Dié vraag word beraam op sowat drie keer meer as wat tans op dié vasteland geproduseer word en dit lei onder meer tot invoer uit China.

Die tempo waarteen die byebevolking wêreldwyd weens klimaatsverandering, intensiewe landbou, gifstowwe en besoedeling afneem, maak dit nóg moeiliker om in hierdie vraag te voorsien. Aangesien bye die natuur se belangrikste bestuiwers is, hou dié afname ook ’n bedreiging vir die voortbestaan van verskeie plantspesies in.

Die Verenigde Nasies se Voedsel- en Landbou-Organisasie het daarom vanjaar ’n versoek tot lande gerig om ’n daadwerklike poging aan te wend om bye se voortbestaan te verseker as deel van die globale stryd teen honger en wanvoeding. 

Gelukkige bye

Mnr. Steve Joubert, ’n Suid-Afrikaanse byeboer en stigter van die AbelhaMoz-projek in Mosambiek, sê daar is ’n internasionale tekort aan suiwer, organiese heuning wat by die bron gebottel word.

Hy sê bye moet gelukkig wees in hul omgewing voor hulle heuning sal maak. “Die deurslaggewende rol wat bye in die natuur en die landbou speel, word nie altyd volkome begryp deur mense wat dié insekte eerder as gevaarlike plae as belangrike omgewingsvennote beskou nie.”

Die AbelhaMoz-projek produseer organiese heuning deur geskikte areas in die natuur te identifiseer waar heuningversamelaars heuning kan versamel. AbelhaMoz rus moderne byeboere toe om met ’n bewaringsingesteldheid te boer. “Deur nou saam te werk met gemeenskappe en byeboere in Mosambiek en bewaringsvriendelike metodes te gebruik, beoog ons om die gemak van swerms en korwe onder ons bestuur te verbeter.”

Volgens die Wêreldbank word 43% van Mosambiek se landoppervlak bedek deur inheemse woude. Dit bevat omvattende diversiteit en unieke landskappe wat in staat is om byeboerderye op kommersiële vlak in stand te hou.

heuningbye
Byeboere in Mosambiek doenig met hul byekorwe. Foto: AbelhaMoz

Meer as 80% van die heuning wat in Suid-Afrika verbruik word, word uit China ingevoer. Mnr. Wandile Sihlobo, hoofekonoom van die landbousakekamer Agbiz, sê die invoer van heuning uit China het van 20 ton in 2001 tot 3 600 ton in 2017 gestyg. 

Ingeligte verbruikers

Joubert sê dit is alombekend dat meer as 70% van die Chinese heuning wat by kleinhandelaars wêreldwyd verkoop word, nie suiwer heuning is nie. “Oor die afgelope tien jaar is enorme hoeveelhede mielie-, rys- en suikerbeetstroop met natuurlike heuning gemeng om volumes te verhoog. Die publiek is grootliks oningelig hieroor. Woorde soos ‘bestraal’, wat vervalsing en die plek van oorsprong verdoesel, en die woord ‘vermeng’ verskyn op feitlik elke bottel of fles heuning wat verkoop word. Hierdie misleiding kan slegs deur beter ingeligde verbruikers in die kiem gesmoor word.”

Die AbelhaMoz-projek, wat van 1 000 tot 1 500 korwe by byeboere bestuur, streef daarna om volhoubare vennootskappe te smee om te help om ’n teiken van 10 000 korwe teen 2023 te bereik. Laeveld Agrochem het by die projek betrokke geraak en het ’n deurslaggewende rol in die verskaffing van aanvangskapitaal gespeel.

Mnr. Corné Liebenberg, bemarkingsbestuurder by Laeveld Agrochem, sê die gemeenskapsontwikkelings- en werkskeppingsaspekte van die AbelhaMoz-projek het die maatskappy oortuig om daarby betrokke te raak.