Toe mnr. Attie Scholtz van Vaallus naby Douglas in die Noord-Kaap vyf jaar gelede pekanneutboorde begin vestig het om sy grond verder te benut en risiko te versprei, het hy weldra die ondoeltreffendheid van vloedbesproeiing waargeneem. Hy bedryf ’n besproeiingsboerdery wat grootliks uit die produksie van lusern, koring en mielies bestaan. Gewasse word streng volgens ’n wisselboustelsel verbou, en ’n roterende rustydperk vir landerye is daarby ingesluit.

Die pekanneutboorde is grootliks op ou wingerdgrond en uitvalgrond by spilpuntbesproeiingslande aangeplant. Die eerste twee jaar is vloedbesproeiing by die eerste jong neutbome toegepas.

Scholtz het algaande besef die vloedbesproeiing is arbeidsintensief, benodig groot volumes water en gaan gepaard met duur pompkoste. Vloedbesproeiing verg boonop meer grondbewerkings en bespuitings met chemiese onkruiddoders omdat onkruid en ander opslagplantegroei deurlopend deur algehele benatting gestimuleer word.

Ná deeglike oorweging van alternatiewe metodes van benatting het Scholtz besluit om permanente mikrobesproeiing, waar elke neutboom sy eie mikrospuit het, in alle boorde aan te lê.

Waar nuwe boorde gevestig word, word die volledige mikrobesproeiingstelsel deesdae voor die aanplant van die bome geïnstalleer. Die tussenryspasiëring van sy neutbome is 10 m, terwyl bome in die rye 8 m uitmekaar geplant word.

Volgens Scholtz is die mikrobesproeiing in vele opsigte voordelig. Dit verbeter die bestuur van boordbenatting deurdat die proses aansienlik beter gemonitor kan word. Die grootste voordeel is egter die aansienlike waterbesparing van 60% en selfs meer wat behaal word. Verdere pluspunte is verminderde pompkoste en dus energieverbruik, asook arbeid. As ’n mikrospuit nie reg werk nie, word dit gou raakgesien en kan die probleem dadelik reggestel word.

Elke boom het sy eie mikrospuit. Die doeltreffende werking daarvan kan vinnig en maklik waargeneem word.

VOORDELIGE GRONDKOMBERS

Waar boordbenatting met mikrobespuiting aanvanklik tydens Scholtz se leerkurwe van dié besproeiingsmetode vir een uur elke derde dag toegepas is, kon hy dit sedertdien nóg verder verminder. Dit word behaal deur ’n stewige deklaag van kaf of hooi by elke boom oor die grondoppervlak van die oorspronklike plantgat uit te sprei.

Dié grondkombers lei tot drasties verminderde verdamping in die bome se onmiddellike wortelomgewing. Die klam grond daaronder is met ’n oogopslag te sien wanneer dit oopgekrap word, terwyl die onbedekte grond buite die plantsone reeds kurkdroog is. Sedert dié praktyk toegepas word, is dit slegs nodig om boorde gemiddeld een uur elke 14 dae te benat, wat tot verdere krag- en waterbesparing bydra. Grondvogmetings word gebruik om boorde se benattingskedule te bepaal.

Vanweë die kompostering van die deklaag behoort ’n nuwe deklaag van kaf of hooi verkieslik jaarliks gemaak te word.

Daar is ’n merkbare vermeerdering in erdwurmgetalle onder die deklaag, wat ’n bykomende voordeel is wat grondgesondheid betref, sê Scholtz.

Algehele skoonbewerking word in die pekanneutboorde toegepas. Die wit­-geverfde stamme is deels esteties, en keer ook onder meer sonbrand wat die bas vinniger laat verouder.

SWAKKER WATERGEHALTE

Die gehalte van hul besproeiingswater, wat uit die Vaalrivier kom, het volgens Scholtz die afgelope paar jaar aansienlik swakker geword. “Hoër vlakke van opgeloste soute, chemikalieë en ander onsuiwerhede is grootliks die oorsaak daarvan.

“Omdat ons nou baie minder water met langer tussenposes by die pekanneutboorde toedien, is dit logies dat die grond op die lange duur minder deur versouting en ander moontlike nadele beïnvloed sal word. Watergehalte bly nogtans ’n bekommernis.”

’n Bykomende voordeel van die waterbesparing danksy mikrobesproeiing is dat die ekstra water nou beskikbaar is vir ander onbenutte of onderbenutte grond. Voldoende water is reeds ’n kwessie (buiten vanjaar, wat besonder nat is), en mense sal vinnig planne moet beraam om dit wat beskikbaar is, doeltreffender te gebruik, sê hy.

As bladwisselende boordgewas groei pekanneutbome ook in die winter, al word dit minder dikwels benat. Die bome gaan nie heeltemal in ’n rusfase nie. Dié groei is veral waarneembaar aan stamme, wat dan verdik.

WIT STAM NIE NÉT VIR MOOI

Die gebruik om stamme wit te verf, is enersyds esteties van aard, maar het ook werklike voordele. Dit hou die stam koel, hou miere weg en beskerm die bas teen sonbrand en gevolglik vinniger basveroudering.

Totale skoonbewerking word deurgaans in alle boorde toegepas, terwyl snoeiwerk gedurende die winter plaasvind. By Scholtz word die stamme tot taamlik hoog skoon van raamtakke gehou. Dit vergemaklik skoonbewerking in die boorde.

NAVRAE: Mnr. Attie Scholtz, e-pos: attiescholtz@yahoo.com; 082 948 2238.