Dit lyk soos die wit sandkorrels wat ’n mens onderin ’n vistenk sal gooi, maar wanneer Van Cotthem water op sy korrels gooi, besef jy gou hierdie is nie jou katbak of vistenk se sandkorrels nie. Dit bestaan uit spesiaal geformuleerde polimere wat water opneem en hou. Wanneer dit nat word, absorbeer die korrels die water en swel totdat dit soos okkerneut-grootte stukkies jellie lyk.

Dit is die geheime bestanddeel van die landbouproduk TerraCottem® Universal, wat boomplanters reg oor die wêreld gebruik. Dit word in die planttyd toegedien om die grond se vermoë te verbeter om water en voedingstowwe te hou. Dit verbeter ook grondstruktuur en verhoog die grond se geskiktheid vir mikrobiologiese lewe.

Die huidige Universal-produk is die oorspronklike TerraCottem-grondverbeteraar wat deur die jare verbeter is deur beter presterende polimere, bemestingstowwe en dra-materiale tot die formule te voeg. Dit bring dadelik ’n groot besparing in watergebruik en ander insetkoste, soos bemesting en arbei, mee.

Die grondverbeteringskorrels word saam met die groeimedium in die wortelsone ingemeng, waar dit die plant se wortelvorming en groei ’n hupstoot gee. Omdat die polimere water hou en soos nodig aan die plant beskikbaar stel, en aktief bly vir die volgende agt jaar, kan ’n mens in die meeste gevalle een derde (30%) van jou besproeiingswater bespaar, iets wat in Suid-Afrika se waterskaars klimaat ’n aansienlike verskil kan maak.

Deur TerraCottem toe te dien, verseker ’n boer dat enige plant wat hy of sy plant vir die eerste jaar van sy lewe genoeg kos en water sal hê om te oorleef. Dit sal ook sorg dat plante in die daaropvolgende jare die gevolge van ’n droogte sal kan verduur.

PRYS: Op aanvraag.