Mnr. Johnathan Grieve van Avondale is nie iemand wat sommer deur stres ondergekry word nie. Nie eens toe hy verlede jaar besef die Covid-19-pandemie, en daarmee saam die inperking en die verbod op alkoholverkope, gaan nie oornag verdwyn nie, het hy moed verloor nie.

“Wat is die gesegde nou weer oor ’n goeie krisis wat nie vermors kan word nie?” sê hy laggend terwyl ons op ’n prieelryke stoep van die Kaaps-Hollandse wynproelokaal op dié biodinamiese en organiese wynplaas by die Paarl gesels.

“Eerlikwaar, ek dink die meeste Suid-Afrikaners is gehard. Dit is een van ons besliste kenmerke. As iets gedoen moet word, dan doen ons dit net.”

Of dalk is dit die manier waarop hy grootgemaak is. “Ons familie is nie skaam vir werk nie. As jy jou hande moet vuil maak, tot laat snags moet werk of vroeg moet opstaan, dan doen jy dit. Dit is ook ’n ingesteldheid. As jy iets benader asof dit die slegste dag van jou lewe gaan wees, gaan dit waarskynlik só wees. As jy egter ’n probleem raaksien, iets daaraan probeer doen en ’n oplossing soek, sal jy dit vind. Ek glo dit gaan daaroor hoe jy dinge benader en of jy eerder ’n geleentheid as ’n probleem probeer raaksien,” sê die jongste seun van mnr. John en me. Ginny Grieve, wat die plaas in 1997 gekoop het.

Covid-19 was nie die eerste slag wat dié familieplaas getref het nie. In 2000 het ’n verwoestende brand die plaas in puin gelê en Johnathan en sy familie tot die uiterste getoets. Tussen die roet en as het Johnathan egter die geleentheid gesien om ’n unieke wingerdbenadering, wat hy BioLOGIC noem, te ontwikkel.

Die brand het die Grieves op hul organiese en biodinamiese pad gelei. Grondvrugbaarheid geniet voorrang en natuurlike wyn, wat basies slegs uit gegiste sap bestaan, sonder enige byvoegings (soos kommersiële gis), word in ’n gebalanseerde omgewing gemaak.

Twintig jaar later het ’n ander soort vuurdoop op hulle gewag. Wynverkope en -uitvoer is oornag verbied weens die Covid- 19-pandemie en die deure van hul bekroonde grond-tot-bord-restaurant, Faber, moes tydelik sluit. Van ’n inkomste was daar nie sprake nie. Wie kon in Maart verlede jaar voorspel die verbod op alkoholverkope gaan uiteindelik 19 weke van die jaar geld?

“Daar was soveel onsekerheid,” onthou Johnathan dié tyd. “Een van ons grootste probleme was juis om ons personeel se onsekerhede — mense se psige — te bestuur.”

Hulle moes ook indringend na hul besigheid gaan kyk en, waar moontlik, aanpassings en veranderinge maak.

“Ons moes ons die nagmerrie-scenario voorstel, terwyl ons ’n langtermynprentjie in gedagte moes hou. Dit het ’n paar belangrike besluite geverg. As dit nie vir uitvoer was nie, het ons dit dalk nie gemaak nie. Dan sou die uitkoms nypend gewees het, nie net vir ons nie, maar ook die gemeenskap waarin ons die besigheid bedryf. Die landgoed neem sowat 70 heeltydse en seisoenwerkers uit die nabygeleë gebiede in diens.”

Die proelokaal en kelder op Avondale. Die wynplaas is, nes die res van die bedryf, swaar deur die inperking getref, maar het met innoverende planne vorendag gekom om kop bo water te hou.

Weldeurdagte besluite

Johnathan het sy bes probeer om te waak teen wat hy knee-jerk reactions noem. Avondale se etos – Terra Est Vita (grond is lewe) – geld ook vir die onderneming, en alle aspekte van die lewende stelsel moet kan floreer.

Kostebesparing was die belangrikste kwessie. Omdat die salarisrekening só ’n groot uitgawe op enige plaas is, moes hulle personeel verminder. Hulle het egter besluit om dit eerder op ’n hoër vlak in die besigheid te doen.

“Dit was moeilik, veral omdat sommige van daardie mense al langer as tien jaar by ons gewerk het, en hulle het nou met my saamgewerk. Ons het die besnoeiings beslis nie ligtelik opgeneem nie.” Sodoende kon hulle egter meer mense se poste behou.

“As ons basiese werknemers sou aflê, wat sou hulle doen? Kyk wat is die werkloosheidsyfer al en dit neem net toe. Ons het verantwoordelik gevoel, maar dit was meer as dit. Ons noem onsself graag ’n familie-onderneming, maar dit gaan nie net oor mý familie nie, maar oor ál die families wat by die plaas betrokke is.”

Boonop het hulle geglo die inperkingsregulasies sou die een of ander tyd opgehef word, en dan sou hulle weer werknemers vir die toerisme-geöriënteerde deel van die besigheid moes aanstel. “As jy egter nie iets kan verkoop nie, ís dit ’n probleem.”

Mnre. Johnathan Grieve (links) en Corné Marais, wynmaker, tussen die qvevri’s wat hulle vroeg in 2018 begin gebruik het.

nuwe idees en winkel

Dit was dus tyd om ’n paar planne wat hulle al geruime tyd gehad het, in werking te stel. Net so was dit tyd om met nuwe idees vorendag te kom, soos ’n ledeklub, eko-wynsafari’s, pieknieks en ’n wynkroeg in die tuin.

Johnathan en sy susters het al voor die grendeltyd gepraat oor die idee van ’n aanlyn winkel wat holistiese produkte verkoop. Met die grendeltyd, toe daar so ’n groot verskuiwing na aanlyn handel was, sou ’n mens dink dit was die ideale tyd daarvoor. Maar toe doen hulle amper iets ongehoords en open in Junie verlede jaar ’n winkel van baksteen en sement, die Ochra Deli op Avondale.

“Sekere grendeltydbeperkings is opgehef en ons het ’n geleentheid raakgesien om mense plaas toe te laat kom om vars lug te kry en eerder hier te koop as om na ’n winkelsentrum of groot supermark te gaan. Mense wou graag ’n veilige en holistiese ruimte besoek. Dit was ’n uitstappie, maar ook ’n geleentheid om produkte te kan koop.”

Terwyl die wynproelokaal gesluit was – en selfs nou, terwyl minder mense dit besoek – het dit werk gebied aan die personeel wat gewoonlik daar in diens geneem word.

“Dit was wonderlik om te sien hoe baie mense plaas toe kom, ook later toe Faber weer kon oopmaak. Mense het van Kaapstad af gery. Baie het erken dit is die eerste keer dat hulle dit weer buite waag en hulle is senuweeagtig, maar omdat hulle weet waaroor Avondale gaan, het hulle ons vertrou.

“Dit was dus ’n teenstrydigheid dat ons eerder ’n regte winkel as ’n aanlyn winkel begin het, maar mense het die behoefte gehad om bietjie uit te kom en ons het dit raakgesien. Ochra se aanlyn winkel – ochra.co.za – sien egter ook binnekort die lig.”

Johnathan beklemtoon hulle maak seker dat mense veilig voel en al die voorgeskrewe protokolle word gevolg.

Die goedversorgde, pragtige tuine het honderde besoekers tydens Avondale se tuindae gelok. Dit het gehelp om die handelsmerk in die publiek se oog te hou.

Bou self PERDEstalle

’n Ander idee waaraan hulle tydens die grendeltyd gewerk het, was om huurstalle vir perde-eienaars op te rig. Hul stalblok was eintlik al ontwerp, maar tydens die grendeltyd het hulle besluit om hul rieme dun te sny en eerder tydelike stalle met herwonne materiaal en plaasarbeid te bou. Tans is daar vyf stalle, ’n ry-arena en perdekampe. Sowat elf perde word daar gehuisves, met planne om dit tot ongeveer twintig uit te brei.

“Daar is ’n groot vraag na huurstalle, maar ons probeer ’n meer holistiese benadering volg. Dit is immers waarvoor Avondale staan. Die dier kom eerste en ons verskaf behoorlike weiding.”

Johnathan beklemtoon dat alles wat hulle gedoen het, goed oorweeg is en sinvol moes wees. Die laaste ding wat hy wou doen, was om projekte te begin met ’n rakleeftyd van net ’n paar maande. “Sekere idees is versnel en gouer in werking gestel, ander idees het van nuuts af ontstaan.”

Van die nuwer planne was om mense teen ’n klein bedrag te nooi om Saterdae op die plaas te kom stap. ’n Bergfietsroete word ook eersdaags bekend gestel. “Ons wou mense aanmoedig om plaas toe te kom en tyd in die natuur deur te bring. Ons hoop daar is ’n uitkringeffek, naamlik dat hulle ook wyn kom proe, by die deli aandoen of die restaurant besoek. Mense wat Avondale ken, weet waaroor die plaas gaan, hulle hou van die organiese en biodinamiese idee en die natuurlike en natuurkant daarvan. Hulle respekteer ons waardes.”

Iets wat in die droewige pandemie-jaar uitgestaan het, was die tuindae wat hulle in Oktober aangebied het. Dit was ook ’n plan waaraan die Grieves lank herkou het, maar wat hulle toe sommer binne drie weke aanmekaar gesit het.

“My familie is ywerige tuiniers. Ons het gedink ons gaan gelukkig wees as sowat 100 mense per dag opdaag oor die naweek wat ons dit aangebied het. Toe het meer as 700 mense – sonder om die kinders te tel wat saamgekom het – oor die twee dae die plaas besoek. Dit was ’n wonderlike ervaring – vir besoekers, wat in die buitelug kon wees, maar ook vir ons hele familie en al die tuiniers wat betrokke was. Ons gaan dit nou jaarliks aanbied, want die tuine is te mooi om nie met ander te deel nie.”

Die landgoed se eerste wyn wat in qvevri’s gemaak is, Qvevri Red 2019, is tydens die inperking virtueel bekend gestel. Qvevri’s is eiervormige erdehouers wat al eeue lank in Georgië gebruik word om wyn in te maak.

Voordele en beperkings

Deur bestaande infrastruktuur, ruimte, lokale en personeel op die plaas te benut, kon die familie ’n hele paar kanse aangryp om kop bo water te hou, maar ook om hul personeel in diens te hou. Johnathan dink nie een plan was suksesvoller as die ander nie, maar alles het bygedra tot die groter geheel.

“Ons het gaan kyk hoe ons alles beter kan benut om beter blootstelling te bewerkstellig en selfs inkomste te genereer sodat ons ons personeel kan betaal en die onderneming meer volhoubaar kan maak.”

Wat beperkings betref, sê hy kontantvloei bly altyd ’n kwessie.

“Jy kan die beste idees ter wêreld hê, maar jy moet dit op ’n manier kan finansier. Selfs vir die oprigting van die deli het ons nie ’n groot kapitaalinspuiting nodig gehad nie; die belegging in tyd was groter. Dieselfde met die stalle – ek en my span het dit self gedoen, sonder om ’n bouspan se hulp in te roep. Op ’n manier het dit ons nader aan mekaar gebring, want daar is niks soos ’n nuwe projek om almal te laat konsentreer nie.

“Die ander kwessie is dat jou personeel ontvanklik moet wees vir nuwe idees en bereid moet wees om daarby aan te pas. Ons het nie nodig gehad om mense op te lei in nuwe vaardighede nie. Of jy nou wyn of produkte verkoop, dit is eintlik maar dieselfde. Kennis is seker tot ’n mate ’n beperking, maar ek dink ’n mens kan deesdae maklik navorsing doen en só kennis opdoen. Of jy moet iemand vind wat jy met wyn kan betaal as jou kontantvloei knyp!”

Gaste gereed om op ’n eko-wynsafari te vertrek. Dit is een van die nuwe inisiatiewe op die plaas. Besoekers leer op dié manier van die organiese en biodinamiese prosesse en wat dit van die grond tot in die kelder verg om op Avondale wyn te maak.

wynbedryf en die toekoms

Aangesien Avondale nog altyd op die uitvoermark toegespits was – met meer as 80% van verkope wat in sestien lande buite Suid-Afrika, hoofsaaklik Europa, plaasvind – het dit die onderneming baie gehelp om wyn te skuif.

“Ons kan nie kla nie,” erken Johnathan. “Ons uitvoermark het die afgelope jaar besonder goed gevaar en ons het baie steun van ons oorsese vennote gekry, selfs in die tyd toe ons nie kon uitvoer nie. Ons moes egter hard werk vir dié markaandeel, want ons is nie op ’n hoofroete geleë wat toeriste gedurig besoek nie. Boonop is ons prys- en gehaltesegment kleiner in Suid-Afrika.”

Wynplase wat egter baie afhanklik van toeriste en die plaaslike mark is, se posisie lyk meer benard. “Eintlik het niemand ’n koeëlvaste baadjie teen dié situasie nie. Jy kan nie op jou louere rus en dink jy gaan ongedeerd hierdeur kom nie. Jy moet planne beraam, aanpas en tot ’n mate probeer voorspel wat gaan gebeur sodat jy buigsaam kan wees. Mense wat dit nie gedoen het nie, is dié wat gaan swaarkry.”

Benewens die uitvoergeleenthede het Avondale se unieke verkoopspunt as organiese en biodinamiese wynplaas die afgelope paar maande ook gehelp.

“Mense, veral van ons oorsese markte, het meer oor hul gesondheid begin nadink. Die aantal mense wat in organiese of biodinamiese praktyke belang stel, het beslis toegeneem. Ek wil graag glo dit het ’n invloed op die verkope van natuurlike wyn gehad.”

Johnathan vertel hoe hul bemarkingsaanslag verander het met dié dat internasionale grense gesluit was en hulle nie kon reis om hul wyn aan die wêreld bekend te stel nie.

“Dit was iets nuuts om proeë, vergaderings en aanbiedings op digitale platforms te hou. ’n Suksesvolle internasionale reeks proeë wat ons aangebied het, was om volgens die biodinamiese kalender wyn te proe. Mense van Europa, Amerika, Kanada en die Ooste het ingeskakel. As Suid-Afrikaners wat internasionaal meeding, kom ons baie minder in Europa as produsente uit byvoorbeeld Frankryk of Italië. Danksy die digitale wêreld is die speelveld nou meer gelyk. Dit verg egter behoorlike stories en uniekheid om nie jou gehoor te verloor nie, veral met wyn. Wyn is ’n ervaring, iets wat mense wil beleef.”

Wat die toekoms van die wynbedryf betref, sê Johnathan die bedryf is al vir baie jare in die moeilikheid. “Op ’n manier kry die boere wel altyd ’n manier om vorentoe te beur. Ek dink tog die bedryf gaan verander. Daar gaan gevolge wees, plase gaan van hande verwissel en konsolidasies sal plaasvind. Die mense wat goed is met wat hulle doen, sal egter vlieg. Jy moet net seker maak jy is aan daardie kant van die heining!”

Mnr. Dale Stevens, een van Suid-Afrika se beste sjefs, het tydens die inperking sy restaurantkombuis in ’n gemeenskapsuitreikprojek omskep, waar hy en sy span maande lank tot duisend maaltye per dag vir behoeftige mense gekook het.

‘Deur te gee, het ons SOVEEL gekry’

Die wynbedryf is swaar deur die Covid-19-pandemie getref, maar steeds het wynkelders soos Avondale kans gesien om ’n helpende hand te verleen.

“Daar is baie mense wat geen kos of inkomste gehad het nie. Daar was min hoop vir hulle en hulle was afhanklik van gemeenskapsprojekte vir kos,” sê mnr. Johnathan Grieve van Avondale.

Die restaurant op die plaas, Faber — wat al op die lys van top-30 restaurante in Suid-Afrika was — se deure moes weens die inperkingsmaatreëls sluit, maar die Grieves het besluit om die mannekrag aan te wend om ’n verskil te help maak.

Hulle het hande gevat met Heart, ’n nieregeringsorganisasie, en onder leiding van sjef Dale Stevens en sy span is die restaurantkombuis in ’n gemeenskapsuitreikprojek omskep. Drie maande lank het hulle sowat duisend maaltye per dag, vyf dae van die week, berei wat deur Heart onder behoeftiges in die Paarl uitgedeel is. Heart het die bestanddele danksy skenkings verskaf.

“Dit was ’n manier om mense eerder met iets sinvols besig te hou as om in jou huis toegesluit te sit. Dit het almal se gemoedstoestand goed gedoen. Ek dink amper dit het ons meer gehelp as wat dit die mense wat die etes gekry het, gehelp het,” sê Johnathan.

Stappers wat die plaas se voetslaanroetes wou benut, moes ook ’n klein tarief betaal. Dié geld is gebruik om die gemeenskapsentrum, wat ’n crèche en nasorggeriewe vir plaaswerkers se kinders insluit, aan die gang te hou. Só kon hulle ook ’n verskil aan mense se lewe maak.

Navrae: Web: www.avondalewine.co.za; 021 863 1976.