Hoewel hy erken dat daar nog baie dinge is in sy besigheid wat kan verbeter, het Pieter eienskappe wat van hom ’n leier in sy gemeenskap maak, onder meer sy vermoë om ’n geleentheid te sien en dit in vennootskap met ander boere na te jaag.

Hy dien in die direksie van meer as tien besighede waarin hy meestal die beherende aandeel het. Oor die afgelope 35 jaar het hy onder streng leermeesters sy vaardighede geslyp om vandag een van die invloedrykste leiers in die sagtevrugtebedryf te wees.

Van 120 ha tot 1200 ha in 30 jaar

Sy filosofie? Raak eers ’n kenner, brei dan uit. “Ek wil die beste appelboer wees. Ek is nog nie daar nie, maar ek gaan nie ophou voor ek nie tevrede is dat daar niks is wat ek beter kan doen nie . . . en daar is áltyd iets wat jy kan beter doen,” verduidelik Pieter.

Pieter het meer as 35 jaar gelede by sy pa op die plaas aangesluit. In daardie stadium het hulle 120 ha vrugteboorde gehad. ’n Jaar later het Pieter sy eerste onderhandeling gevoer.

appels
Die oes hang belowend op Witzenberg Properties. Pieter eet, slaap en droom appels. Sy gunstelingbron van inligting is Amerikaanse appeltydskrifte waarop hy al 37 jaar lank ingeteken is. Foto: Johan van der Merwe

Dit was met sy pa, dr. David Graaff, ’n man met baie ervaring in die sakewêreld en geen groentjie met onderhandeling nie. Pieter het vir die familieplaas, De Eike, onderhandel en ’n ooreenkoms is bereik waarin Pieter die plaas by sy pa sal koop met geld wat sy pa aan hom geleen het en hy met die wins uit die boerdery moes terugbetaal.

“Voordat ek hierdie stap gedoen en die boerdery oorgeneem het, het ek vir ’n jaar saam met die plaasbestuurder rondgery en by hom alles geleer wat hy geweet het. Dit was waardevolle ervaring.”

Tegnologie van die toekoms

Hierdie ervaring en kennis het Pieter aan boord geneem om te sorg dat sy boerdery winsgewend genoeg is sodat hy dit met meer as 1 000% in oppervlak kon uitbrei oor die afgelope 35 jaar. 

Pieter meen die tegnologie wat in die toekoms ’n groot verskil sal maak, is dinge soos die fisieke struktuur van boorde en nie dinge soos kunsmatige intelligensie nie. “Hoëdigtheidaanplanting en tweedimensionele dra-strukture gaan die bepalende faktore wees.

"Die hommeltuig-tegnologie en meganisering gaan net iets beteken as dit funksioneel is in boorde. Die huidige struktuur van boorde is nie toeganklik vir hierdie tegnologieë nie,” verduidelik Pieter.

Pieter is tans die voorsitter van onder meer CFG, die vrugteverpakker op Ceres, en die vrugte uitvoerder Tru-Cape. “Samewerking verder af in die waardeketting verseker dat ons ’n beter bedingingsmag het en ’n beter diens aan aankopers kan lewer.

"Die mark is altyd reg en om as ’n groep produsente saam te staan op die mark, beteken dat beter aan die markplek se behoefte voldoen kan word. Daarom is dit tot almal se voordeel om as ’n verenigde front in die markplek teenwoordig te wees.”

Wat is in Ceres se water?

Pieter is die vyfde boer uit die distrik Ceres wat as Boer van die Jaar aangewys is. (Hy volg in die voetspoere van Jan-Linde du Toit, Robert Zulch, Bernard du Toit en Rossouw Cillié.)

“Daar is ’n sterk kultuur van dissipline wat hier heers. Ons stel baie hoë standaarde aan onsself en aan mekaar en dit geld vir produksie, vir arbeid en arbeidsverhoudinge, asook vir sosiale betrokkenheid. Ek dink dit is hoekom daar al soveel leierboere uit hierdie streek aangewys is,” sê Pieter.

Hou Landbouweekblad dop vir ’n volledige artikel oor Pieter Graaff en sy boerdery.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op Whatsapp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.