Die Lobesia vanillana-mot het wynboere in die Worcester-streek vanjaar heeltemal on- kant gevang.

“Een van die boere het skade van tot 7 t/ha in ’n Chenin blanc-wingerd gemeet. As jy die prys van druiwe in ag neem, is dit groot verliese,” het mnr. Pierre Snyman, Vinpro se wingerdboukundige vir die Worcester- en Breedekloofstreek, op ’n aanlyn Vinpro-streekinligtingsdag gesê.

Hy het boere in die nabygeleë Breedekloofstreek gewaarsku om op hul hoede te wees dat die plaag nie ook daarheen uitbrei nie.

Mnr. Robert Wilsdorf, tegniese bestuurder van Viking, het gesê dié mot het al ongeveer nege jaar gelede by Bonnievale kop uitgesteek. Daar het boere tot die helfte van hul oes weens die vernietigende aard van die mot verloor. Boonop was daar aanvanklik vrese dat dit die Europese druiwemot (Lobesia botrana) is, wat verwoesting in Europese en Noord-Amerikaanse wingerde saai.

“Die boere het aanvanklik gedink dit is vrotprobleme nadat ’n paar blokke redelik ernstig deurgeloop het. Nadere ondersoek het egter die vreetskade en spinnewebbe getoon, asook die Lobesia-wurm binne die tros. In sommige trosse was daar tot tien of meer wurms,” het Wilsdorf gesê.

Hy onthou dit was “redelik chaoties”, want niemand was gereed vir dié nuwe plaag nie.

“Ons was boonop baie bekommerd, want met sy tipiese swart lyf en wit kolletjies het die wurmpie baie soos die Europese druiwemot gelyk. Van die eiers is by die Universiteit Stellenbosch (US) uitgebroei en dit het ons nóg meer bekommerd gemaak, want die mot se vlerkies het die tipiese patroontjies van die Europese druiwemot gehad. Dit is een van die grootste plae in Europa en Amerika wat wyndruiwe betref. Daarom het ons aanvanklik baie groot geskrik.”

DNS-toetse het gelukkig getoon dat die insek by Bonnievale ’n subspesie van die Europese druiwemot is. “Hulle lyk dieselfde en behoort aan dieselfde familie, maar reageer nie noodwendig dieselfde nie.”

Die spesifieke spesie wat in Suid-Afrika kom nesskop het, Lobesia vanillana, kom oorspronklik op vanieljeplantasies in en om Mauritius, Réunion en Madagaskar voor, asook in Sentraal-Afrika.

Aanvanklik het Lobesia vanillana slegs by Bonnievale voorgekom, met enkele besmettings in die McGregor-omgewing. “Toe ons egter ook by Worcester motte en skade begin kry, het ons geweet die plaag is aan die beweeg. Dit maak ons bekommerd wat die res van die wyndruifstreke betref.”

’n Projek om die Lobesia-motte in bedwang te hou, is in 2016 van stapel gestuur.

Lewensiklus

Volgens Wilsdorf kon hulle in 2016 ’n laboratoriumkolonie van die motte by die US vestig. Dié kolonie verskaf steeds baie antwoorde oor die mot en sy lewensiklus.

Hulle het bevind ’n wurmpie van sowat 1 mm broei uit drie tot vier dae ná die eier gelê is. Die wurm kan nie met die blote oog gesien word nie. Die wurm gaan deur vyf ontwikkelingstadiums en is eers sigbaar teen stadium drie of vier. In die laaste stadium ondergaan dit ’n kleurverandering en word dit tipies swart of donker, maar wit, pienk en pers wurms is ook al opgemerk.

Binne drie tot vier weke ná die eier uitgebroei het, word die papiestadium bereik. In dié paar weke voed die wurms op druiwe. Ná nege dae in die papiefase broei die mot uit en in plaaslike toestande leef dit twee tot drie weke.

“Dit duur dus 40-50 dae van eier tot eier,” het Wilsdorf gesê.

’n Wyfie lê gemiddeld 110 eiers. “As daar vroeg in die somer enkele motte in die wingerd is, kan die situasie dus baie vinnig in ’n groot besmetting ontaard.”

Hou dop van blomtyd tot parstyd

Ná verskeie toetse by Bonnievale en Worcester is Wilsdorf oortuig daarvan dat die lokaas vir karobmot die beste manier is om Lobesia-motte te vang.

“As ons kyk na ál die motte wat ons van 2017 tot vanjaar in agt wingerde gevang het, gewaar ons al so vroeg as in week 38 (einde September en begin Oktober), oftewel die begin van blomtyd, die eerste motte. Die bevolking is wel baie laer ná die winter, maar die trossies vrot en daar kom niks van nie – dit is die skade wat hulle in blomtyd aanrig.”

Daar is weer ’n spitstyd in die motte se voorkoms rondom week 48 (in November). Daar is ook groot vangste in die lokvalle van Januarie tot Maart, wanneer die meeste skade aangeteken word.

Wilsdorf beveel dus aan dat boere in September en November ingryp sodat daar nie in die somer ’n oplewing plaasvind nie.

Chemiese doodskoot

Die een geluk volgens Wilsdorf is dat chemiese middels baie doeltreffend is om die motte te bestry. Sy navorsing het ’n biologiese middel (Bt), asook indoksakarb, spinetoram en emamektien ingesluit. Die Bt-behandeling was in ’n mate suksesvol, maar die besmettingskoers was steeds hoog.

“Ons het uitstekende resultate gekry met indoksakarb (’n bekende handelsnaam is Steward®, reg.nr. L8435, Wet 36 van 1947) en spinetoram.”

Vanjaar is emamektien (’n handelsnaam is Warlock, reg.nr. L9872) ook op die proef gestel, en dit het goed gewerk. “Dit wys chemiese behandeling werk gelukkig goed, maar boere moet weet wanneer om dit toe te dien en watter produkte om te gebruik.”

Sy aanbeveling is om vroeg in die seisoen (September) indoksakarb, wat ’n lang onthoudingstydperk het, te spuit. In November kan dit met spinetoram en emamektien, wat korter onthoudingstydperke het, opgevolg word. Die plaag is dan hopelik in só ’n mate in die kiem gesmoor dat daar nie probleme in Januarie tot Maart opduik nie. Indien motte wel opgemerk word, kan spinetoram of emamektien weer gespuit word.

“Die produsente by Bonnievale wat hierdie strategie volg, kon die veldbevolking tot dusver baie goed verminder. In die 2020-’21-sei-soen was daar nie juis ’n groot voorkoms van Lobesia by Bonnievale nie.”