Inwoners van hierdie gebiede het eens staatgemaak op die verkoop van pynappels vir hul lewensbestaan. Mnr. Thembinkosi Apleni, EFF-LP, wou in ’n parlementêre vraag by Didiza weet of daar enige planne is om pynappelboerdery in die gebiede te laat herleef. Groot stukke grond waar pynappels eens verbou was, lê nou ongebruik en is oorgroei.

Didiza het bevestig dat die bedryf in die gebiede gaan herleef. Die nasionale departement en die Oos-Kaapse departement van landelike ontwikkeling en landbouhervorming het reeds begin om ’n paar pynappelprojekte op ’n jaarlikse grondslag te ondersteun via die landbousteunprogram Casp en Ilima/Letsema. Die geleentheid word ook gebied om pynappelprojekte met gemengde finansiering te ondersteun. “Al hierdie inisiatiewe is daarop gemik om die pynappelbedryf te laat herleef sodat die provinsie kan bydra tot ekonomiese groei, voedselsekuriteit en werkskepping.”

Volgens Didiza is die hoofdoelwitte van die plan die volgende: die herlewing van primêre produksie deur die onderbenutte grond terug in produksie te bring; die uitbreiding van pynappelproduksie na ander gebiede wat potensiaal daarvoor het; die herkapitalisering van verwerkingsaanlegte; en die bevordering van goeie landboupraktyke en voldoening aan die voedselveiligheidsmaatreëls. 

Wat het gebeur?

Didiza sê pynappels is een van die belangrikste kommersiële gewasse wat in die land verbou word, in ag genome sy buitelandsevaluta-verdienste, werkskepping en verbintenis met ondersteuningsinstellings.

Die hoofpynappelproduseringsgebiede in die land is KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap. Die Oos-Kaap produseer meer as 75% van die pynappels in die land.

Sy verduidelik die struikelblokke wat die bedryf in die gebiede van Oos-Londen en Ngqushwa ervaar, spruit uit die sluiting van die destydse Ciskeise landbou-ontwikkelingskorporasie. Die entiteit was regstreeks betrokke by pynappelboerdery op verskeie plase in dié gebiede. Daar was egter nie geskikte programme vir vaardigheidsontwikkeling om swart boere te bemagtig toe die plase oorgedra is nie. Dit het gelei tot die ineenstorting van baie van die plase.

Didiza verduidelik die ander faktor wat gelei het tot die afname in pynappelproduksie, is die toksiese metaal, kadmium, in die sinksulfaat-kunsmis wat deur van die pynappelboere gebruik is.

’n Multinasionale kunsmisverspreider in die Oos-Kaap het ’n laekoste-sinksulfaat van Asië ingevoer wat hoë konsentrasies kadmium en lood bevat het. Hierdie komponente het die pynappels besmet en dit het meegebring dat Suid-Afrika se reputasie as ’n pynappelboer op die wêreldmark geskend is.