde te vind en dit vir verbruikers en handelaars moontlik te maak om ook gehalte te onderskei.”

Die trofeëwynskou word wyd beskou as een van Suid-Afrika se mees geagte wynkompetisies. Sommige beoordelaars meen ook die beoordelingsproses is een van die taaistes ter wêreld. Beoordelaars proe in panele van drie mense en die beoordelaars moet saamstem oor die uiteindelike puntetelling. Minder as 5% van die inskrywings het tot dusver goue medaljes gewen en minder as 2% trofees.

Vanjaar is 747 wyne deur 161 produsente ingeskryf. Fridhjon beskryf dit as merkwaardig, gegewe dat die wynbedryf onder groot druk verkeer. Altesaam 21 trofees, 39 goue medaljes, 134 silwer medaljes en 412 brons medaljes is toegeken.

Weens die pandemie moes die kompetisie groot struikelblokke oorkom. Die beoordelingsdatums moes verskeie kere verander word, internasionale beoordelaars kon nie na Suid-Afrika reis nie en kelders kon nie hul wyne aflewer om geproe te word nie.

Die wenners is tydens ’n spesiale video-uitsending onthul.