Só het mnr. John Tshabalala, hoof van Absa se verhoudingsbankdienste, tydens die virtuele aankondiging van die Absa Top-10 Pinotage-wenners gesê. Dit is die 24ste jaar dat Absa en die Pinotage Assosiasie dié gesogte toekennings oorhandig. 

“Die wynbedryf skep baie werk en lewer ’n betekenisvolle bydrae tot die gemeenskappe waarin ons leef,” het Tshabalala gesê. “Dis nie ’n geheim dat die wynbedryf ’n paar moeilike maande agter die rug het nadat wynverkope en -uitvoer vir etlike weke tot stilstand gekom het nie. Daar is hoë voorraadvlakke en prysdruk in die bedryf. In sulke tye raak gehalte selfs belangriker. Daarom vier ons graag die leier-wynmakers.”

Ongeag die taai tye het die kompetisie steeds 150 inskrywings gelok. Dit getuig van die wynbedryf se veerkragtigheid. Mnr. Beyers Truter, voorsitter van die Pinotage Assosiasie, het gesê altesaam 35 van dié wyne het meer as 90 punte ingeoes. 

“Die Absa Top-10 Pinotage-kompetisie het baie gedoen om die gehalte van Pinotage wêreldklas te maak en die pryse van Pinotage-wyne te verhoog. Die grootste verandering is egter die wynmakers se bereidwilligheid om te eksperimenteer en kennis oor te dra. Ons het nog nooit soveel regionaliteit gesien nie. Die 35 wyne kom uit tien verskillende areas.”

Volgens Truter streef die Pinotage-bedryf daarna om die “blinkste juweel in Suid-Afrika se wynkroon” te wees. 

Mnr. Abrie Beeslaar het namens die beoordelaars gesê die kompetisie is uniek deurdat die wyne oor drie dae geproe word. 

“Beoordelaars kry dus genoeg tyd om die beste wyne te selekteer. Daar is ook tien wenners, sodat dit oor Pinotage, pleks van ’n spesifieke wynkelder, gaan. Die Pinotage Assosiasie probeer die gehalte van die druif bevorder, oor alle streke en style.”

Mnr. De Wet Viljoen, ondervoorsitter van die Pinotage Assosiasie, het gesê komende Saterdag word Internasionale Pinotagedag gevier. Dit gaan gepaard met afslag en gebeurtenisse reg oor die wynland, asook spesiale aanbiedinge op Pinotage in restaurante. 

“Dis ’n internasionale dag, want hoewel Pinotage ’n plaaslike kultivar is, word dit reg oor die wêreld geplant. Die grootste aanplanting buite Suid-Afrika is in Kalifornië.” 

Die tien wyne wat vanjaar vereer is, is Windmeul Legend Collection 2018, Anura Signature Pinotage 2017, Conradie Penhill Pinotage 2019, Kaapzicht Pinotage 2018, Diemersdal The Journal Pinotage 2018, Pulpit Rock Winery Brink Family Pinotage 2018, Aan de Doorns Pinotage 2018, Delheim Veracruz Pinotage 2016, Durbanville Hills Collectors Reserve Pinotage 2017 en Beyerskloof Diesel Pinotage 2017.